Kan selfdoodpogings voorkom word?

depressie-angs

Foto: Kristina Tripkovic/Unsplash.com

Getalle van selfdood toon ’n steeds stygende tendens. Meer ontstellend is die feit dat wanneer die media berig oor kinders van so jonk as tien jaar wat hul eie lewe neem, mense beswaarlik meer die oë rek.

Die neem van ʼn eie lewe raak familielede op maniere wat katastrofale gevolge het – meer as ’n natuurlike dood of dood weens ongeluk. Die sterkste emosie waarmee die familie worstel, is ekstreem skuldgevoelens omdat hulle nie in staat was om dit te verhoed nie.

Hierdie skuldgevoelens gaan hand aan hand met ’n gevoel van mislukking. Nie net om die dood te kon verhoed het nie, maar ook dat die persoon op ander maniere gefaal het, onder meer, om nie dalk nie genoeg liefde of aandag aan die slagoffer te gegee het nie.

“Navorsing het getoon dat ouers van kinders wat hul eie lewe geneem het, meer geneig is om aan angsafwykings of depressie te ly. Aan die ander kant het kinders van ouers wat hul eie lewe geneem het, ’n groter risiko om dit self te doen,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Ons sien kinders in die pleegsorgstelsel wat ouers op hierdie manier verloor het. Hulle het ’n groter berg om te klim as ander kinders wat ouers op natuurlike maniere verloor het. Dog, die hantering is nie noodwendig makliker in ’n familiekring nie. Volwassenes kan hulself afsluit in hul smart en nie raaksien dat jonger familielede ook erg geraak word en spesiale aandag benodig nie.”

Van der Merwe sê die probleem is so kompleks dat net om die gevaartekens te kan raaksien, al ’n groot stap vorentoe is.

“Kyk noukeurig vir tekens van selfbesering. Veranderings in gedrag, veral depressie en buierigheid, is moontlike aanduidings. Sovele kere is mense totaal verstom wanneer selfdood plaasvind, wat beteken hulle het die tekens misgekyk.”

Vir die slagoffer is volgehoue langdurige wanhopigheid ’n hoofsneller.

“Baie mense slaag nie daarin om ander werklik raak te sien nie. Hulle is gedryf om sukses te behaal, maar kyk die menslike/emosionele behoeftes van hul familielede mis. Dit maak nie saak waar en hoe nie, ons kan almal kennis neem en stappe doen as ons ’n persoon in ’n emosionele mis sien verdwyn. Indien ons optree, kan ons – sonder om dit te besef – moontlike selfdoodpogings verhoed in hierdie gemeenskap waar amper almal hulp benodig,” sluit van der Merwe af.

  • CMR Gauteng-Oos werk met kinders en gesinne in die Tshwane-metro deur  13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Meer inligting kan bekom word by Henda van der Merwe by 072 801 0092.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

WIEBO ·

Dit is in baie gevalle nie depressie wat ly tot selfdood nie, maar omstandighede. Ek ly nie aan depressie nie, maar die feit is dat ek verseker weet dat ek moet selfmoord pleeg as ek nie meer werk nie. Daar is niemand wat dan vir my kan sorg nie, en finansieel sal ek dit nie maak nie. Ek is nou 52, en het als verloor deur my vrou wat weggeloop het met n ander man. Haar verhouding met die man het maar net n paar maande geduur. 2 Nuwe karre en n huis verloor en betaal my gaai af aan onderhoud.

Soekie ·

WIEBO moet asseblief nie dat sy jou onder kry nie. My eks man is nou besig om dieselfde met my te doen. Gee glad nie om wat van sy skoolgaande kind word na skool nie. Probeer om alles van my af weg te vat om my finansieel te breek. Maar hy gaan die nie regkry nie want GOD is groot en ek vertrou dat Sy wil sal geskied. Hou vas aan die Here en vertrou op Hom.

PJN ·

Onderdrukte depressie is gevaarlik. Ek dink elke mens op aarde leef met n mate van depressie in ons. Dit is ook omstandighede wat mense impulsief laat besluit om selfdood te pleeg. Dis so swaar om so iets te verwerk, want die persoon wat sy eie lewe neem plaas net sy bagasie oor op die skouers van die wat agterbly. Die verwyte na die insident van……… “as ons maar net dit of dat gedoen het kon dit dalk anders gewees het”. Mense wat deur ‘n donker tyd gaan, kry asseblief berading of deel net met ander mense wat bereid is om te luister. Ons is vir ‘n rede op hierdie aarde geplaas en dit is om onder andere mekaar te bemoedig en by te staan

Vlooi ·

Hierdie is nou die grootste klop twak nog!!! Hoe bepaal jy n ouer wat se kind selfdood gepleeg het teen n ouer wat se kinders in n ongeluk gesterf het sê vrae en verwyte en depressie en “meer geneig tot ook selfdood te pleeg” ??? Ag ek wens die slimmes wil vir my verduidelik hoe praat jy as jy nog self nie langs jou kind(ers) se oop grafte gestaan het nie???

Naʼnkindditgedoenher ·

Selfdood is die ergste geweld wat iemand sy/haar familie kan aandoen. Die effek bly lewenslank. Moenie dit doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.