Kinderontvoerings: Wees paraat met dié wenke

kinderontvoerings

Foto: pixabay.com

Tinus Vollgraaff van Solidariteit deel belangrike wenke oor hoe om jou kinders veilig te hou.

 Wenke vir ouers:

  • Weet altyd waar jou kind is. Mensehandelaars is professioneel en uiters bedrewe in die ontvoering van kinders en jy wil dit so moeilik as moontlik vir hulle maak om dit te doen.
  • Leer jou kinders van jongs af hulle naam, adres en kontaknommers, en jou naam en van.
  • Ken die name, adresse en kontaknommers van jou kinders se vriende. Wees bedag op elke vriend wat jou kinders maak en wend ʼn besliste poging aan om hom of haar te leer ken.
  • Stel streng prosedures vas vir die afhaal van kinders by die skool, na fliek, by vriende se huise, ensovoorts.
  • Hou jou kinders (veral kleuters) naby jou huis en weg van die straat af. Leer hulle ook om nooit alleen te stap nie, maar altyd saam met ʼn vriend of vertroude volwassene. Moet hulle nooit alleen winkel toe stuur nie.
  • Moet nooit jou kinders alleen in ʼn voertuig laat nie, selfs nie vir ʼn paar sekondes nie. En herinner hulle daaraan om nooit ʼn rygeleentheid van iemand te aanvaar wat jy nie ken nie, al ken hulle die persoon.
  • Luister aandagtig wanneer jou kind jou vertel van iemand wat hy/sy ontmoet of mee gepraat het terwyl jy nie in die omtrek was nie.
  • Leer jou kinders om geraas te maak wanneer hulle deur ʼn vreemdeling genader word. Leer hulle om te skree om aandag te trek wanneer hulle in die moeilikheid is.
  • Vermaan hulle voortdurend dat vreemdelinge nie vertrou moet word nie. Hulle mag nie enigiets van ʼn vreemdeling neem of iewers saam met hulle gaan nie. Skep ʼn gesinskode wat net aan jou gesin bekend is.
  • Daar bestaan geen wagperiode alvorens ʼn kind as vermis aangemeld kan word nie. Hou die volgende inligting gereed wanneer jy ʼn vermiste kind aanmeld: ouderdom, kleur van oë, haarkleur/styl, lengte, gewig, opvallende merke, waar die persoon laas gesien is, en watter klere hy/sy aangehad het. Kontak ook Missing Children SA, wat tussenbeide sal tree waar hulle kan.
  • Hou altyd ’n onlangse foto van jou kind in jou beursie of op jou selfoon. In geval van nood is die foto geredelik beskikbaar.

Wenke vir kinders:

  • Moet nooit alleen iewers heengaan nie. Maak seker jy bly in ʼn groep of by ʼn vertroude volwassene.
  • Moet nooit iewers heen gaan sonder om jou ouers of voogde te sê waar jy is nie. Maak seker jou ouers het die name en kontakbesonderhede van die persone saam met wie jy is en laat hulle weet indien jou planne verander.
  • Vermy eensame plekke en kortpaaie deur gangetjies of verlate areas. Loop altyd saam met vriende.
  • Gaan reguit huis toe na skool tensy jy ander reëlings getref het en moet nooit iemand se huis binnegaan of in sy/haar voertuig klim sonder toestemming van jou ouers nie.
  • Moet nooit inligting, insluitende jou naam en adres, oor die telefoon verskaf of aandui dat jy alleen is nie.
  • Moenie saam met mense gaan wat jy nie ken nie en moenie openbare kleedkamers alleen besoek nie.
  • Skryf jou naam op die binnekant van jou klere of skooltas, nooit aan die buitekant waar vreemdelinge dit kan raaksien nie.
  • As iemand jou agtervolg, skree hard en hardloop so vinnig weg as wat jy kan.

Besoek gerus Solidariteit se webblad vir soortgelyke artikels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicoline ·

Baie dankie vir al die wenke wat julle deurgee aan ouers en kinders.. Ek wil graag vra as julle so berig plaas gee ons die opsie om dit te kan print of die berig aante kan stuur na mense wat nie toegang het tot internet om die berugte te kan lees… Met sulke goeie wenke kan mens dalk net n kind se lewe red deur die inligting, per hand aan ouers te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.