Kinders moet meer teater sien

Fiestas

Die Fiëstas se paneelbespreking oor die rol van die kunstefeeste vir die Afrikaanse jeug. Foto: Twitter/kykNETtv

“Ons moenie kinders se intelligensie onderskat nie, laat hulle teater kyk! Tieners wil volwasse teater gaan kyk, hulle wil hul helde op verhoog sien.” sê Nico Scheepers, ʼn kenner van kinderteater, tydens die Fiëstas se paneelbespreking oor die rol van die kunstefeeste vir die Afrikaanse jeug.

Hy meen tieners sal meer opgewonde raak oor teater as hulle ook meer blootstelling daaraan kry. Baie skole in Suid-Afrika gee glad nie aandag aan die kunste nie en Nico sê die oplossing is gemeenskapsprojekte wat meer aandag aan teater skenk en kinders die geleentheid gee om deel te wees van ʼn produksie.

Een van hierdie inisiatiewe is WOW, ʼn projek wat kinders in die Wes-Kaap bemagtig deur kreatiewe projekte aan te bied, wat fokus op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste. Fiona van Kerwel, projekbestuurder by WOW, meen dié inisiatief gee kinders weer ʼn glinster in die oog. “Dié projek bied kinders die geleentheid om hul eie produksies te skep. Dit maak teater vir hulle baie lekker.”

Sy sê kinders wat betrokke is by WOW word ook blootgestel aan die Woordfees. “Hierdie kinders word uiteindelik feesgangers, juis oor dié blootstelling. Fiona het ook genoem dat meer fondse nodig is om sulke inisiatiewe te skep. “Mense wat nie ʼn toekoms vir hulself sien nie, kry bietjie meer hoop deur gemeenskapsteater.”

Woutrine Theron, stigter van die Nasionale Toneelkompetisie, sê sommige kinders gaan verlore na skool, veral as hulle nie universiteit toe gaan nie. Sy meen mense wat reeds opvoerings in hul gemeenskappe (soos kerke) hou, moet betrek word. “Kinders kan weer in die hoofstroom beland deur die gebruik van gemeenskapsteater.” Sy meen ook daar is genoeg energie in gemeenskappe om sulke projekte op die been te bring.

Herman van der Westhuizen, Nasionale Toneelkompetisie-organiseerder, sê meer as 500 skole regoor SA neem deel aan dié kompetisie. “Afrikaans is baie lewendiger as in my jare. Hoewel ons baie druk ervaar, is die kinders baie positief.”

Hoewel daar nog baie leemtes is as dit kom by die blootstelling van kinders aan teater, is dit goed om te weet daar is wel mense is wat passievol besig is om aan inisiatiewe te werk om kinders aan die wonderlik wêreld van teater bekend te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.