Kinders met spel- en leesprobleme

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

“Help! My kind sukkel met spel, skryf en lees!” Dis ’n noodkreet waarmee opvoedkundige sielkundiges daagliks te doen kry. “Niemand het my ooit gesê dat daar enige probleem met my kind is nie!” Dis weer ’n baie algemene uitdrukking van ’n ouer se frustrasie met ’n kind wat probleme ervaar met spel, skryf en lees.

Het jy al ooit aan die volgende gedink: Ten einde te leer spel, lees en skryf, moet jou kind die volgende weet:

  • wat die name van sy liggaamsdele is;
  • waar sy linker- en regterkant is (belangrik: om dit werklik te ken, moet hy ook weet waar links en regs is as hy byvoorbeeld na ’n ander kant toe kyk);
  • deeglik kennis dra van die grondbeginsels: voor/agter; bo-op/onder; langs; tussen; voor/na; en so meer.

Jou kind moet ook (onder meer) die volgende kan doen ten einde gereed te wees om skryf- en leesvaardighede aan te leer:

  • huppel en galop (ritmiese bewegings);
  • stap, draf, hardloop (ritmies en op die maat van musiek);
  • op ’n reguit lyn vorentoe en agtertoe kan loop (sonder om vir sy voete te kyk en sonder om langs die lyn te trap);
  • vloeiende en egalige skrifpatrone kan maak.

Bogenoemde voorbeelde klink vir baie ouers na ’n spul twak, veral as hul kind ook die volgende moet kan doen: sterspronge, op een been staan, touspring, eenbeentjie of hinkspel (“hopscotch”) kan speel, ritmiese patrone kan “na-klap” (“copy”), krale kan inryg, netjies kan knip, ’n bal kan vang, skop, gooi, bons en so meer.

Die rede waarom jou kind al bogenoemde aktiwiteite moet kan uitvoer, is omdat lees en skryf ritmiese bewegings behels. Bogenoemde aktiwiteite vorm met ander woorde deel van die boustene vir lees en skryf. ’n Kind wat byvoorbeeld nie weet waar die linker- en regterkant van sy lyf is nie, kan probleme ervaar om tussen b en d te onderskei. ’n Kind wat nie weet waar voor of na, of eerste/middelste en laaste is nie, sal moontlik probleme met spelling en die volgorde van letters ervaar soos byvoorbeeld: mat – watter klank hoor jy eerste/laaste/in die middel of voor/na.

Baie ouers vra die vraag: Moet ek my kind formeel leer lees en skryf voor graad 1? Die antwoord is “nee” – gaan speel net met jou kind, want so berei jy hom voor om gereed te wees om te leer lees en skryf. En wees versigtig om nie te dink dat as jy jou kind ’n oulike werkboekie in die hand stop en saam met hom deurwerk, hy goed voorberei word vir lees en skryf nie. Wat jou kind nodig het, is (in hierdie volgorde):

  • Driedimensionele aktiwiteite:
    • opdragte soos: “Staan agter/voor/langs die swaai”;
    • “Skop die grootste bal”;
    • “Raak met jou regterhand aan jou linkeroor”.
  • Tweedimensionele aktiwiteite:
    • kaartspeletjies;
    • bordspeletjies;
    • penborde;
    • opdragte soos: “Sit die rooi sirkel aan die linkerkant van die blou sirkel” ; “Watter prent is die naaste aan jou?”.
  • Eendimensionele aktiwiteite:
    • papierwerk en werkkaarte.

Jou kind moet eers driedimensioneel kan speel en leer voordat hy gereed is om op tweedimensionele vlak te speel en te leer. Die eendimensionele vlak is die laaste in die ry.

Waar kan ’n ouer wie se kind sukkel met spel en lees aanklop vir hulp? ’n Opvoedkundige sielkundige kan ’n assessering doen ten einde te bepaal wat jou kind se verstandelike vermoë is en indien wel, watter gapings jou kind toon. ’n Opvoedkundige sielkundige sal jou, indien nodig, na ’n arbeidsterapeut verwys, indien jou kind se vaardighede ter gereedmaking van lees en skryf nie vasgelê is nie. ’n Opvoedkundige sielkundige sal ook die nodige verwysings kan maak na ’n pediatriese oogkundige, oudioloog, spraakterapeut en so meer, as sy vermoed dat daar enige probleme in hierdie gebiede is.

Wil jy meer weet hoe om jou kind te ondersteun om gereed te wees vir lees en skryf? Gaan lees dan meer oor onder meer klim en klouter, middellynkruising, balans, luistervaardighede (ouditiewe persepsie) en sigvaardighede (visuele persepsie), sowel as growwe en fyn motoriese koördinasie.

Let wel: Hierdie artikel geld nie slegs vir graad 1-leerders nie, maar is ook van toepassing op ander leerders in die grondslag- en selfs primêre fase (en soms ook sekondêre fase) wat lees- en skryfprobleme het – tensy ander probleme soos disleksie en/of ’n disfunksie in sy brein gediagnoseer is. Indien daar geen disfunksies by jou kind gediagnoseer kan word nie, kan die opvoedkundige sielkundige die nodige verwysings maak na relevante professionele kundiges wat jou kind kan ondersteun. Die deurslaggewende faktor vir sukses word uiteindelik grootliks bepaal deur die ouers se verbintenis (“commitment”) om hul kind tuis met die huiswerk, wat die terapeute gee, te help.

Besoek gerus dr. Marisa van Niekerk se webtuiste hier.

Marisa van Niekerk

Meer oor die skrywer: Marisa van Niekerk

Dr. Marisa van Niekerk is 'n opvoedkundige sielkundige. Sy het haar doktorsgraad verwerf in trauma en spesialiseer in terapie, sowel as in spelterapie.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Johann Marx ·

En vir ons Suid Afrikaners wat so sukkel met “I are, I is, I am” en “wif” en “fenk you”……gaan koop vir jou ‘n dik Engelse storieboek, en elke keer as jy op die troon sit, lees vir jouself hardop voor. My Afrikaanse kinders kry vandag gereeld mense wat vra of hulle huistaal dan “Engels” is…..

Leendert van Oostrum ·

Dankie vir ‘n baie goeie en bruikbare artikel.

Dit bevestig weereens hoe belangrik vrye spel en klim-en-klouter vir jong kinders is. En dit stem ooreen met onlangse navorsing in Nederland wat daarop dui dat die praktyk om kinders te vroeg te leer lees waarskynlik die grootste oorsaak van disleksie kan wees.

Wat Moore & Moore natuurlik getoon het is dat feitlik alle kinders die nodige vaardighede vir leesgereedheid natuurlik ontwikkel as mens hulle nie dwing om te lees voordat hulle daarvoor gereed is nie.

En die Moore’s kom tot die gevolgtrekking dat dogters eers teen omtrent ouderdom agt al hierdie dingetjies in plek het, en seuns teen ouderdom tien! Hulle het dan ook getoon dat kinders wat eers teen ouderdom elf leer lees geen agterstand het teen die tyd dat hulle ouderdom dertien bereik nie – trouens, hul leesvaardighede is dan beter as hul ouderdomgsgenote wat op jonger ouderdom leer lees het.

Maar die dwangbuis waarin stelsels soos CAPS die kinders plaas laat nie speling vir die individuele ontwikkeling van elke kind nie.

Daarom het elke gegoede skool ‘n hele wolk van allerlei soorte terapeute wat hom omring, en wie se taak dit is om die kinders kunsmatig te dwing om in die boksies van die stelsel te pas. Kinders in arm skole het nie hierdie kweekhuis-stelsel tot hul beskikking nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.