Kanker onder kinders: Kyk uit vir dié gevaartekens

Argieffoto

September is die bewusmakingsmaand vir kinders met kanker, en hoewel kanker onder kinders relatief skaars is, skat die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) dat tussen 800 en 1 000 kinders jaarliks met kanker gediagnoseer word.

Dit is daarom belangrik vir ouers en versorgers om bewus te wees van die algemeenste gevaartekens van kanker onder kinders.

“Dit is tragies dat baie gevalle ongediagnoseerd en onbehandeld gelaat word, so ons wil die publiek aanmoedig om meer te leer oor die gevaartekens sodat ons land se kinders gediagnoseer kan word en sou gou as moontlik die gepaste behandeling kan ontvang,” sê dr. Tanya Schickerling, ʼn pediater wat in onkologie en hematologie by die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton spesialiseer.

Schickerling sê daar is eenvoudige riglyne ontwikkel om ouers en versorgers te help om kanker by kinders raak te sien. Die gevaartekens vir kanker onder kinders is as volg:

  • Kry betyds mediese hulp vir simptome wat voortduur.
  • Oogverwante simptome sluit in ʼn wit kolletjie in ʼn oog, die verswakking van sig, oë wat skeel trek en die uitbult van die oogbal.
  • Knoppe wat opmerklik is in die buik, pelvis, kop, nek, ledemate, testes of kliere.
  • Onverklaarbare simptome van verlengde koors vir meer as twee weke. Gewigsverlies, bleekheid, swakheid, vinnige kneusing of bloeding.
  • Seer bene, gewrigte en rug.
  • Neurologiese tekens soos die agteruitgang van stap, balans of spraak. Die agteruitgang van ontwikkelingsmylpale, hoofpyn wat langer as een week duur en ook gepaard gaan met braking en die swel van die hoof.

Schickerling sê hierdie tekens moet nie geïgnoreer word nie en dat ouers en versorgers daarvan moet kennis neem. Indien dié simptome by ʼn kind opgemerk word, moet die kind so gou as moontlik mediese aandag kry.

“Terwyl die vooruitsig van ʼn potensiële kankerdiagnose vir enigeen vreesaanjaend is, is dit noodsaaklik dat ouers nie ʼn blinde oog draai en hoop dat die kind se simptome hulself gaan uitsorteer nie. Ons moedig ouers aan om eerder die gevaartekens saam met die ondersteuning van ʼn dokter te konfronteer sodat die onderliggende oorsaak so gou moontlik behandel kan word, of dit nou kanker of ʼn ander kondisie is,” sê Schickerling.

Schickerling moedig mense aan om gedurende die bewusmakingsmaand goue strikkies te dra om só hul steun vir families wat deur kanker onder kinders geraak word te wys.

“Met groter bewusmaking van die vroeë gevaartekens van kanker onder kinders hoop ons om kinders vinniger te diagnoseer en te behandel, omdat dit belangrik is om gewenste kliniese resultate te lewer,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Miskien moet ouers net begin on na inenttings te kyk. Sal nogal help om te weet dat dit ook Autism en kanker veroorsaak.

Antje ·

Regtig? En waar lees jy die FEITE? Stuur ons bietjie die skakels na mediese joernale?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.