Is jou kind ʼn boelie?

Boelie

Foto: Pixabay.com

Dis sekerlik elke ouer se vrees dat sy kind geboelie kan word. Maar hoe gemaak as jóú kind die boelie is?

Maroela Media het met kundiges gesels om te hoor wat die oorsaak van dié soort gedrag is en hoe ’n mens dit kan uitken en die bul by die horings pak.

Die ontstaan van ʼn boelie

Juliana Coetzer, ʼn psigoterapeut van Pretoria, meen kinders kan moontlik boeliegedrag by die huis waarneem. “Ek wil nie graag ouers die skuld gee nie, maar kinders sien dalk konflik by die huis. Hulle voel dalk ook hulpeloos weens ʼn situasie in die huis waar die kind se stem nie gehoor word nie. Soms word kinders selfs deur ʼn ouer boetie of sussie geboelie.” Juliana sê hulpeloosheid en onsekerheid is die hoofkenmerk en “vertrekpunt” van kinders wat boelie.

Boelies teiken die “swakker kind”, juis omdat dit ʼn gevoel van mag skep. Ander kinders skaar hulle gewoonlik saam met ʼn boelie omdat hulle bang is hulle word ook ʼn teiken. “Dit is wanneer ʼn kind die besef kry van die waarde van vrees – in die opsig dat die vrees wat hy by iemand anders veroorsaak, aan hom mag gee. Dit is hoe boelies ontstaan.”

Carien Muller, ʼn spelterapeut van Pretoria, meen boelies is self die slagoffer en wil graag in beheer voel omdat hulle geen beheer in sekere terreine van hulle lewe kan uitoefen nie. Kinders wat by die huis oorheers word deur ouers wat skree of slaan, verweef dié gedrag met hóé ’n mens beheer kry. “So ʼn kind het nie begrip vir ander se gevoelens nie, juis omdat iemand nie begrip het vir sy gevoelens nie. Kinders wat boelies is, het meestal ʼn swak selfbeeld en teiken kinders wat hulle as ‘swakker’ beskou.

Vanuit sy perspektief voel hy groter en meer in beheer as hy ʼn ander maatjie se kosblik kan gryp of sy tas wegskop.

Karin Grobler, berader en ouerskapafrigter van Kaapstad, sê baie kinders word van kleins af gebrandmerk met die term “Boelie”. Omdat dié etiket om sy nek gehang word, hanteer mense so ʼn kind dan ook aggressief.

“Mense het een van drie reaksies wat vanuit die breinstam kom wanneer hulle bedreig voel – veg, vlug of vries. Sekere mense is gerat om te veg wanneer hulle bedreig voel en dit is ʼn natuurlike reaksie. Sulke kinders kan nie geblameer word nie.”

Hoe dié soort kinders hanteer word, gaan hulle gedrag verder bepaal. “Wanneer ʼn kind byvoorbeeld ʼn groot bohaai opskop (tantrum oftewel vloermoer gooi) en die ouer hom pak gee, sal so ʼn kind net kwaad word omdat hy ʼn vegreaksie het. ’n Mens beveg dus eintlik maar net geweld met geweld. Op die ou einde leer ’n mens hierdie kind: Wanneer ek wil wen, moet ek net harder kan slaan of groter skade aanrig.” Karin meen dit is ʼn breinproses en nie ʼn doelbewuste besluit nie.

Juliana meen ook dat sommige kinders nie eens besef hulle is besig om te boelie nie. “Vir hulle is dit net wie hulle is en deel van hulle persoonlikheid.” Maar dié soort gedrag moet ook verander word.

Hoe verander ’n mens dié gedrag?

Juliana meen jy moet jou kinders reeds van kleins af leer wat aanvaarbare gedrag is. “Maak ʼn reël soos: ‘Ons behandel mense met respek’.” Wanneer hy nie dié reël nakom nie, moet jy hom daarvan bewus maak. Jou kind moet ook leer dat ander mense hom met respek moet behandel, en wanneer ʼn kind hom slegte name noem, moet hy weet hoe om dit te hanteer.

Karin beaam dit en sê die manier hoe jy ʼn boodskap aan jou kind kommunikeer, is van sleutelbelang. “Wanneer ‘kwaad’ vir jou kind kom kuier, moet jy hom leer hoe om met ‘kwaad’ te maak. Jy moet jou kind van kleins af leer dat almal kwaad word, en dat dit oukei is om kwaad te word, maar dat dit nie oukei is om ʼn maatjie of homself seer te maak nie. Hy moet eerder sy kussing gaan slaan of buite toe gaan en baie hard skree.”

Carien sê ʼn kind is nie ʼn eiland nie, maar deel van ʼn groter sisteem. “Kinders doen wat aan hulle gedoen word. Ouers moet kyk wat gebeur in hulle eie huis – hoe hanteer hulle ʼn kind se ongehoorsaamheid? Word daar geslaan en geskree?” Carien sê dit maak ’n mens nie ʼn slegte ouer nie, maar jy moet kyk hoe jy met jou kind kommunikeer. Sy meen ook dat daar ʼn verskeidenheid redes kan wees hoekom kinders boeliegedrag toon. “Selfs geweld op televisie of rekenaarspeletjies wat nie in die regte konteks geplaas word nie, kan ʼn rede wees. Iets soos innerlike angstigheid (wat sensories of neurologies van aard kan wees) oor ʼn maatjie wat te naby staan, kan ook aggressie veroorsaak.”

Karin sê daar is baie redes vir dié soort gedrag – al is daar geen fout met hulle huislike omstandighede nie. “Kinders wat sensitief is vir geraas, of selfs iets soos lae bloedsuiker omdat hy honger is, kan ook sulke soort gedrag veroorsaak.” Sy meen enige situasie wat die kind kwesbaar of oorweldig en buite beheer laat voel.

En wanneer praat nie help nie?

Juliana sê daar moet beslis ingegryp word. Ouers kan nie so ʼn agteruitgang in emosies by ʼn kind toelaat nie. Iemand soos ʼn spelterapeut is ʼn goeie plek om te begin.

Carien sê sy sal gesinsterapie en individuele terapie aanbeveel. “Deur terapie leer ’n mens die kind om empatie te hê. Ek doen dit baie met handpoppe sodat die kind ʼn beter bewustheid kan kry van oorsaak en gevolg.”

Karin meen dat jy nie jou kind alleen na ʼn terapeut kan stuur nie, maar dat dit ʼn spanpoging moet wees. “Die hele sisteem moet eintlik by die terapeut uitkom – dit sluit in: juffrou, ma en pa. Almal moet aan dieselfde kant wees.”

Moontlike gevaartekens dat jou kind boeliegedrag toon of selfs ʼn slagoffer van dié soort gedrag is:

  • Hy is gewoonlik alleen.
  • Hy het nie maatjies nie
  • Hy word nooit na partytjies uitgenooi nie
  • Hy toon dominerende gedrag teenoor diere of kleiner kinders
  • Taalgebruik: “Ek wil daai outjie sommer klap!”
  • Hy is aggressief.

Besoek gerus Karin Grobler se webwerf hier, Carien Muller se webwerf hier, en stuur ʼn e-pos aan Juliana na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae