Kinders en sosiale media: Wat jy moet weet

Dr. Lizzie Harrison saam met Martin Bester (Foto: JacarandaFM)

Dr. Lizzie Harrison, ’n kenner op die gebied van kinders en sosiale media, het onlangs met Martin Bester op Jacaranda FM gepraat oor die moets en moenies vir kinders op sosiale media.

Harrison wil mense, veral ouers en kinders, oplei oor die uitwerking van die misbruik van sosiale media uit ʼn wetlike en sielkundige oogpunt.

Harrison beklemtoon dat ouers meer betrokke moet wees rakende hul kinders se gebruik van selfone en sosiale media.

“Ouers moet weet watter apps hul kinders gebruik,” het Harrison gesê. “As jy nie self Instagram en Snapchat gebruik nie, is dit bitter moeilik vir jou om wag te hou oor wat daarop gebeur wanneer jou kinders dit gebruik.

“Ons moet wel vir die kinders ʼn mate van privaatheid ook gee, anders gaan hulle voel jy vertrou hulle nie. En hulle sal dan uit hul pad uit gaan om toegang te kry tot sosiale media. Kinders hou partykeer selfone by die skool sodat ouers dit nie kan bekom nie.”

Harrison stel voor dat ouers ʼn “kontrak” met hul kinders opstel wanneer hulle die eerste keer ʼn selfoon kry. Sy sê die gepaste ouderdom vir ʼn kind om ʼn selfoon kry is op 13 jaar.

Argieffoto (Foto: DailyMail)

“Die kontrak stel net die reëlings vas met jou kinders, sodat hulle van die begin af weet hoe dit gaan wees. Dan weet ʼn kind jy mag daarna kyk, jy mag vrae vra en jy mag toegang hê tot die selfoon.”

Harrison het gesê probleme kom voor wanneer jy by jou kind se selfoon of sosiale media begin inmeng wanneer hulle reeds ouer is, want dan gaan hulle voel asof jy hulle nie vertrou nie.

“As jy jou kind sover kan kry om so ʼn soort kontrak te teken, gaan dit jou lewe later baie vergemaklik, want die kind het ingestem daartoe.”

Harrison moedig ook ouers aan om kinders op te voed oor die risiko’s van sosiale media.

“Ons almal is verslaaf daaraan. Selfone en sosiale media word gemaak om ons verslaaf te hou daaraan. Hoe meer ons sosiale media gebruik en hoe meer likes ons op ʼn foto kry, hoe meer wil ons dit hê. Kinders het die vermoë om hul gedrag self te reguleer, maar is nog nie so goed daarmee nie omdat hul brein nog nie heeltemal ontwikkel is nie.

“Kinders het die bevestiging van ander mense nodig. Hulle baseer hul selfwaarde op mense se reaksies op hul sosialemediaplasings. Ek het agtergekom dat kinders ʼn foto op Instagram sal laai en dit dophou vir twee uur. As die foto dan nog nie genoeg likes gekry het nie, sal hulle dit afvee.”

Harrison waarsku ook ouers teen “volt-apps”. Hierdie soort selfoon-toepassings gee hulself voor as een ding, maar dien ʼn ander funksie.

“Een spesifieke soort is ʼn app wat jy kan aflaai waar die ikoon lyk soos ʼn sakrekenaar, maar wanneer jy daarop klik, moet ʼn wagwoord ingesleutel word, en dit is dan eerder ʼn stoorplek vir naakfoto’s. Kinders maak gebruik hiervan omdat ouers nie daaraan sal dink om op die sakrekenaar-ikoon op ʼn selfoon te druk nie,” het Harrison gesê.

Harrison het gesê naakfoto’s in skole is baie meer algemeen as wat mense dink, en dat die gemiddelde ouderdom waarop kinders aan harde pornografie blootgestel word, slegs agt jaar oud is.

“ʼn Ander ding wat kinders gebruik, is Qooh.me. Dit is ʼn webwerf waar mense anoniem vrae aan jou kan stuur, en jy kan vir ander ook vrae vra. Maar niemand weet wie die ander is of wie vir jou die vrae vra nie. Dit is problematies omdat mense op ʼn selfoon, en daarby nog anoniem ook, baie ander soort vrae sal vra as wat hulle iemand ooit in die regte lewe vra. Hierdie soort webwerwe lei ook gereeld tot boeliegedrag.”

Kinders word vandag aan veel meer blootgestel as ouer mense op dieselfde ouderdom weens die internet, sosiale media en YouTube. Dit vergroot ook die risiko vir selfmoord onder kinders. Kinders het byvoorbeeld ook ʼn verdraaide idee van seks omdat hulle slegs weet wat hulle op die internet teëkom.

Ouers moet met hul kinders praat oor hierdie dinge sodat hulle nie hul eerste indrukke daaroor op sosiale media kry nie.

Harrison het beklemtoon ouers moet betrokke raak en oop kommunikasiekanale met hul kinders hê oor die gevare van sosiale media.

“Ons almal is verslaaf aan die skerm, maar ons moet die kinders leer om ʼn balans te handhaaf tussen die skerm waarna hulle kyk en ander aktiwiteite, soos om kreatief te wees, te sosialiseer, buite te speel en hul eie verbeelding te gebruik.

“Die probleem vandag is dat ons nie wil hê kinders moet verveeld wees nie, maar verveeld is eintlik die beste ding wat ʼn kind kan wees. Want dit dwing hulle om kreatief en verbeeldingryk wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karen Loots ·

Wat ‘n wonderlike artikel. Dankie Maroela. Dis so die seisoen waarin ons leef en so nodig om ingelig te wees. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.