Klankleer is die kern van lees

a-kid-reading_greatbooksacademy_org.jpg

Foto: Greatbooksacademy.org

Deur Hilda Erasmus

Wat wil jy bereik met ’n leesprogram in die grondslagfase? Dit is ’n kritiese vraag. Onderwysers jaag dikwels deur die kurrikulum om leerders voor te berei vir formele assesserings, eerder as om hul tyd te vat en deeglik met leerders te werk om te verseker dat hulle ’n werklike begrip van klankleer het.

Aan die einde van die grondslagfase (graad 3) verwag ons dat leerders met begrip kan lees. Maar hoe gereeld bereik ons die punt waar ons werklik tevrede is met die leesvermoë van leerders?

Hier is ’n scenario wat vir jou bekend mag klink: Natalie is ’n graad 3-leerder wat, wanneer sy lees, skielik eenvoudige woorde sal begin klank. Wanneer jy haar vra wat sy gelees het, kan sy nie vir jou sê nie. Wat het verkeerd gegaan?

Daar is verskeie aspekte van lees wat in ag geneem moet word voordat jy die spesifieke probleem kan bepaal.

Klankleer

Die klank-geluid-ooreenkoms is nie behoorlik in graad 1 en 2 vasgelê nie. Ons praat nie hier van die alfabet nie, want die leerder ken heel moontlik die alfabet uit die kop. Ons praat hier van moeiliker samestellings en drieletterkombinasies. Wanneer ’n leerder klanke en samestellings ken, sal lees baie makliker wees. Fonemiese bewustheid is die basiese fondament vir die lees van enige teks.

Hoëfrekwensiewoorde

Hoëfrekwensiewoorde word dikwels met sigwoorde verwar. Hoëfrekwensiewoorde is woorde wat gewoonlik geen betekenis het nie, maar wat baie tydens lees voorkom. Dit is woorde soos is, word, hulle, ens. Hierdie woorde moet een vir een aan leerders bekendgestel word. Dit is ’n goeie idee om met die woorde te begin wat klanke bevat wat reeds aan die leerder bekend is. Dit is belangrik dat leerders dié woorde uit die kop ken. Indien hulle nie die woord dadelik herken nie, sal hulle dit begin uitspel. Met hoëfrekwensiewoorde moet die leerder die woord “raai” eerder as om dit te lees – die leerder moet die hele woord eerder as die individuele letters sien.

Sigwoorde

Sigwoorde is woorde wat ons teen die muur sal opsit en as deel van temas gebruik. Dit is dikwels langer en meer ingewikkeld, soos kameelperd, olifant, sjimpansee, ens. Leerders moet klankleer gebruik om die woorde uit te spel. Hulle hoef nie die woorde te ken nie – soos wat hulle leer om vlot te lees, sal die woorde deel van hul hoëfrekwensiewoorde begin vorm.

Om met begrip te lees, kom daarop neer om die vermoë te hê om taal deur fonologiese bewustheid te verstaan. As ’n leerder in graad 3 nie met begrip lees nie, is dit tyd om ’n paar stappe terug te neem. Plaas eerder die kurrikulum vir ’n dag of twee opsy en doen eenvoudige klankleer-assesserings. Maak gebruik van klankkaarte en bepaal die volgende:

  1. Ken die leerder al die letters van die alfabet in die regte volgorde?
  2. Ken die leerder al die samestellings en klanke met twee klinkers of twee konsonante soos “oo” of “-er”?
  3. Ken die leerder al die drieletterklankkombinasies soos “str-”?
  4. Kan die leerder eenvoudige woorde lees?
  5. Kan die leerder moeiliker woorde lees?
  6. Ken die leerder hoëfrekwensiewoorde sonder om dit uit te spel?
  7. Kan die leerder eenvoudige woorde bou?
  8. Kan die leerder moeiliker woorde bou?
  9. Kan die leerder ’n sin lees sonder om die woorde te klank?
  10. Kan die leerder ’n paragraaf lees sonder om die woorde te klank?

As die antwoord op enige van die vrae “nee” is, dui dit daarop dat die leerder êrens agter geraak het. Maak gebruik van aktiwiteite om die leerder te help totdat die antwoord op elk van die bogenoemde vrae “ja” is.

Kom ons gebruik nommer 10 as voorbeeld. As ’n leerder ’n paragraaf lees, maar steeds van die woorde moet klank, sal hy/sy die konteks van die storie verloor en dus nie onthou waaroor die storie gehandel het nie. As ’n leerder vlot kan lees, maar nie die konteks verstaan nie, is dit belangrik om die leerder se vermoë om met begrip te lees, te help ontwikkel deur die vrae te vra voordat die teks gelees word.

Om met begrip te lees, kom daarop neer dat jy jou kennis van taal op die geskrewe teks toepas. Leerders soos Natalie vind alternatiewe maniere om te lees en skryf maar, op die ou end, as sy nie met begrip kan lees nie, sal sy in die hoër grade die vrae in eksamens verkeerd interpreteer en dus die verkeerde antwoorde gee. Sy sal uiteindelik nie haar volle potensiaal bereik nie omdat sy nie behoorlik kan lees nie.

Dit is belangrik om te verseker dat fonologiese bewustheid en hoëfrekwensiewoorde by leerders vasgelê word voordat daar aan moeiliker woorde en sinne gewerk word. Onderwysers moet ’n verrykende leeromgewing skep om die ontwikkeling van klankleer en lees te bevorder en moet verseker dat daar aan alle vereistes voldoen word voordat daar na die volgende fase geskuif word.

  •  Hilda Erasmus is ’n spesialis in die grondslagfase (Gr R – Gr3) by Impaq. Impaq vorm deel van die FutureLearn-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae