Jou ma roep jou!

Foto: Pixabay

Sy is vir járe lank die belangrikste mens in jou lewe. Die vrou wat jou in die lewe gebring en melk gegee het, wat jou spoegbekkie en boude afgevee het, wat salf aan stukkende knieë en seer harte gesmeer het, wie se soen en druk die lig aan die einde van enige donker tonnel is. Sy ken jou beter as enige iemand – jou vrese, drome en diep geheime. Sy is jou ma en sy het jou onvoorwaardelik lief en jy vir haar.

Sy het jou in Afrikaans grootgemaak – jou geliefde móédertaal. Van die eerste “mamma” en “bal”, die dreigement van peper in die mond as jy weer dáárdie woord sê, tot liedjies, boeke en gebede. In Afrikaans het Ma jou oor goggas, getalle, gedigte én God geleer.

Nou het jy die geleentheid om vir jou  eie en ander kinders ook ʼn stewige fondament in Afrikaans te lê!

Wikipedia is in Afrikaans beskikbaar en is ʼn uitstekende bron van inligting vir veral skoolkinders wat take in Afrikaans moet doen. Maar ons, die trots Afrikaanse gemeenskap, moet dit nog heelwat uitbrei! Daar is baie onderwerpe om van te kies en te keur en jy kan ʼn bydra lewer op jou vakgebied, of sommer oor onderwerpe wat vir jou interessant is en waarvoor jy bronne het. Op dié manier maak jy ʼn belangrike merk in die samelewing en dra jy by tot jou nageslag se kennis.

Skryf vandag nog vir die Wiki-Onnie-kompetisie in – behalwe vir die verskil wat jy in die Afrikaanse gemeenskap maak, kan jy boonop ʼn maand se salaris wen! Dit is deel van jou nalatenskap as onderwyser en jou kinders sal jou ewig dankbaar wees.

Komaan, maak jou ma trots…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.