Kinders, die internet en selfoonpornografie

slimfoon-slimfone

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Annette van Loggerenberg

Wat ’n onskuldige WhatsApp-groepie tussen laerskoolmeisies was, het later vir Antoinette (skuilnaam), ’n 12½-jarige meisie uit ’n gemiddelde gesin, ’n nagmerrie geword.  Sy en haar skoolvriende het ’n WhatsApp-groep gevorm en gereeld vir mekaar foto’s en grappies gestuur.  As ’n grap het sy ook foto’s van haar geslagsdele op die groep geplaas. Ongelukkig het een van haar vriendinne dit ook aan hoërskoolleerlinge gestuur en het dit ook by senior hoërskoolseuns uitgekom.

Die seuns het haar toe begin terroriseer om nog foto’s te stuur en gedreig om haar ouers te vertel.  Nadat sy die eerste foto’s gestuur het, is sy verder gedreig en het sy weer foto’s gestuur. Haar ma het gelukkig gereeld haar selfoon gekontroleer en sodoende op die foto’s afgekom. Hierdie voorvalle is ook by die SAPD aangemeld.

Uit gesprekke met Antoinette het die volgende egter geblyk:

  • Sy word oorbeskerm deur haar ouers;
  • Alhoewel sy baie lief is vir beide haar ouers, is daar nie openhartige kommunikasie tussen die gesinslede nie en word enige gesprekke oor seksualiteit vermy;
  • Antoinette word opgevoed met die gedagte dat sy perfek moet wees en nie foute mag maak nie;
  • Sy wou baie graag haar ouers vertel van die insidente, maar was te bang vir hul reaksie en die gevolge;
  • Tans worstel Antoinette met erge skuldgevoelens en die gevoel dat sy haar ouers so diep teleurgestel het, dat hulle haar nooit sal vergewe nie. Sy voel ook verneder en skaam dat sy op só ’n manier blootgestel is aan seuns, meisies en moontlik ook volwassenes; en
  • Sy het nooit besef dat selfs volwassenes hul profiel kan verander om soos skoolkinders te lyk nie.

Antoinette se onskuld, onkunde en gebrekkige kommunikasie in haar ouerhuis, het haar dus weerloos gelaat om haarself teen ouer leerlinge te beskerm.

Wat is pornografie: Die voorstelling of beskrywing van erotiese gedrag (seksuele beelde of leesstof) wat daarop gemik is om seksuele opwinding te stimuleer.

Effek van internet-/selfoonpornografie op kinders:

  • Kinders wat op ’n jong ouderdom aan seksuele beelde blootgestel word, ervaar gewoonlik walging, skok, verleentheid, woede, angs en selfs hartseer;
  • Kinders worstel dikwels met al die simptome van angs en depressie;
  • ’n Kind se brein kan nie die beelde van pornografie verstaan nie, sy liggaam kan wel op ’n seksuele wyse op die beelde reageer, sodat hy dink hy hou daarvan, maar sy brein aanvaar nie wat hy sien nie en dit skep verwarring;
  • Volgens navorsing kan kinders wat baie blootstelling aan ontoepaslike seksuele beelde het, amper obsessief daaroor raak om volwasse seks wat hulle waargeneem het, op maatjies te probeer. Aanmeldings by kantore van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) handel soms oor selfs kleuters wat seksuele dade by die kleuterskool met hulle maats probeer;
  • Navorsing dui ook daarop dat kinders jonger as 12 jaar wat pornografiese beelde gesien het, meer geneig is om hul portuurgroep seksueel aan te rand;
  • Langdurige blootstelling kan lei tot geestesversteurings;
  • Kinders kan onbeheerbare gedrag toon;
  • Kinders kan gewelddadige gedrag wys;
  • Kinders en tieners kan gedesensitiseer (ongevoelig) raak deur aanhoudende blootstelling aan pornografie – wat kan lei tot onnatuurlike seksuele gedrag;
  • Tieners kan begin eksperimenteer met hoërisiko- seksuele aktiwiteite;
  • Kinders is meer geneig om eksplisiete foto’s van hulself te stuur;
  • Pedofiele gebruik ook dikwels selfoon-/internetpornografie om kinders geleidelik te desensitiseer en voor te berei ten einde hulle meer vatbaar/weerloos te maak vir seksuele uitbuiting;
  • Volgens ’n uitgebreide studie wat in Amerika gedoen is, het 51% seuns en 32% meisies pornografie waargeneem voor die ouderdom van 12 jaar.

Nadele van internet-/selfoonpornografie:

  • Dit kan baie maklik ’n verslawing word wat vinniger ontwikkel as dwelm-/alkoholafhanklikheid, want dit betrek ons mees sensitiewe sintuig – die oog. Die brein stoor dié prentjies in die geheue en verbeelding en dit bly vir jare daar;
  • Gereelde en langdurige kyk na pornografie op ’n weeklikse/daaglikse basis, verminder die grysstof in die brein (deel van die sentrale senuweestelsel). Daar is minder neurone en neuro-konneksies in die brein wat verband hou met die plesiersentrum van die brein. Die brein smag na meer van dieselfde beelde, maar dit raak ook moeiliker om dieselfde plesier van dieselfde beeld te kry.

Wat kan ek as ouer doen om my kind meer weerbaar te maak teen die misbruik van selfoon-/internetpornografie?

  • Internet:

* Tuisrekenaars moet in ’n oop, sigbare deel in die huis wees, nie in die kind se slaapkamer nie;
* Gebruik sagteware om internetinligting te filtreer;
* Kinders moet nie onbeperkte toegang tot internet hê nie.

(Die DVD Trust – ongelukkig kru taal – is baie bruikbaar om saam met tienerkinders te kyk.)

  • Selfone:

* Ouers is daarop geregtig om hul kinders se selfone gereeld te monitor. Wees bedag daarop dat kinders dikwels versteekte lêers vir pornografie het;
* Kinders se selfone behoort teen slapenstyd afgesit te word (geen deurnagtoegang tot selfone nie);
* Ouers behoort te verseker dat hulle weet wie hul kinders se vriende is en moet ook die kontakbesonderhede van die vriende se ouers hê;
* Sagtewareverskaffers bied ook filtrering en monitering van slimfone – wat tans baie gereeld deur tieners gebruik word om toegang tot die internet te verkry
Ouers moet kennis neem dat indien kinders naakfoto’s of foto’s van ’n seksueel eksplisiete aard aanstuur, dit as ’n kriminele oortreding beskou kan word (verspreiding van pornografie).

Onthou die grootste risikogroep is tienerseuns in die ouderdomsgroep 13 tot 17 jaar. 

  • Annette van Loggerenberg is die bestuurder van Christelike Maatskaplikeraad Noord (CMR-Noord).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E ·

Selfone en pornografie sal nooit ophou nie. Die beste wat ons as ouers kan doen is om eerlik en openlik ń gesprek met ons kinders hieroor te hê. En ja, gee al die details en verduidelik waarhede soos dit is. Geen meer nuuskierigheid agter jou rug en as hul iets wil weet vra jou ouers en verwag die waarheid.

Anoniem ·

100%. Sys n kind, sy dink natuurlik soos een, maar leiding van ouers is die belangrikste. Dis tough. Hoop sy kry hulp om aan te gaan.

Pret ·

@E, ek’t my kids se selfone met my en my vrou se rekenaars gelink, en kan alles sien wat hulle doen, en blok op met wifi en data. Maklik soos dit.

Maarnetnma ·

My dogter was 13 en na n hoërskool opedag gegaan. Daar het n matriekseun begin deur eers onskuldige boodskappe te stuur. Dit het verander na boodskappe waar hy haar ‘groom’ na wat hy wil he. Ek het dit op haar foon gekry en polisie toe geneem. Sy pa het my begin dryg en gese hy gaan haar fotos versprei aangesien hy ook in besit is daarvan. Ons het dit reggekry om n saaknommer te kry en sou voor die hof kom. Die staatsaanklaer het my gebel om haar te kom sien. Al waarin sy belang gestel het was dat ons die saak terug trek. Het selfs vir my gese ek gaan die oorsaak wees dat die seun nooit werk kry nie. Ek het uit die hofgebou gestorm net om n sms te kry dat ek die saak terug getrek het. Op die hofdokumente is daar namens my geteken nie eers naby my handtekening nie. Na duisende rande se regskostes, sit ek met n verbrokkelde verhouding met my kind, wat nou in n ander dorp bly omdat die man haar steeds tyster. Ongelukkig help die gereg in ons land net die persoon wat verkeerd gedoen het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.