Kinders met leerprobleme: AGHS

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) is aan die orde van die dag. (In Engels staan dit bekend as ADHD, attention deficit hyperactivity disorder.) Sê die woord AGHS en ’n menigte reaksies en emosies word by (veral) ouers ontketen. In my praktyk as opvoedkundige sielkundige hoor ek daagliks die opmerking dat “my kind se hele klas” AGHS-medikasie soos Ritalin of Concerta gebruik en/of dat “almal in my kind se klas AGHS” het.

Maar wat is AGHS dan werklik?

AGHS is ’n neuro-ontwikkelingsdisfunksie. In eenvoudige terme beteken dit ’n disfunksie in dele van die brein. Dié disfunksie kan ’n invloed hê op ’n kind en volwassene (ja, volwassenes kan ook AGHS hê) se gedrag, selfbeheer, geheue, konsentrasie, selfbeeld en vermoë om te leer.

Wat is die simptome van AGHS?

AGHS maak sy verskyning op die volgende drie maniere met voorbeelde van simptome en/of gedrag:

Afleibare tipe:

  • Ondervind probleme om op detail te fokus en maak onnodige foute.
  • Moeilik om aandag te gee en te fokus.
  • Ervaar probleme om opdragte en aanwysings te volg.
  • Het probleme om hom- of haarself en skoolwerk te organiseer.
  • Verloor dikwels dinge.
  • Aandag word maklik afgetrek.
  • Is vergeetagtig in die daaglikse handel en wandel.

Hiperaktiewe-impulsiewe tipe:

  • Vroetel met die hande en voete of skuif rond op ’n stoel.
  • Ondervind dit uitdagend om te bly sit.
  • Hardloop en klim en klouter oormatig rond.
  • Tree op asof hy of sy deur ’n masjien aangedryf word.
  • Praat aanhoudend.
  • Ervaar probleme om sy of haar beurt af te wag.

Gekombineerde afleibare en hiperaktiewe-impulsiewe tipe:

  • Toon simptome van sowel afleibare as hiperaktiewe-impulsiewe tipe.

Wat veroorsaak AGHS?

Hoewel AGHS een van die mees algemene kindertyd-disfunksies (“childhood disorders”) is, is die oorsaak steeds kontroversieel. Kundiges volstaan meestal daarby dat AGHS geneties is en/of deur die omgewing en/of deur albei oorgedra en veroorsaak kan word.

Waar klop ek as ouer aan om hulp?

By ’n opvoedkundige sielkundige wat met AGHS werk.

Waarom ’n opvoedkundige sielkundige?

Die behandeling van AGHS sluit terapie of ’n kombinasie van terapie en medikasie in. In my werk met kinders en volwassenes die afgelope 23 jaar, as opvoedkundige sielkundige en voormalige onderwyseres, is daar meestal ’n groot verbetering by ’n kind wanneer ek saam met die ouers ’n aksieplan uitwerk en terapie instel wat die aanpak en praktiese hantering van die volgende insluit:

  • eetgewoontes;
  • roetine en aktiwiteite tuis en ná skool;
  • ouerskapstyle en dissiplinering;
  • huwelikskonflik en probleme.

Ouers se persepsie van eetgewoontes, ouerskapstyle, dissiplinering en probleme in hul huwelik is dikwels, sonder dat hulle daarvan bewus is, nie heeltemal in die kol nie. Wanneer laasgenoemde aspekte nie in balans is nie, kan dit veroorsaak dat hul kind se AGHS en/of simptome daarvan aan die gang gesit word.

Is daar hoop?

Ja, beslis. Wanneer ’n kind met AGHS of simptome daarvan ouer is (selfs vanaf graad 1) en bewus is van hierdie simptome kan hy, met behulp van ’n opvoedkundige sielkundige, doeltreffend ondersteun word. Hy word gehelp om, deur middel van terapie, te leer hoe om sy emosies en gedrag beter te verstaan, te hanteer en te beheer. Hierdie kind kan ook gehelp word om ontslae te raak van die stigma dat daar iets met hom skort, wat meestal aan AGHS kleef. Gesinsterapie word ook dikwels ingespan, waardeur die hele gesin ondersteun word om vaardighede soos beter selfkennis en doeltreffende kommunikasie tuis te bewerkstellig. ’n Kind met AGHS toon dikwels ’n gebrek aan sosiale vaardighede en kan deur middel van terapie bemagtig word om homself, met sy AGHS, beter te leer ken en te aanvaar, asook om positiewe maniere van sosiale wisselwerking aan te leer.

Belangrike aspekte wat verder in die terapie met ’n AGHS-kind aangeraak word, is beplanning en tydsbesteding, aspekte wat ouers dikwels teen die mure uitdryf en ’n AGHS-kind nog meer magteloos en ontoereikend laat voel. Al bogenoemde aspekte van terapie sluit oorkoepelend die AGHS-kind se ontwikkeling van ’n positiewe selfbeeld en selfaanvaarding in.

Die opvoedkundige sielkundige, sowel as die ouers, sal in oorleg met mekaar besluit wanneer dit wel nodig is om hul kind verder deur middel van medikasie te ondersteun.

Let daarop dat die diagnose van AGHS slegs gemaak kan word deur dokters, psigiaters en gesondheidspesialiste soos neuroloë en pediaters.

Besoek gerus dr. Marisa van Niekerk se webtuiste hier.

Bronverwysings

http://www.nhs.uk/conditions/Attention-deficit-hyperactivity-disorder/Pages/Treatment.aspx

https://en.wikipedia.org/wiki/Attention_deficit_hyperactivity_disorder

http://www.cdc.gov/ncbddd/adhd/diagnosis.html

http://www.help4adhd.org/documents/adhd%20and%20the%20dsm%205%20fact%20sheet%202.0.pdf

Dulcan, MK. 2010. Dulcan’s textbook of child and Adolescent Psychiatry. Washington, DC: American Psychiatric Publishing, Inc.

Honos-Webb, L. 2010. The ADHD workbook for teens: activities to help you gain motivation and confidence. Oakland, United States of America: New Harbinger Publications, Inc.

Taylor, JF. 2008. The survival guide for kids with ADHD. Minneapolis,  Accessible Publishing Systems PTY, Ltd.

Marisa van Niekerk

Meer oor die skrywer: Marisa van Niekerk

Dr. Marisa van Niekerk is 'n opvoedkundige sielkundige. Sy het haar doktorsgraad verwerf in trauma en spesialiseer in terapie, sowel as in spelterapie.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Olivia ·

Te min inligting. Beide ek en my seun het ADD en dis ADD waarvan hiperaktiwiteit ‘n simptoom is, nie ADHD nie. Daar is 7 verskillende tipes ADD en dit hang af van breinarea voor medikasie voorgeskryf moet word. Indien die korrekte prosedures gevolg word en ‘n SPECT skandering of MRI gedoen word en die direkte breinarea bevestig word moet medikasie nie net voorgeskryf word nie. ADD is ‘n komplekse kondisie en stukke soos die help nie. Gaan kyk na Dr Amen en Dr Russell A Barkley op YouTube vir volledige inligting.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.