Is (lyf)straf regtig nodig vir goeie dissipline?

stoute-kinders-oorweldige-ouer

Foto: Parenting.firstcry.com

Kinders het die reg om goeie leiding te ontvang en ouers en onderwysers het ’n plig om goeie leiding te verskaf. Te veel kinders se skouers hang weens die gewig van te veel verantwoordelikheid met betrekking tot besluitneming in gesinne en skole. ’n Mens sien te veel kinders wat gewikkel is in eindelose “hofsake” met hul ouers en onderwysers. Uitspraak word gedurig voorbehou en hofdatums as’t ware uitgestel, kinders struikel soms vanuit die een hofsaal se aantygings tot binne-in die volgende hofsaal met vars aanklagte. Ons as volwassenes skuld kinders ’n ontspanne atmosfeer waarin hulle nie die einde van hul vryhede ken nie.

Vir so ’n atmosfeer om te heers waar daar nooit gedreig, gekerm, of instruksies herhaal word nie, waar volwassenes nie hul stemme hoef te verhef om belangrike instruksies uitgevoer te kry nie, waarin geen volwassene snedig, sarkasties of afknouerig hoef te wees nie, moet twee dinge reeds daargestel wees: Eerstens moet daar min reëls wees, slegs daardie reëls wat die volwassene bereid is om te straf indien dit oortree word. Tweedens (dit is eintlik reeds gesê) moet die volwassenes kinders liefdevol straf wanneer reëls oortree word of instruksies geïgnoreer word.

Die definisie van straf is “om die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade te ervaar”. Daar is niks venynigs aan straf nie, want geen mens word ooit onthef van die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade nie. Dit is dan ook onverantwoordelik en onopvoedkundig om kinders groot te maak in ’n wêreld wat so kunsmatig is, dat hulle onthef word van hierdie doodnatuurlike proses. Om nie eens te praat van die struikelblok wat dit inhou vir die verkondiging van die evangelie nie. ’n Wêreld waarin kinders gedurig gehelp word om die logiese gevolge van hul verkeerde keuses en dade te omseil, mag dalk net daardie wêreld wees waar ’n kind ook eintlik nie ’n Verlosser nodig sal hê vir sy/haar sondes nie.

Dus, in die lig van die onlangse polemiek oor bewerings van lyfstraf, is die vraag: Hoe straf mens kinders in skole en tuis? Gelukkig is die antwoord nie baie kompleks nie en doen die meeste huisgesinne en skole reeds die regte ding.

Daar is vier opsies wanneer ons die kinders in ons sorg wil leer om die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade te ervaar. Weerhou voorregte, isoleer, gee werk en (slegs in die liefdevolle, geslote omgewing van die huisgesin) Bybelse tugtiging. Skole het dus drie kragtige instrumente om te benut vir straf en die meeste skole gebruik ’n variasie of kombinasie van al drie.

Detensie ná skool of tydens pouse is ’n effektiewe manier om kinders te isoleer en ’n voorreg tydelik te weerhou. Ek glo ook dit is gesond om take wat in elk geval by skole gedoen moet word, oor te dra aan kinders as ’n vorm van straf.

Indien ons as volwassenes dit eens is dat dit natuurlik is dat kinders die logiese gevolge van hul verkeerde keuses en dade moet ervaar, dan sal ons besef dat dit opvoedkundig regverdigbaar en verdedigbaar is en dat dit sin maak dat leerders gestraf word deur die terrein of klaskamers netjies te help maak as deel van straf.

’n Paar laaste gedagtes:

Dis nie nodig om ’n militêre strafkamp na te boots om goeie dissipline teweeg te bring in jou huis of skool nie. ’n Skool en gesin moet plekke wees waar ons kinders nie die einde van hul vryhede ken nie. Daar moet slegs ’n paar ononderhandelbare reëls wees wat te alle tye nagekom moet word en kinders moet verder ook ontspan deur altyd gehoor te gee aan alle vorme van instruksie. Volwassenes moet terselfdertyd spaarsamig wees met instruksies, bewus van die feit dat sekere instruksies wat nie gehoorsaam word nie, nie noodwendig tot straf moet lei nie (die logiese gevolge van daardie verkeerde keuses en dade).

Ouers wat gedurig onderwysers se oordeel (en straf) in twyfel trek, is die groot rede waarom ook onderwysers (kundiges van opvoeding) soms kerm, dreig en instruksies herhaal. Ons skuld ons kinders beter as dit – ons skuld ons kinders onderwysers wat oortredings straf en ouers wat terugstaan in die wete die straf is bloot die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade van sy/haar kind.

Straf moet altyd die eerste uitweg wees, nie die laaste uitweg nadat dreig, herhaal, kerm, stemverheffing, snedigheid of sarkasme nie gewerk het nie. Volwassenes moet kinders liefdevol straf terwyl hulle eintlik self in hul harte kalm en rustig voel. Wanneer jy eers lekker kwaad en teleurgesteld is, moet jy nie net jou woede laat vaar en kinders nié straf nie… jy sal (eers) vergifnis moet vra omdat dit jý is wat dinge te ver laat gaan het. Onthou net weer – kinders het die reg om goeie leiding te ontvang en ouers en onderwysers het ’n plig om goeie leiding te verskaf.

Ons hoef nie vasgevang te word in lang debatte oor lyfstraf by skole en by die huis nie. Ons het sterk alternatiewe wat sal lei tot kinders wat eerste keer gehoorsaam is. Ons moet net hierdie alternatiewe konsekwent toepas. Ons moet weet dat goeie dissipline nie ’n toeskouersport is nie, maar dat dit, onder meer, die volgende behels: studie, gebed, nederigheid, die vra van raad, navorsing, en vele meer.

Ons moet as’t ware van die pawiljoene afklim, ons moue oprol en beplan om vir ons kinders daardie ontspanne omgewing skep wat ons aan hulle verskuldig is. Hoe hierdie omgewing waarin ons kinders nie die einde van hul vryheid sal ken nie, gebou word, staan en val ironies genoeg by straf, naamlik  “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade ervaar.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Brink

Dr. Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Skoleondersteuningsentrum.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

KaterinaKat ·

Die antwoord is JA. Absoluut ja lyfstraf is nodig. Paar goeie rapse op die agterstewe het geen kind nog skade aangedoen nie. Dis omdat lyfstraf in skole afgeskaf is en selfs in die ouerhuis, dat dit vandag hier en orals in die wereld gaan soos dit gaan.

Hond ·

@KaterinaKat

Op grond van wat meen u dat lyfstraf nog geen kind skade aangedoen het nie? Dit is n blatante leuen. Buiten individuele gevalle waar kinders ernstige sielkundige skade opgedoen het, het veelvuldige wetenskaplike studies reeds bevind dat lyfstraf sterk gekorreleer kan wordmet geweldadige gedrag later in die kind se lewe.

Jacques du Toit ·

Hond, ek baseer dit op die feit dat die oorgrote meerderheid van ons voorouers (wat seker omtrent almal pakslae gekry het) geen geweldadige gedrag getoon het nie.
Natuurlik sou daar enkele uitsonderings wees.

Bygesê, ek dink omtrent al ons voorouers het in gebalanseerde huisgesinne grootgeword.
Huisgesinne waar die ouers mekaar met liefde en respek behandel het.
Huisgesinne waar beide die man en vrou presies geweet het wat hul onderskeie rolle is, en waar hulle nie op mekaar se terrein oortree het of mekaar probeer manipuleer het nie.
Huisgesinne waar die begrip “menseregte” nie bestaan het nie.
Huisgesinne waar die Bydel as die riglyn vir hul daaglikse lewe gebruik is.

Kinders wat in gebroke huisgesinne grootword, kan dalk meer vatbaar wees vir geweldadige gedrag.
Bogenoemde is nie op enige studies gebaseer nie. Dis maar net my waarneming.
Ek vermoed daai wetenskaplike studies is onlangs gdoen, toe baie huisgesinne alreeds disfunksioneel geword het.
Ek daag daai wetenskaplikes uit om mense ouer as 40 te ondervra en te kyk hoeveel van diegene wat lyfstraf gekry het, geweldadige neigings openbaar.

Daan ·

Lyfstraf moet verpligtend wees as jy in die Bybel glo. Daar staan geskryf, “as ‘n kind nie wil hoor nie, laat die bloed vloei” Van die mense lyfstraf begin los het en gehoorsame ouers geword het, beheer die kinders nou die wêreld, lees net biet die koerante, Kind vermoor sy Ouma, 3 kinders maak skoolmaat dood met skerp voorwerp, die hofsitting nou vandie 2 meisies wat vermoor is ens ens. Waar gaan dit eindig?
Die ou mense het altyd gesê, as ‘n kind nie wil hoor nie, laat sy agterend brand, die enigste manier om sy ore oop te kry, Dankie Pa dat jy dit met my gedoen het

Zombie ·

@Hond, kan u miskien die navorsingsmetodologie vir van die sogenaamde wetenskaplike bevindinge verskaf? Dit sal voorts interessant wees as u kan verduidelik hoe die steuringsveranderlikes in die studies beheer is.

KaterinaKat ·

@Hond – Ek is 54 jaar oud, die lewe het my dit bewys. Ek is gebore in 1965. Ek is dus in n posisie om die verskil te sien in nagevolge, van die manier hoe kinders daardie jare grootgemaak is – en hoe hulle deesdae grootgemaak word. Kyk hoe gewelddadig is kinders deesdae – kinders wat nie op skool Of by die huis n pak slae kry wanneer hulle dit verdien nie. Regtig ek stel nie belang in twyfelagtige vae “wetenskaplike studies” van wie-weet-wie nie. My lewe,my kinders, en die lewens en kinders van miljoene Suid Afrikaners van destyds tot nou bewys my wit op swart – wat Werk, en wat Nie werk nie. En n pak slae op sy tyd Werk.

honourable member ·

Soos hulle se buig die boompie terwyl hy jonk is. Dit help nie om aan tieners te wil slaan nie want dit maak hulle opstandig. Leer n kind van kleins af discipline en jy het n goeie tiener.

Wonder maar net! ·

Eindelose vryheid bestaan nie. Nêrenste nie. Die beelde wat geskep is hierbo is geldig in n etopia wat nie bestaan nie. Dis juis die indruk dat reels níe bestaan wat verwarring later laat ontstaan. Waneer lyfstraf wel toegepas word moet dit wees as gevolg van aanhoudende verbreking van neergelegde reels . Woede, frustrasie en agressie moet noóit deel wees van tugtiging. My oppinie is dat n kind wat weet waar die lyn is, voel eerder veilig en geborge.

Gys ·

Ag nee wat, my ouers het my n paar keer geslaan terwyl hulle briesend was vir my. Dit het my geen skade berokken nie. Inteendeel.

Om by “honourable member” aan te sluit. Jip, pakslae is vir klein kinders. Ek het my laaste pakslae op 12 jarige ouderdom gekry. Na dit het ek baie goed geweet wat die aaklige gevolge gaan wees indien ek nie die smalle weg bewandel nie.

En ja, ek het die wêreld se respek en liefde vir my ouers.

Boerseun ·

Ja dit is. Daar is niks anders wat dit tot dusver suksesvol vervang het nie. As mense. Y sê hulle kinders het ADHD is die eerste ding wat ek vra of hulle glo aan lyf straf. Die antwoord is altyd nee. Go figure…

Daan ·

Nie almal sê Nee nie, ek sou geantwoord het Ja, ADHD kinders is hipper aktief en kan nie konsentreer nie, ek het 2 kleinkinders wat dit het, Pa en Ma uitmekaar onder slegte omstandighede, kinders bly by Pa en hy glo verseker aan lyfstraf, maar die egskeiding was te erg op die kinders. Sou hy hulle nie lyfstraf gegee het nie, sou hulle onhanteerbaar gewees het

Andreas ·

Danie, my pa was in die jare 60 skoolhoof van een van die groot Afrikaanstalige skole. Ons kinders was nie in dieselfde skool nie, juis om ons soos enige ander kind die skooljare te laat beleef sonder ander wat dink jy word bevoordeel.

So het ons ‘n keer of twee by die huis sleg oortree. Pa het met die twee van ons in gesprek getree, die situasie vir ons uitgespel en verneem of ons bewus is hoe ernstig die oortreding was. Ons het instemmend geantwoord. Toe gaan haal hy ‘n rottang uit, een van daai lang dikkes en vertel dit is waarmee hy ons drie hale elk gaan slaan. Toe tjank ons al dat hoor en sien vergaan, seker maar meer uit jammerte vir onsself en oor wat gaan kom, as oor die oortreding.

Hy het toe gesê hy sal die vertrek verlaat, dan moet ons ons broeke aftrek, ons kan ‘n kussing of enige ander voorwerp agter by die boude in druk dan moet ons op die maag op die bed gaan lê waarna hy met ons sal kom afreken.

Verseker gaan hy ons oor die bene slaan.

Ons het vir lank daar gelê, die snikke het later opgehou, toe kom hy daar in, gee ons elkeen net so ‘n raps op die boude dat dit so ‘n dowwe plofgeluid maak, toe beduie hy ons kan maar opstaan en ek kan julle belowe, daarna was ons nooit ooit weer ongehoorsaam nie, nou en dan nog wel stout.

Docpietza ·

“Wonder maar net”: wat jy sê is so reg en vol waarheid. Nobel prys vir jou stelling. Wens meer mense het jou insig ivm die onderwerp.

Duiwelsadvokaat ·

@Hond….vir elkeen van jou veelvuldige wetenskaplike studies wat aandui dat lyfstraf net negatiewe gevolge het, kan ek net soveel studies vir jou wys wat die teendeel bevind. Jy ken seker die sêding…” you get lies, damned lies, and statistics”.

Karlien ·

Volgens al die motiverings hierbo moet lyfstraf ook vir volwassenes toegepas word. Niemand is ooit perfek nie en foute word steeds gemaak. Hoekom moet slegs kinders fisies getugtig word vir oortredings? So as almal hierbo bereid is om ook so nou en dan geraps te word, dan ABSOLUUT. Lyfstraf is nodig. Maar nie net vir kinders nie. Want niemand is perfek nie nê.

Andreas ·

Wie onthou nog die leerplak met houthandvatsel? So ‘n raps en nou en dan sommer ‘n paar het wondere verrig om die halstarrige en ‘n vloermoer terug in die toom te kry. Kry mens vandag nog so-iets? As ek reg het het mense vir die leer houthulp ‘n naam gegee.

Onnie ·

Het skoolgehou toe lyfstraf toegelaat was asook on die nuwe bedeling. Glo my Lyfstraf het gewerk. Nie doodslaan nie net ñ goeie afstof. Detensie misluk. Kinders lag daarvoor. Gaan sit hul paar uur en môre oortree hul weer.

Andreas ·

En wie onthou nog die goeie ou plak met die houthandvatsel wat ouers by die huis gebruik het? Die voorkant was van so ‘n lekker plat dik leer.

Oop oge ·

Allerande regte is van die duiwel.
Daar bestaan net EEN REG en dis die Woord van God.
As elke siel van jonk tot oud hulle aan God se Reg onderwerp, sal almal respek he vir mekaar. Ware Liefde is terregwysing en spaar die roede nie…maak nie saak wie dit toepas nie.
Verander EEN woord van God se Reg (Bybel) en allerande menseregte word gebruik om n gebroke beeld te probeer lap…alles kunsmatig en selfvernietigend.
Kyk maar net na die afval van die mensdom die afgelope 70 jaar ….en vra jouself af waar het dit alles begin het.

Adri ·

Danie, gaan n paar dae skool toe en kyk wat gebeur in klasse dan praat ons weer.

Andrea ·

Ek het my kinders met bittermin reëls grootgemaak. Ekt nooit ‘nee’ gesê as ek ‘ja’ kon sê nie. Maar hul sterte het gebrand as daai paar reëls oortree is, of die ‘nee’ skelm n ‘ja’ gemaak is. Deur die Vader se genade het ek drie pragtige jong volwassenes die wêreld ingestuur. Hardwerkend, verantwoordelik, eerbaar en eerlik. n Pak op sy tyd is soos brood en konfyt. Dis hoe my ouers my ook grootgemaak het. Nogal met die rympie daarby.

DMC de Koker ·

Nee wat, val my maar aan ook- maar ek luistet eerder vir die Bybel. Natuurlik is daar perke maar dis wat in die Woord staan.

Jerry ·

Tugtig diegene wie jy liefhet met deernis terwyl die boompie reg gebuig kan word. Straf ook diegene wat nie weet hoe om vaderlike of moederlike tug toe te pas nie en wat wreedaardig hulle kinders mishandel. Lyfstraf hoort tuis by die huis, maar defnitief nie by skole nie! Dit is menslik dat party mense dit soms verloor en dit te ver vat, veral met ander mense se stoute kinders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.