Koekoek-sindroom in die onderwys het ernstige gevolge

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto

Deur Dr. Jean van Rooyen

Anders as opleiding wat die oordra van kennis en vaardighede behels, vereis opvoedende onderwys ʼn derde komponent, naamlik die oordrag en vestiging van ʼn norm- en waardestelsel. Die opvoeding van ʼn kind is die primêre verantwoordelikheid van die ouers. In antieke tye is hierdie taak deur die ouer self, die uitgebreide familie en tot ʼn mate ook deur die betrokke gemeenskap behartig.

Met die toename in die kompleksiteit van die leefwêreld het ouers, families en gemeenskappe hierdie taak aan kundiges gedelegeer om dit namens die ouer (in loco parentis) te hanteer. So het skool- en onderwysstelsels ontstaan.

Prof. Willy Wielemans, ʼn wêreldbekende akademikus van Belgiese herkoms tans verbonde aan die Universiteit van Leuven, wys op die gevaar verbonde daaraan indien ouers hierdie opvoedingsplig abdikeer en dit volledig aan die skool- of onderwysstelsel oordra. Hy noem dit die koekoeknes-sindroom (koekoekwyfies lê hul eiers in die nes van ʼn ander voël wat dan die eiers uitbroei en die kleintjies grootmaak).

Hierdie tendens van onbetrokkenheid en abdikering is ook in die Suid-Afrikaanse gemeenskap sigbaar en ʼn probleem. Dit manifesteer op baie terreine, maar ek wil nou slegs na ʼn enkele aspek daarvan verwys.

Die probleme wat Laerskool Meyerspark tans ervaar, is ʼn mooi voorbeeld hiervan. As gevolg van die onbetrokkenheid van ouers is daar in 2015 ʼn skoolbeheerliggaam verkies wat nie noodwendig die sentiment van die breër gemeenskap adem nie. As gevolg van die voortgesette onbetrokkenheid van die ouergemeenskap, funksioneer die huidige beheerliggaam na bewering ook nie optimaal nie. Daar is bewerings dat beleidsaspekte soos die skooldag en -ure, die medium van onderrig, die skool se naam, leuse en wapen eensydig sonder die voorgeskrewe konsultasieprosesse verander staan te word. Daar is verder bewerings van vreemde finansiële bestuurspraktyke. Kortweg, die huidige skoolbeheerliggaam vervul nie sy mandaat om in die beste belang van die skool as regskanaal op te tree nie.

Dit is nie die eerste keer dat hierdie verskynsel terugkom om ʼn gemeenskap te byt nie. In 2006 het die verkiesing van ʼn beheerliggaam wat skeefgeloop het as gevolg van die onbetrokkenheid van ouers by New Castle Hoërskool tot groot konflik in die gemeenskap gelei met gevolglike groot skade. Dieselfde het in 2015 weer in Empangeni gebeur.

Die delegering van die opvoedingstaak van hul kinders is die prerogatief van elke ouer. Daar is egter ʼn wêreldse verskil tussen delegeer maar betrokke bly en abdikeer om dan agterna lang trane te huil as dinge skeefloop.

Elke kind in Suid-Afrika het ʼn grondwetlike reg op gehalte-onderwys! Kom ons, as ouers en grootouers, nog die opvoedingsplig wat op ons rus na of speel ons koekoek?

  • Dr. Jean van Rooyen is (Fedsas) se provinsiale bestuurder vir Gauteng.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maria Van Dieweeck ·

Een van die grootste probleme van ons land. Koekoek ouers!

Simon ·

Ek wil graag met jou saamstem maar ek dink soms ek( en Dr Jean ook) staan alleen in die woestyn en roep. Niemand hoor of wil ons glo nie.

John ·

Die koekoek-sindroom is nie net in die onderwys te bespeur nie. Dit strek ver en wyd op alle gebiede en word deur die regering aangemoedig. Die EFF-koekoeke is glo loshande as kampioene aangewys op die Johannesburgse Paasskou en deesdae ook in Pietersburg. Die kerke verkondig dit as mooi en reg en gee ‘n regmerkie in jou paspoort oppad na ‘n paradys… iewers elders.

Pietsepan ·

Een opsie is tuis onderwys maar is dit voldoende gereguleer? Gaan afstandsonderrig nie eendag die beste uitweg wees nie? Koekoeksindroom lei tot swak dissipline wat deur die Koekoekouers aangespoor word.

Zelda Fourie ·

Ek stem volkome saam, beheerliggame en al die rade word gekies omdat hul ouers of persone is wat gesien word nie noodwendig omdat hul gedisiplineerde ouers of mense is nie.Dan kom hul.in die beheerliggaam dra die titel maar lewer nie regtig n bydra.Hul is nie betrokke want hul is nie eers by hul huise betrokke.Hul gee n opinie maar as jy nie self met n probleem te doen het nie kan jy nie jou opinie lig nie.Ouers moet weer betrokke raak by hul kinders en kinders weer respek kry vir grootouers en ook hul insigte in hul lewe rispekteer,van hier sal dit uitkring en die samelewing beinvloed.Die skool is vir onderrig nie opvoeding.Die kerk is n plek vir siek mense vir genesing van sondes nie n plek waar mense net nog n amp kom kry en nie verder betrokke
wees nie.So elke plek in die samelewing.Pa’s moet weer hul plekke inneem en ma’s weer hul plekke.

Valie ·

‘n Ander aspek van die koekoek sindroom is dat ouers geneig is om onderwysers wat dissipline handhaaf en waardestelsels leer aan te val na enige niksseggende klagte van kinders. Die skoliere het al geleer om onderwysers op daardie manier deeglik te manipuleer. In enige opvoedingstelsel is die beginsel van KONSEKWENTE toepassing van reëls kritiek noodsaaklik. Dit bestaan nie meer nie.

Oud Beheerliggaam Voorsitter ·

Die probleem ontstaan weens ouers wat onbetrokke is in hulle kinders se lewens. In 4 verkiesings by die skool waar ek betrokke was is daar op die beste verkiesings aand minder as 50 ouers wat opgedaag het en die BHL is verkies sonder teenkanting, dit in ‘n skool van meer as 1100 leerders. Die wat verkies is, is verkies en gekeur deur Skoolbestuur om hul doel te dien. Toe ek uittree, na ek vir twee termyne as Voorsitter gedien het, het ek ‘n verslag aangaande bestuurs ongerymdhede aan die Direkteur gestuur wat herdie verkiesings prosedures onder andere aangespreek het, saam met talle ander ooglopende wanpraktyke is dit daar gelaat. My finale verslag het meer as 110 bladsye beslaan. Die departement is bewus van die probleem wat talle skole ondervind, maar dit blyk hulle te pas want sonder ouer betrokkenheid het Beheerliggame geen tande nie en hulle kan voorskryf sonder verset van die ouers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.