Kinders verveeld tydens die skoolvakansie?


Lindie Strydom deel hier ʼn paar wenke vir familietyd, gesinsbou en hoe om jou kinders tydens die vakansie besig te hou. Sy deel veral raad uit haar persoonlike lewe. -Red

In ʼn tyd wat televisie, Facebook, Twitter, WhatsApp, die internet en ander tegnologie ons met mense op enige plek en tyd kan verbind, leef ons ironies genoeg so los en afgesonder van mekaar. Ons weet van mekaar en ons weet van God, maar ons verleer hoe om verhouding te bou. Ons is afgestomp vir die ware eise van vriendskap. Ons leef langs mekaar, maar verby mekaar. Ons sien uit na die dag wat ons kinders hulle self kan besig hou, tot hulle op ʼn dag niks meer saam met ons wil of hoef te doen nie.

In vakansietyd gebeur dit so maklik dat ons ons kinders net “besig hou” sonder om te kuier en te gesels en sonder daardie spontane oomblikke waar waardes en lewenslesse sommer speel-speel oorgedra word. Saam lag skep ʼn oopheid, ʼn atmosfeer van vertroue en eenheid en ʼn sterker verhouding gee ons inspraak in ons kinders se sponshartjies.

Miskien lê die skoolvakansie soos ʼn berg voor jou omdat jy moet werk sonder enige blaaskans. Jou hartsbegeerte is egter ook om vir jou kinders ʼn spesiale tyd saam met mamma en pappa te verseker. Dalk voel jy alewig skuldig oor die min tyd saam met jou kinders en wonder hoe jy elke oomblik kan laat tel? Of dalk is jy as tuisskool-mamma verveeld met jou gewone lys aktiwiteite en lus om ander ouers se idees en kreatiwiteit op die proef te stel.

Hierdie is ʼn poging, saamgestel uit vriende se idees, bedoel om ouers, grootouers, onderwysers en versorgers te prikkel met nuwe alternatiewe wat ons verhoudings sal versterk – elke dag – heel jaar lank.

1. Vertel ʼn storie – ons speel dit op die lapa se bankies (amper iets soos ʼn mini-verhoog) Ek het glad nie gedink dat my kinders van die verhoog sou hou nie, maar dit werk soos ʼn bom. Paul begin byvoorbeeld die storie en Nina vat die storie vir hom verder. Van swaarde en stokke word alles skielik pienk en prinsessie-rig tot Hugo weer die seuntjie-geur mag gee.

2. Ons gesin geniet ʼn uitstappie na ʼn “normale” restaurant sonder ʼn klimraam wat baie meer opwindend as mamma en pappa lyk. Dis goed vir ons om mekaar weg van die huis en ander afleidings, in die oë te kyk en te gesels.

3. Jy kan ook een keer per maand so ʼn uitstappie apart met elke kind onderneem! Hulle het groot waardering vir daardie een-op-een-tyd alleen saam met mamma en pappa. Miskien het jy die film, Courageous gesien waar die pappa sy dogter leer hoe ʼn man behoort op te tree sodat sy niks minder verwag wanneer ʼn kêrel haar vir ʼn afspraak uit neem nie.

4. Spandeer tyd alleen saam met elke kind. Laat hulle die aktiwiteit self kies wat hulle graag saam met mamma of pappa wil doen. Probeer om elke dag so ʼn alleen-geselstyd te skep, al is dit net vir ʼn paar minute.

5. Ontdek weer jou eetkamertafel of sitkamermat en speel saam met jou kinders, maar laat hulle kies! Julle kan julle eie speletjies en reëls maak of georganiseerde speletjies – wat sommer altyd gereed moet staan (ja, maak dit maklik – nie agter in ʼn kas weggesteek nie).
– UNO
– speelkaarte (rummy, snap)
– “Go Fish” en “Hang Man” is vet pret vir kinders wat al kan lees en skryf.
– Pictionary en Actionary
– Stomstreke
– Bordspeletjies soos skaak, slangetjies en leertjies, Monopoly, Scrabble
– “Foosball”
– Kringetjies en kruisies

Sommer vinnig, vinnig sal die kinders hierdie aktiwiteite saam met mamma en pappa bó die televisie verkies.

6. Ons het ʼn Immergroen-karakterkrans. Die kinders maak beurte om ʼn waarde op die boompie te kies (daar is ʼn lys van 63 waardes!) en dan praat ons oor hoe lyk “deursettingsvermoë” of “integriteit” in die praktyk. Ouers hoef nie net te leer oor alles wat hulle self regkry nie… Hier is jou kans om eerlik te wees oor jou eie tekortkominge en om saam met jou kinders die waardes te leer en te oefen.

7. Storie lees is altyd ʼn treffer! As mamma of pappa so bietjie stemme en beweging kan bysit – nog beter. Lees die storie tot op ʼn punt en maak dan self ʼn einde op.

8. Gee elke kind ʼn beurt om te kies wat daardie dag gedoen of gespeel word. Ons leer hoe ons verskil en om mekaar se verskille te respekteer, te waardeer en te geniet.

9. Stoei met pappa is belangrik veral vir die seuns wat nodig het om so bietjie te rough and tumble saam met pappa.

10. Laat die kinders konsert hou of saam met hulle gunstelingsanger (probeer) sing. (Mamma en pappa moet ook hulle naam met ʼn plank slaan!) Maak jou eie weergawe van Noot vir Noot waar jy kriptiese leidrade gee en dan neurie.

11. Ons gesin het (wat ons noem) ʼn gesin-geheim – iets wat net ons in ons gesin mag weet.

12. Saam kosmaak – selfs al meng en mors die kinders. Dit laat hulle deel voel. Ons dink soms saam aan nuwe maniere vir kosmaak en noem enigiets wat ons uitgedink het ʼn “Scheffer-treffer”. (Scheffer is hulle van.) Wonder nou oor Strydom… ʼn Strydom-kosbom?

13. Skep jou eie gesinswaardes. Dis belangrik dat kinders besef hulle is deel van ʼn gesin en waarvoor julle gesin staan. “In ons huis vloek ons nie…”, “in ons huis help ons mense, want mense is vir ons belangrik…”, ens.

14. Sit bietjie die musiek aan en dans mal.

15. Kamp in die tuin.

16. In die vakansie is daar altyd lekker kinderproduksies.

17. Buite speel is ‘n wenner. Sommer om net met ‘n bal of ‘n hond of wat ook al te speel.

18. Maak ʼn fliekaand by die huis met springmielies en ʼn groot bed waar almal kan lê en kyk en probeer gerus ou DVD’s en video’s soos Swart kat, Trompie, McGuyver of Heidi!

19. Bak saam kolwyntjies en laat jou kinders dit versier.

20. Maak huisgodsdiens ʼn gereelde ritme en span gerus die tegnologie in! Vir kleiner kinders kan jy die Bybelstorie van die aand op jou tabletrekenaar teken en ʼn DVD soos The Story is ʼn kragtige uitbeelding van Bybelkarakters soos Dawid, Ester en Jesus se kruisiging en opstanding.

21. Bid vir mekaar, sommer so sonder seremonie. Dit kommunikeer omgee en dat gebed enige tyd van die dag kan gebeur. Met ouer kinders kan jy vra watter teks wat hulle hierdie week gelees het, het vir hulle iets beteken.

22. Familie-tradisies soos familie-Vrydagaande waar een gesinslid mag kies wat die gesien doen: bordspeletjies, DVD-aand, melkskommels en pizza maak of so iets. Vrydagaande eet ons uit blikborde; of Vrydagaande eet ons uit die blou blik: hierdie blik het net sjokolade en lekkergoed in. Dit is tradisie dat almal ná ete iets daaruit kan vat.

23. Gesinsvakansies, naweke weg, kamp en uitstappies: bou herinneringe.

24. Het jy al ʼn uitstappie met die Gautrein onderneem (as jy in Gauteng bly)? Of kyk gerus of daar ʼn treinuitstappie in jou dorp of stad is.

25. Springmielies op die ou manier: pot-op-die-stoof-metode MAAR moenie die deksel opsit nie (dis die moeite werd om dit ten minste een keer te probeer)! Die speletjie is dat niemand sy hande mag gebruik nie – jy moet dit met jou mond vang. Dis heel prettig en uiteindelik moet almal help skoon maak.

26. Bak modderkoekies.

27. Nag-skattejag! In die winter natuurlik gewapen met jou dikste jas en mus en met ‘n koplamp aan word die tuin deursoek.

28. Safari-ete saam met 2 of 3 van mamma en pappa se vriende! Voorgereg by die eerste huis, dan ry ons na die volgende huis vir hoofgereg en nagereg en koffie by die laaste huis. (begin maar lekker vroeg en hou die porsies klein!)

29. Kruip gerus agter jou kind se rug in wanneer dit slaaptyd is – al is dit vir vyf kosbare minute.

30. Lê op die gras en kyk sterre! Wolke kyk en prentjies in die wolke raaksien, is net soveel pret en goed vir die verbeelding.

31. Dis belangrik om veral die tieners aan die gesels te kry. Noem die hoogtepunt van die dag en die laagtepunt of die goeie nuus, slegte nuus. As ons nie daaroor mag gesels nie of die week was baie rof, is die bysin: “ek wil nie nou daaroor praat nie”. Vir kleiner kinders werk ʼn fun fact van iets wat hulle daardie dag geleer het, lekker. Goeie nuus, slegte nuus. Sondagmiddae aan etenstafel: Wat was hierdie week die lekkerste en die slegste ding?

Gesels met jou kinders – deur te gesels motiveer jy hulle om ook met jou te gesels.

32. Maak van min tyd onthou-oomblikke. Ek sal verby my tienerseun stap en aan sy skouer vat, (want drukkies is uit) en sê ek is so lief vir jou want jy… (iets van sy karakter uitlig). Ons kinders het ons aanmoediging nodig en ook ons visie wanneer hulle nog nie hulle eie potensiaal kan raaksien nie.

33. Ons skep ook dankie-sinne, een keer per week. “Dankie dat jy so getrou die masjien uitpak in die kombuis alles lyk sommer skoner met jou hulp”… Dit bou selfwaarde, gesinswaarde van wie jou kind is in die huis en ons respekteer mekaar vir elkeen se onderskeie rol.

34. Verhoudingbou-tyd kan ook in die kar op pad iewers heen wees. Laat jou lei deur dit wat jou kinders oplet. Een van die kinders het byvoorbeeld ʼn renosterhoring op ʼn kar gesien en toe gryp mamma die kans om oor renosterstropers te gesels.

35. Huis- of tentbou binne die huis met komberse en kussings en kartonbokse omskep dieselfde ou vervelige huis in ʼn fantasiewêreld.

36. Experi-maatjies/Witjassies het oulike idees! Jou kinders leer die wetenskap daaragter terwyl almal saam die eksperiment kan doen soos bv. om jou eie girokopter uit ʼn stukkie papier en skuifspeld te maak.

37. Oefeninge saam met die kinders soos saam om die blok stap of selfs jou eie super circuit met lunges of crunches of push-ups. Die kinders kan dit saam doen en ook saam tel. Pappa kan sommer vir kleinboet op die skouers tel vir ekstra inspanning! Resies hardloop is ook ʼn vrolike aktiwiteit en vir pappa en mamma dubbeldoelig: oefening en kuiertyd.

38. Vuurmaak en braai! Kinders dra self die hout aan en help pak en die beloning kan malvalekker- of stokbraai wees.

39. Laat jou kinders in en om die huis help al neem dit langer en al is alles nie so eksieperfeksie nie! Tafeldek en wasgoed ophang, groente skil en kamer opruim, kar was of tuinmaak. Gee elke kind ʼn gereelde huistakie en so trek ons almal saam om dit vir almal lekker te maak.

40. ʼn Uitstappie na ʼn botaniese tuin of park werk lekker. Stap en kyk na die voëls en ander diere, die wurms en goggas en visse – sonder ʼn agenda of iets wat jou jaag. Piekniek onder ʼn boom is ʼn lekker afsluiting.

41. Piekniek sommer in jou eie tuin en in die middel van die week vir ontbyt.

42. Voëltjies soek in die tuin of straat of veld en dan uitken in die voëlboek – dis nou as mamma en pappa se voëlkennis voldoende is!

43. Troeteldiere! Een gesin het onlangs ‘n haas as toevoeging van die gesin gekry en hy word vertroetel maar ook gevolg! Hulle sien hoe hy die groentetuin geniet, en daar volg dus heerlike gesprekke oor groente, habitat, dat ons die groentetuin in stand moet hou en vir hom moet kossies gee.

44. Gang-sokker is baie gewild. Die meisies hou daarvan om doelwagter te wees.

45. Krismisbed! Almal saam in een groot bed – dalk selfs voor die TV.

46. Skryf saam met jou kind ʼn storie. Jul kies die name van die karakters, besluit saam waaroor die storie gaan, ens.

47. Speel ‘wens-wens’. Praat oor jou drome van wat wil jy eendag word of wat is jou droomkar of droomvakansie. Hoe lyk dit, wanneer gebeur dit, wie is saam. Elkeen moet ʼn beurt kry om sy wens of droom te deel.

48. TV kan ook positief aangewend word: kyk saam ʼn storie; druk ná ‘n rukkie die “pouse”-knoppie en gesels oor wat tot nou toe gebeur het; waarvan hou jy of waarvan het jy nie gehou nie; wat dink julle gaan volgende gebeur; wat sou ons gedoen het in so ʼn situasie, ens. Kyk verder en gesels verder! Jou kind kyk met heel nuwe oë en mamma of pappa kry kans om sommer ʼn lessie speel-speel te leer.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra Engelbrecht ·

Ek is ouma van 4 kleinkinders tussen ouderdom 12 en 7 jaar. Hulle kom al 4 saam by ons kuier die laaste week van die vakansie en ek is so bly vir al die saamdoen dinge wat jy genoem het – ek sal hulle ‘n vakansie gee wat hulle nooit sal vergeet nie!

Baie dankie
Sandra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.