Is my kind kreatief genoeg?

Foto: dreamstime.com

Foto: dreamstime.com

Hello Susan

Ek is bekommerd dat my kinders nie kreatief genoeg is nie. My oudste seun is ses jaar oud. Gister het hy en ’n vriend in die agterplaas gespeel. Sy vriend het gemaak asof hy ’n dinosourus is en al wat my seun kon sê is, “daar is g’n dinosourusse nie.” Hy speel nooit kamma-kamma nie, om die waarheid te sê, hy speel selde. Hy kyk so bietjie TV. Sy jonger broer is ook so. Wat is fout?

Annelle

Liewe Anelle,

Ek het begrip vir jou kommer en dat jy wonder of daar “fout” is. Kom ons kyk eers na sommige algemene sienings oor hierdie onderwerp voordat ek aanbevelings maak oor hoe jy die ontwikkeling van jou kinders se kreatiwiteit kan benader. Kamma-kamma speel, of verbeeldingspel is nog altyd gesien as onontbeerlik vir kinders se ontwikkeling. Skynbaar hou dit die volgende voordele in:

  • Dit oefen luister, kyk en praat, wat taalvaardighede bevorder. Dit ontwikkel ook begrip van wat gekommunikeer word deur liggaamstaal, soos byvoorbeeld glimlaggies en kopknik.
  • Dit oefen sosiale vaardighede deurdat kinders leer om te onderhandel, hulle beurt af te wag en goed met mekaar te deel.
  • Kamma-kamma of voorgee-tonele behels gewoonlik probleemoplossing en die vermoë om af te lei wat die volgende aksie in die spel gaan wees, en hierdeur ontwikkel kinders die vermoë om te redeneer.
  • Deur sekere ervarings uit te leef en verskillende rolle aan te neem wat empatie en dissipline weerspieël, bevorder kinders hulle emosionele ontwikkeling.
  • Kinders kan enigiemand wees en enigiets doen tydens voorgee-speletjies en dit bevorder verbeelding en kreatiwiteit.

En tog, ten spyte van 40 jaar se navorsing waarin daar gepoog is om vas te stel hoe voorgee-speletjies kinders help, is daar maar min bewyse dat dit ’n belangrike rol speel. Voorgee-speletjies is, ten beste, net nog een van vele maniere om ontwikkeling te bevorder (Lillard, AS, “The impact of pretend play on children’s development: A review of the evidence” in Psychological Bulletin, August 2012).

Selfs die bewyse dat voorgee-speletjies kreatiwiteit bevorder, wat nogal logies klink, is nie oortuigend nie. Dis verseker waar dat kreatiewe kinders voorgee-speletjies speel,  maar dit is nog glad nie bewys dat kamma-kamma of voorgee-speletjies kreatiwiteit by kinders bevorder nie.

“Ons het geen bewyse gevind dat verbeeldingspel bydra tot kreatiwiteit, intelligensie of probleemoplossing nie,” sê Angeline Lillard, professor in sielkunde aan die Universiteit van Virginia. “Maar ons het bewyse dat dit dalk ʼn bydraende faktor tot taalontwikkeling, storievertelling en sosiale ontwikkeling en selfregulering mag wees.”

Navorsing stel dit dus aan ons dat voorgee-speletjies nie die enigste weg is wat na Rome lei nie; in sommige gevalle lei dit glad nie na Rome nie. Indien jy dus besorg is oor jou kinders se kreatiwiteit en verbeelding is daar ander, beter maniere om hierdie vaardighede by hulle te ontwikkel.

Kreatiwiteit en kreatiewe denke

Wanneer ons al die vaardighede wat ’n kind nodig het om akademies suksesvol te wees in ag neem, dink ons aan lees, skryf, konsentrasie, wiskunde ens. En tog, een van die belangrike vaardighede wat kinders nodig het, is kreatiwiteit. Dis kreatiwiteit wat hulle aanwend om stories te skryf, probleme op te los, musiek te maak, kuns en kunsvlyt te geniet en selfs om ingewikkelde wiskundige bewerkings te doen.

Kreatiwiteit is die skep van iets wat nie voorheen daar was nie soos byvoorbeeld ’n produk, ’n proses of ’n gedagte. Kreatiewe denke is die middel wat ons aanwend om met ’n nuwe idee vorendag te kom. Kreatiewe denke is die vermoë om op verskillende maniere na ’n probleem te kyk, en dit mag beteken om ’n nuwe manier of benadering uit te dink, nuwe idees daar te stel of om grondstowwe op nuwe en unieke maniere te gebruik. Grondliggend aan kreatief wees lê die bereidwilligheid om ’n risiko te loop, te eksperimenteer en selfs foute te maak.

Die siening dat ’n individu óf kreatief is óf nie, word steeds algemeen aanvaar, maar hierdie wanvoorstelling is besig om te verander. Onlangs het meer en meer bewyse die lig gesien wat daarop dui dat kreatiwiteit aangeleer en geoefen kan word.

Tina Seelig, uitvoerende direkteur van die Stanford Technology Ventures Program en skrywer van inGENIUS: A Crash Course on Creativity, bevestig dat elkeen van ons ons kreatiwiteit kan bevorder, net soos wat elkeen ons musikale of atletiese vermoëns kan verbeter deur opleiding en gefokusde oefening.

Annelle, ek deel volgende week met jou drie oefeninge wat jy kan gebruik om jou kinders te stimuleer om oorspronklik en kreatief te leer dink.

Tot volgende week,

Susan oor Skoolwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om anoniem te bly.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 26 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Ekonoom ·

Hierdie is n baie belangrike artikel want kreativiteit is die basis van ekonomiese ontwikkeling, welvaartskepping, en n baie belangrike vaardigheid vir die arbeidsmark van die toekoms. Dit is presies wat tegnologiese ontwikkeling en groei moontlik maak.

Opvoeder ·

Lees gerus die baie goeie boek: “Art and creative development for young children” deur J. Englebright Fox. Nog n baie goeie boek is “Creative activities and curriculum for young children” deur Mary Mayesky. Dit is akademiese boeke maar lees baie maklik, en tekoop by akademiese boekwinkels of enige goeie aanlyn boekwinkel. Lees dit gerus en stuur aan vir al jou vriende met kinders en onderwysers, dit is n vaardigheid wat ons land se kinders dringend kort.

E ·

Elke kind is uniek en elkeen se talente verskil. Daar is niks four daarmee om kinders te help nie, maar ek voel dat daar te veel druk op baie kinders gesit word en dit kweek egter net furstrasie en ongelukkigheid.
Ek het 2 van my eie, die een kreatief en die ander nie.
Die een wat nie so kreatief is nie is elke jaar in die top 5 van sy klas.
Ek het geleer om op my kinders se sterk punte te fokus en hulle te prys, en ja ek help met dit waarmee hul sukkel.
Elke kind is uniek!

John ·

Hierdie hele spulletjie is totale twak. Ontspan mense, elke kind is uniek en regtig, mens hoef nie jou iets te verbeel om eendag iemand te word nie. Te veel regulering is eerder die probleem en tv ook. Los julle kinders net uit en gee hulle liefde en gesonde kos. Selfs voeltjies en miere weet hoe om te doen wat hulle moet doen. Julle onderskat die Skepper se vermoens.

Opvoeder ·

Goeie raad oor liefde en goeie kos, maar goeie ontwikkeling het n mate van fasilitering nodig, daarom die bestaan van die ganse skoolsisteem, en die rede waarom daar verband is tussen goeie opvoeding en sukses.

ME ·

Ek wens ek het self meer verbeelding gehad! Net om meer wyse keuses te kan maak, meer geleenthede in die lewe raaksien, meer oplossings vanuit verskillende hoeke, meer te kan skep uit wat ek het – beroepsgewys, sosiaal, self.
Dus ja, ek wens my kreatiewe en verbeeldingskrag was soveel beter sodat ek die pragmatiese, rigiede, gedissiplineerde lewenswyse wat ek sover gevolg het, kan aanvul. ‘n Oper gemoed kan tog net meer vir jou as persoon, individu in die lewe bied en help dat jy meer en makliker tot uitvoering kan bring wat jou gelukkig kan maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.