Jou kind kan ’n wiskundewenner wees

(Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

Deur Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW)

Kinders ondersoek en ontdek graag omdat hulle van nature nuuskierig is. Dié nuuskierigheid taan ongelukkig soos kinders deur hul skoolloopbaan beweeg, want ontdekking word met “resepte” vervang.

Wiskunde is die een vak wat in die slag bly wanneer kinders hul nuuskierigheid verloor. Soos kinders ouer word, word hul outonomie oor hul eie ontdekkingsreise weggeneem deur ouers wat die dinkwerk vir hulle doen. Alles in die gejaag na goeie punte.

Dié tipe leer val gewoonlik plat soos leerders die Hoërskool betree omrede ouers nie meer kan help nie. Dus moet die grondslag vir wiskundige denke reeds goed gelê wees nog voordat hulle skool toe gaan, sodat algoritmes en rympies om wiskundige berekeninge te doen, hulle as’t ware sal verveel.

Hier is vyf wenke hoe ouers hul kinders met wiskunde kan help:

1.Wiskunde in alledaagse gesprekke:

Gebruik elke geleentheid om wiskundige begrippe in gesprekke in te sluit. Gebruik woorde soos: dieselfde as, groter, langste, meeste, half, gelyk, ongeveer. Dit is belangrik dat die woorde in die konteks van konkrete voorwerpe geskied. Byvoorbeeld: as ek ’n hand vol Smarties en ’n hand vol toffies het, in watter hand sal die meeste lekkers wees?

2. Vra vrae:

Kinders wat vrae vra met die wete dat hulle nie altyd al die antwoorde self hoef te weet nie, sal met gretigheid ontdek. Ouers moet waak daarteen om alle antwoorde vir hul kinders te gee. Indien jy as ouer iets nie weet nie, wees eerlik daaroor en probeer eerder saam met jou kind ’n oplossing soek.

Vrae soos die volgende is ’n ryk ontdekkingsroete: Hoekom is een kilogram goud dieselfde gewig as een kilogram spookasem? Hoekom is die brandstofverbruik van my een motor beter as my ander motor? Hoekom loop die krag vinniger uit op die kragmeter tydens winter as in die somer?

Onthou, ’n potensiële wiskundewenner hoef beslis nie alles te weet nie.

3. Speel buite:

Ruimtelike begrip op ’n konkrete vlak is ’n voorvereiste vir ruimtelike begrip op ’n abstrakte vlak. Kinders wat speel deur te klim en te klouter, ontwikkel voorstellings van voorwerpe wat hulle later in hul lewe op ’n gedagtevlak kan gebruik.

4. Skep probleme:

Een van die belangrikste eienskappe van ’n wiskundewenner is ’n oop ingesteldheid wat probleemoplossend is. Daarvoor moet ouers vermy om take vir hul kinders te doen. Kinders moet weet dat probleme opgelos kan word indien ons genoeg moeite doen. Ouers kan die inisiatief neem om vir hul kinders probleme te skep wat hulle kan oplos. Byvoorbeeld: Verdeel ’n ongelyke hoeveel lekkers tussen ’n gelyke hoeveel boeties en sussies sodat almal presies ewe veel het. Of help ma om die koekieresep te verdrievoudig.

5. Meet reg:

Die stert swaai gereeld die hond in ons huise. Uitslae op toetse of rapporte dikteer onregmatig die manier hoe ons ons kinders meet rakende wiskunde. Ouers moet eerder na die volgende kyk wanneer hulle wil weet of hul kinders op die regte pad is:

  • Hou my kind aan ongeag of hy regkry wat hy doen of nie? Kan hy vasbyt?
  • Raak my kind opgewonde as hy iets teëkom wat hy nog nie gesien het nie?
  • Speel my kind meer buite as wat hy op sy foon speel?

As ’n oudingenieurstudent kan ek met sekerheid sê dat die mees suksesvolste studente nie diegene was wat die duxleerders van hul skool was nie, maar dié wat kon aanhou wanneer almal anders al opgegee het.

Wiskunde is in werklikheid nie so abstrak soos wat die skoolleerplan dit uitmaak nie. Wiskunde as ’n abstrakte taal verklaar net dit wat ons kinders elke dag tussen hul tone voel. Wiskunde se wortel lê diep in die werklikheid en ons interaksie met die werklikheid, gemeng met ons nuuskierigheid om dit te verstaan en verklaar, sal van ons wiskundewenners maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die rol van onderwysers word verswyg. Dit is krities. Geen tiran kan of moet wiskunde onderrig nie. Dit moet deur die grondwet verbied word. Sulke onderwysers moet by die weermag aansluit of soheen verban word saam met sulke ouers òf eerder na ‘n verre planeet… waar hulle weens die te min suurstof nie kan skreeu nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.