Is ons kennis oor disleksie verouderd? Navorsers werp nuwe lig

kind-skryf-teken

Foto: Pixabay/Pexels.com

Internasionale Disleksie-bewustheidsmaand word jaarliks waargeneem in Oktober en poog om eensgesinde organisasies saam te snoer deur kennis en hulpbronne oor disleksie te deel met ouers, onderwysers en die algemene publiek. Ter ondersteuning van hierdie inisiatief kyk die wiskunde-, lees-en-leerkliniek Edublox na hoe vroeë navorsing oor disleksie bygedra het tot ʼn paar wanopvattings en mites oor hierdie leerprobleem.

“ʼn Gewilde sienswyse is dat disleksie ’n breinversteuring is wat andersins intelligente en slim kinders laat sukkel met lees, spel en skryf,” verduidelik Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox. “Die probleem lê daarin dat ʼn gebrek aan voldoende inligting oor disleksie ouers oorweldig laat voel die oomblik dat hulle die gevreesde woord hoor.”

Die term “disleksie” is reeds in 1884 gemunt deur die Duitse oftalmoloog, Rudolf Berlin, en dit is afkomstig van die Griekse woord “dys” wat moeilik beteken, en “lexis”, wat woord beteken. Sedertdien het navorsers oor ʼn wye spektrum van dissiplines probeer om te verstaan wat disleksie veroorsaak, en hoe dit oorkom kan word.

“In plaas daarvan dat ons die verloop van die navorsing en die groter prentjie oorweeg, is ons geneig om slegs brokkies inligting en feite te onthou. Dikwels is hierdie brokkies inligting en persepsies verouderd en kom dit uit ʼn tydperk voor moderne tegnologie en navorsing ook goeie nuus rakende disleksie aangedui het,” voeg Susan by.

In ʼn neutedop behels sommige van hierdie wanpersepsies:

  • Die brein van dislektiese mense verskil van dié van swak lesers met ʼn relatiewe lae IK.
  • Hierdie verskille in die brein is die oorsaak van disleksie.
  • Verskeie bekendes soos Albert Einstein, Walt Disney en Hans Christian Andersen was dislekties.
  • Daar is geen oplossing vir disleksie nie. Een bron het dit baie ongenaakbaar beskryf: “Disleksie is soos alkoholisme, dit kan nooit genees word nie.”

Susan verduidelik dat kontemporêre navorsing nuwe lig werp op hierdie ou sienswyses. Moderne breinskanderingstegnologie het neurowetenskaplikes toegelaat om die menslike brein meer intensief te bestudeer as ooit tevore. Neuroplastisiteit is ʼn ander studieveld wat bygedra het tot nuwe sienswyses oor disleksie. Navorsing in hierdie veld dui aan dat die mens se brein die vermoë het om inligting te herorganiseer deur nuwe verbindings te vorm deur die verloop van ʼn mens se hele lewe.

Hier is ’n paar hedendaagse sienswyses wat voortgespruit het uit onlangse navorsing:

  • Die neurowetenskaplike, John DE Gabrieli van die Massachusetts Institute of Technology, het vasgestel dat swak lesers eenders dink wanneer hulle lees – ongeag of hulle disleksie het of nie.
  • In ʼn studie wat in die Journal of Neuroscience aanlyn gepubliseer is, het navorsers die breine van kinders met disleksie vergelyk met twee ander groepe kinders: kinders van dieselfde ouderdom sonder disleksie, en ʼn groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as die kinders met disleksie. Die kinders met disleksie het wel minder grysstof gehad as die kinders sonder disleksie, maar hulle grysstof het goed vergelyk met dié van die jonger kinders op ʼn soortgelyke leesvlak. Die hoofskrywer van hierdie studie, Anthony Krafnick, verduidelik dat enige breinverskille die gevolg van die kind se leeservaring was, eerder as die oorsaak van disleksie.
  • Die biografieë van Einstein, Disney, Andersen en ander bekende “disleksielyers” gee geen sterk aanduidings dat hierdie bekendes werklik gesukkel het met disleksie nie – Einstein was al besig om Darwin se leesstof te verslind op die ouderdom van 13! “Die mite betreffende bekende disleksielyers is aangevuur deur ondersteuningsgroepe om disleksie in die kollig te hou,” sê Susan. “Die probleem daarmee is dat dit die klem van werklike wetenskaplike kennis oor die veld verwyder en die persepsie aanwakker dat dit net aanvaarbaar is om dislekties te wees omdat bekende baanbrekers ook was. En dis eenvoudig nie die waarheid nie.”
  • Die persepsie dat disleksie ʼn onoorkombare probleem is, is gewortel in die idee dat die brein nie kan verander nie. Vandag weet ons dat die menslike brein ongelooflike dinge kan vermag; nuwe verbindings kan gevorm word en die struktuur van bestaande verbindings kan verander. Susan is al 25 jaar lank betrokke by navorsing oor leesprobleme en het tot ’n paar insigte gekom wat ouers kan hoop gee as hulle kinders sukkel om te lees. “By Edublox glo ons nie dat disleksie  ʼn gestremdheid is nie, maar bloot ʼn onvermoë (dis nie ʼn “disability” nie, maar ʼn “inability”). Dikwels word disleksie veroorsaak deur grondvaardighede van lees en spel wat nie bemeester is nie – en kinders vorder baie flink as gebreke met hulle kognitiewe vaardighede uitgesorteer word. Ons sien daagliks ongelooflike resultate met hierdie benadering.”

Javier Guardiola, skrywer van die navorsingsartikel, “Die evolusie van navorsing oor disleksie”, is ʼn aanhanger van kontemporêre navorsing en hoe dit bygedra het tot bewustheid oor disleksie. “Navorsing oor disleksie betrek nou verskeie dissiplines, van opvoedkunde tot neurobiologie. Navorsers hoop die uiteindelike oplossing vir hierdie leergebrek lê waar al hierdie dissiplines bymekaarkom,” sê hy.

“Om bewustheid te kweek oor disleksie, moet ons op die hoogte bly van die jongste navorsing en wat dit vir ons kinders beteken. Ons as ouers moet bly uitkyk vir oplossings en ondersteuningsnetwerke wat kan help om simptome wat met disleksie gepaardgaan, te verlig. Die goeie nuus is dat daar nog nooit ʼn beter tyd was om dit te doen nie,” sluit Susan af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Anneke ·

My kind is 12 jaar oud het is lees disleksies. Ek wil hom graag help om dit te oorkom, maar weet nie hoe nie en oral waar ek raad vrae en ook by Edublox moet jy baie geld betaal vir toetse en wat ek nie kan bekostig nie want ek is die broodwinner en ek is ook werk voltyds. As gevolg daarvan is ek gefrustreerd wat daartoe gelei dat ek hom geen hulp aan bied nie. Ek voel ek vyl my kind as ma. Hy kry wel ekstra klasse by die skool maar nie so seker of dit help nie. Wat kan ek doen?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.