Jou oë en die skerm: Wanneer word skade aangerig?

Te veel blootstelling aan skerms het implikasies vir die oë en kan ʼn persoon se algehele welsyn beïnvloed. Rooi, moeë en geïrriteerde oë, hoofpyn, slegte sig en algemene moegheid is net van die onaangename simptome wat mense ervaar as gevolg daarvan.

Volgens Dynamic Vision Optometrists bestee jongmense al meer tyd voor skerms en dit is besig om hul sig te beïnvloed.

“Studente en jong volwassenes wat pas begin werk, bestee meer ure voor rekenaarskerms as wat mense voorheen het. Soveel van wat hulle daagliks doen as deel van hul studies en werke, word op ʼn rekenaar gedoen. Van take en navorsing deur studente tot e-posse en gewone kantoorwerk deur jong werkendes,” lui ʼn verklaring.

Wanneer jy lees, moet albei jou oë saamwerk om behoorlik te kan sien, met ander woorde jou oë se spiere moet saamtrek.

“Mense het ʼn geneigdheid om hul selfone en tablette nader aan hul oë te hou as wat hulle boeke sal hou, wat veroorsaak dat jou oë baie harder moet werk, en sodoende meer spanning op jou oë plaas.”

Ruahan Naudé, ʼn spesialis in die oogkundebedryf vir die afgelope 28 jaar en die hoof‑ uitvoerende beampte van Dynamic Vision Suid-Afrika, sê dié probleem is al so algemeen dat daar ʼn naam daarvoor is: rekenaarvisie-sindroom.

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

“Dit is ʼn toestand wat voorkom as gevolg van te veel tyd wat op ʼn rekenaarskerm of ander toestelle gefokus word. Die oogspiere word té gespanne en kan later nie herstel nie.

“Simptome van dié toestand sluit in hoofpyn, rooi, moeë oë, duiseligheid, belemmerde visie en die oë wat sukkel om te herfokus,” sê Naudé.

Naudé sê daar is nuwe tegnologie wat kan help om dié toestand te verlig, soos ʼn bloulig-laag of ondersteunende lense wat spanning in die oog kan verminder.

“Wanneer jy vir ʼn lang tyd op ʼn skerm gefokus het, is dit algemeen om ʼn vertraging in fokus te ondervind. Met die regte lense kan jy jou oë se moegheid verminder, en jy sal ook makliker kan wissel tussen die fokus op goed wat naby en ver is.”

ʼn Bloulig-beskermingslaag is slegs een opsie om dié probleem aan te pak. Dié beskermingslaag kan by lense gevoeg word om die glans van skerms teen te werk en jou teen skadelike strale te beskerm. Naudé sê wel dat dié laag nie altyd genoeg is nie, en dat jy met jou oogkundige moet praat vir die beste kombinasie vir jou.

Hy sê jong volwassenes moet bewus wees van die simptome en tekens van rekenaarvisie-sindroom en dat hulle raad moet vra of ʼn oogkundige moet gaan sien voordat hul oë verder beskadig word.

Ander tekens van dié toestand is:

  • Hoofpyn aan die voorkant van die kop of om die oë
  • Seer en moeë oë
  • Moegheid
  • Wisselende visie, wat voorkom as die spiere in jou oë gewoond raak aan fokus op ʼn digitale toestel en dan nie kan ontspan wanneer jy na iets anders kyk nie
  • Sensitiwiteit vir lig
  • Slegte sig in die aand
  • Droë, rooi oë
  • Jeukerige oë wat jy gereeld wil vryf
  • Verminderde konsentrasie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oog ·

Ek kyk al vir die afgelope omtrent 35 jaar gem 7h+ per werksdag op ‘n skerm, en het nog nooit enige newe effekte ervaar. (Word gestaaf deur my ~jaarlikse vliegmedies hernuwing se uitslae)

Dus, persoonlik het ek maar my eie opinie oor die saak.

Johan ·

Ek is n “gamer” en werk in programmeering, ek spandeer nou al 14 jaar met meer as 12+ ure per dag voor n skerm. Sover het ek geen probleme nie, my broer, wat n onderwyser is, dra bril, my ma en pa dra bril. (Nie een van hulle gamers/IT nie)

Ek het my oë laat toets en is 100% volgens die toetse.

In ons kantoor, werk daar 30 mense almal voltydse programmeerders en meeste is gamers. Presies 3 dra bril.

Is die nog n “games causes violence” storie?

Kalie ·

Ek is n gamer en werk heeldag ook op n laptop , my oe is bloed rooi elke daag , en ek by honger , nou weet ek dis die blerrie laptop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.