Jou kind en kopbeserings: Alles wat jy moet weet

(Foto: Pixabay)

Kinders is oor die algemeen geneig om gereeld hul koppe te stamp. Of dit nou is omdat hulle val, speel, sport beoefen, boomklim, leer loop of rondhardloop, ʼn paar stampe teen die kop is deel van grootword.

Baie ouers is egter onseker wanneer ʼn stamp teen die kop ernstig genoeg is om mediese hulp in te roep.

“Dit is soms moeilik vir ouers om te oordeel wanneer om mediese hulp te kry nadat hul kind sy of haar kop seergemaak het, veral as dit by jonger kinders kom,” sê dr. Bianca Visser, ʼn praktisyn by die ongevalle-afdeling van Netcare Unitas-hospitaal.

“Kinders met knoppe of snyplekke op hul koppe word daagliks by mediese fasiliteite gesien. Ouers wil meestal net die gerusstelling hê dat hul kind nie ernstig beseer is nie. Gelukkig is dit gewoonlik die geval, maar dit is altyd beter om versigtig te wees wanneer dit by kopbeserings kom.”

Volgens Visser glo baie mense dat kopbeserings slegs ernstig opgeneem moet word wanneer die kind sy of haar bewussyn verloor weens dié besering.

“Om die bewussyn te verloor nadat ʼn kind ʼn kopbesering opgedoen het, is nie die enigste rede om hom of haar na ongevalle te neem nie. Kinders kan erge harsingskudding opdoen sonder om hul bewussyn te verloor. Simptome vir ʼn harsingskudding kan lig tot ernstig wees en ure, dae, weke en selfs maande lank aanhou,” verduidelik Visser.

Sy meen dit is belangrik dat ʼn mediese praktisyn die kind ondersoek nadat hy sy kop seergemaak het.

“Die mediese praktisyn moet vasstel of die kind enige simptome van harsingskudding of self iets ernstigers toon. Gedurende die konsultasie sal die kind ook geassesseer word vir uitwendige velbeserings, asook moontlike nekbeserings.

“My raad aan ouers is om die kind so gou moontlik deur ʼn mediese praktisyn te laat ondersoek as julle bekommerd is oor die kopbesering. Dit is ook belangrik dat ouers inligting het oor hoe om kopbeserings soos harsingskudding by die huis te behandel om langtermyngevolge te voorkom,” sê Visser.

Simptome van harsingskudding kan in vier kategorieë verdeel word:

 

  1. Dink en onthou
  • Kan nie behoorlik dink nie
  • Die gevoel dat jy “stadig” is
  • Kan nie konsentreer nie
  • Kan nie nuwe inligting onthou nie
  1. Fisiek
  • Naarheid en braking
  • Hoofpyn
  • Dowwe sig
  • Duiseligheid
  • Sensitiwiteit vir lig en klank
  • Balansprobleme
  • Moegheid
  1. Emosioneel
  • Raak vinnig kwaad of vies
  • Hartseer
  • Senuweeagtig en angstig
  • Meer emosioneel as normaalweg
  1. Slaap
  • Slaap meer as gewoonlik
  • Slaap minder as gewoonlik
  • Sukkel om aan die slaap te raak

Volgens Visser is dit moeiliker om by jong kinders as by ouer kinders en volwassenes agter te kom dat hulle harsingskudding het. Jong kinders kan ook die volgende simptome toon:

  • Meer huilerig as gewoonlik
  • Hoofpyn wat nie weggaan nie
  • Verandering in die manier waarop hulle speel en optree
  • Verandering in die manier waarop hulle eet, slaap en voed
  • Hulle raak vinnig kwaad
  • Gebrek aan belangstelling in normale aktiwiteite of gunstelingspeelding
  • Verlies van nuwe vaardighede, soos toiletopleiding
  • Verlies van balans en sukkel om te loop
  • Onvermoë om aandag te gee

“Of jong kinders bogenoemde simptome het of nie, babas wat jonger as ses maande is wat van ʼn hoogte af geval het, moet altyd ondersoek word,” waarsku Visser.

Sy voeg by dit is belangrik om te onthou dat al die simptome nie noodwendig dadelik sigbaar sal wees nie, maar dat dit oor ʼn paar uur kan ontwikkel.

Beskerm jou kind só teen ʼn kopbesering:

  • Gebruik ʼn karstoeltjie behoorlik en maak seker die kind is behoorlik daarin vasgegespe.
  • Leer jou kind oor fietsveiligheid en die belangrikheid daarvan om ʼn valhelm te dra.
  • Leer jou kind om veilig in die straat en rondom voertuie te wees.
  • Leer jou kind speelterrein-veiligheid om die risiko dat hy/sy op die speelterrein val te verminder.

Help jou kind só met harsingskudding:

  • Slaap baie in die nag en rus deur die dag.
  • Neem slegs medisyne wat deur dokters voorgeskryf is.
  • Vermy aktiwiteite wat fisiek en geestelik veeleisend is (soos sport en skoolwerk).

Vermy televisie, rekenaar, selfone, flieks, rekenaarspeletjies of enige raserige omgewings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae