Kinders leer hoe om met mekaar te speel

poppekas

Foto: Verskaf.

“Om kinders te leer om mekaar te aanvaar is ’n grondliggende konsep in vroeëkinderontwikkeling,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die CMR Gauteng-Oos.

Die kinders van Duifie Kleuterskool by Moreletapark-gemeente, wat onlangs deur Beeld en SA Child Cares as Gauteng se beste kleuterskool aangewys is, is verlede week, as deel van die CMR Moreleta-tak se Kinderbeskermingsweek-aktiwiteite, op ’n poppekas getrakteer deur personeel van die Situla skool, ’n voorskool vir kleuters wat gespesialiseerde aandag benodig.

Die poppekasstorie het die kinders geleer dat almal mekaar moet aanvaar en met mekaar moet speel, en dat maatjies wat “anders” is, nie uitgelaat of gespot behoort te word nie.

Van der Merwe benadruk dat kinders onder die mees kwesbare lede van die gemeenskap is.

“Soveel kan verkeerd gaan in die vormingsjare, selfs kinders wat in die hoofstroom grootword, is kwesbaar vir boelie, isolasie, en ander sosiale kwessies wat op ʼn baie vroeë ouderdom in kleuterskole aandag moet kry.

“Voorkoming is altyd beter as regstellende terapie of ingryping. ’n Kind wat reeds op voorskoolvlak geboelie of geïsoleer word, bly ’n kortkop agter sy maats terwyl hy grootword. Hierdie kinders gaan sekerlik ook met skoolwerk probleme ervaar, omdat hulle reeds vroeg ’n swak selfbeeld ontwikkel,” verduidelik van der Merwe.

  • CMR Gauteng-Oos werk met kinders en gesinne in Tshwane deur middel van 13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Meer inligting kan bekom word by Henda van der Merwe by 072 801 0092.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.