Is jou kind begaafd?

kinders_wiskunde.jpg

Foto: imgarcade.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Vir elke ma is haar kind die beste, mooiste en slimste, maar hoe weet jy of jou kind werklik buitengewoon begaafd is?

Begaafdheid dui op die potensiaal om te presteer, maar dit beteken nie noodwendig dat daardie potensiaal outomaties bereik word nie. Begaafde kinders moet, soos enige ander kinders, die geleentheid kry om hul talente te ontdek, te ontwikkel en uit te leef.

Volgens kenners kan ’n kind op een of meer gebiede begaafd wees. Hy kan byvoorbeeld uitsonderlike intellektuele vermoë of ’n spesifieke akademiese aanleg (bv. tale of wiskunde) hê, uiters kreatief of sportief wees, of as leier uitblink. Omdat die gebiede so uiteenlopend is, kan begaafde kinders nie oor een kam geskeer word nie.

Een of meer van die volgende kenmerke word egter dikwels by begaafde kinders opgemerk:

  • Ontwikkelingstadiums (kruip, loop, praat) word vroeër as normaal deurgedraf
  • Benodig min slaap
  • Hoë aktiwiteitsvlakke
  • Hoë graad van nuuskierigheid
  • Goeie waarnemingsvermoë
  • Fenomenale geheue
  • Buitengewoon gevorderde woordeskat
  • Abstrakte redenasievermoë
  • Kleurryke verbeelding
  • Goeie probleemoplossingsvaardighede
  • Sensitiwiteit
  • Perfeksionisme

Die beste manier om te bepaal of jou kind werklik begaafd is, is om hom formeel deur ’n opvoedkundige sielkundige – verkieslik een wat in begaafdheid spesialiseer – te laat toets. So ’n kundige sal jou as ouer ook kan help om jou begaafde kind doeltreffend te ondersteun.

Moet jou begaafde kind ’n graad oorslaan?

Begaafde kinders voel dikwels akademies verveeld en asof hulle nie uitgedaag word, wat ouers laat wonder of hul kind ’n graad moet oorslaan. Daar is egter verskeie aspekte om te oorweeg voordat so ’n besluit geneem word.

Vir sosiaal en emosioneel onvolwasse kinders, of vir kinders wat fisies baie klein is, kan dit ’n rampspoedige skuif wees wat tot ’n swak selfbeeld kan lei. Hulle mag hulle ou maats (wat nou in ’n laer graad is) mis en sukkel om sosiaal by ouer kinders in te skakel. As ’n graad in bv. die Grondslagfase oorgeslaan word, kan dit die aanleer van belangrike vaardighede beïnvloed; in die hoër grade kan kinders weer as gevolg van groepsdruk voel dat hulle dinge moet probeer waarvoor hulle nie gereed is nie. Vir kinders wat sosiaal en emosioneel gereed is vir die skuif, kan die oorslaan van ’n graad egter ’n opwindende nuwe uitdaging wees.

Alhoewel dit belangrik is om jou begaafde kind te motiveer om te presteer, moet dit nie ten koste van sy emosionele en sosiale ontwikkeling plaasvind nie. Voortaan, met die doel om jou kind volrond en gebalanseerd groot te maak, moet meer as net sy buitengewone vermoëns in ag geneem word. Skep dus gerus nuwe en uitdagende geleenthede vir jou kind, maar onthou dat sy begaafdheid nie die somtotaal van sy menswees is nie.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.