Is jou kind té bedrywig?

Verskeie-sport.jpg

Foto: sportsdadhub.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Dramaklub. Swem. Wetenskapklub. Kooroefening. Die verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite wat vandag vir kinders aangebied word, is verstommend en elkeen vereis ernstige betrokkenheid. Dit beteken dat kinders geneig is om die meeste middae ná skool van een aktiwiteit na ’n ander te hardloop.

As ouers wil ons net die beste vir ons bloedjies hê, daarom skryf ons hulle in vir al hierdie aktiwiteite, omdat ons glo dat hulle daarby kan baat. En waarom nie? Buitemuurse aktiwiteite bied ’n string voordele – dit help kinders om talente en passies te ontwikkel, dit moedig sosiale interaksie aan, dit bou selfrespek en selfdissipline, dit leer hulle van sportmanskap en konflikresolusie, en bowenal is dit pret!

Maar om aktiwiteite te vind wat geskik is vir jou kind en om te bepaal aan hoeveel aktiwiteite hy moet deelneem, is nie altyd maklik nie. Hier is ’n paar wenke om jou te help om die regte te balans te vind:

  • Neem jou kind se behoeftes, vaardighede en belangstellings in ag wanneer jy aktiwiteite oorweeg.
  • Wees versigtig om nie jou wense op jou kind af te dwing nie. Net omdat jy ballet gedoen het of sokker gespeel het, beteken nie dit is die regte keuse vir jou kind nie.
  • Wees ontvanklik en luister na dit waarvoor jou kind vra – laat hom toe om ’n aktiwiteit te kies waaraan hy wíl deelneem.

Al het jy die beste bedoelings, kan daar negatiewe gevolge wees as jy jou kind druk om aan sekere aktiwiteite deel te neem, of as jy hom aanmoedig om te veel op een slag aan te pak. Die algemene reël is dat buitemuurse aktiwiteite afgeskaal moet word wanneer dit met sy daaglikse lewe begin inmeng – wanneer hy nie tyd het om saam met vriende en familie te spandeer nie, wanneer hy nie sy huiswerk gedoen kry nie of wanneer hy saans ’n paar ure se slaap moet prysgee om by alles uit te kom, is dit tyd om sy skedule te heroorweeg.

Waarskuwingstekens dat jou kind se skedule oorvol is, sluit in:

  • Hy maak verskonings of weier om ’n aktiwiteit by te woon.
  • Hy is die meeste van die tyd oormoeg en angstig.
  • Hy presteer nie akademies soos waartoe hy in staat is nie.
  • Hy ontwikkel fisiese simptome soos hoof- en maagpyn.
  • Hy sukkel om te konsentreer en kan nie nuwe vaardighede, wat tydens aktiwiteite aangeleer word, bemeester nie.

Voordat jy ’n ander aktiwiteit vir elke dag van die week skeduleer, is dit belangrik om te onthou dat elke minuut van jou kind se dag nie gestruktureerd hoef te wees nie. Kinders baat ongelooflik baie by selfgerigte aktiwiteite en hulle het die tyd en ruimte nodig om vir hulself te dink, kreatief te wees en hul eie interne hulpbronne te benut.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.