Kom ons maak dit eerder ’n Valentynsjaar

Foto: Nathan Dumlao/Unsplash

Deur Colette Schultz

Hierdie jaar, op 14 Februarie, was bloedrooi rose weer amper duurder as petrol en het die winkelrakke gekreun van sjokoladehartjies, koffiebekers met romantiese boodskappe en allerlei plante en blomme om kopers te motiveer om tog weer ‘n keer dié jaar hul Valentyn te bederf!

Die wêreld was nog altyd gaande oor Valentynsdag en oraloor word geliefdes elke jaar herinner aan dié spesiale dag van liefde.

Tog kan ek nie help om hartseer te wonder waarom daar slegs een maal per jaar op liefde gefokus word nie. Moenie my verkeerd verstaan nie – ek is versot op sjokolade, hartjies, rose en die romantiese gedagte van liefde, maar my groot bekommernis is dat daar nie soveel moeite met die liefde gedoen word die res van die jaar nie, veral in huwelike.

‘n Huwelik verg konstante werk en moeite, en my droom is dat daar nie net één dag van die jaar liefde, hartjies, blomme en bederfies aangedra moet word nie, maar dat dit elke dag van die jaar “aangedra” sal word.

Nou ja, ons weet almal dat dit onmoontlik is om 365 dae van die jaar sjokolade te eet, maar daar is ander liefdesdade en -woorde wat ons kan gebruik om ons maats elke dag te verseker van ons liefde en toewyding.

Sommige mense hou van mooi en opbouende woorde of diensbaarheid, terwyl ander weer hou van aanraking en nog ander weer van gehaltetyd saam met mekaar.

Liefde is tog ‘n huwelik se fondament. Dit is hoe God ons in liefde bymekaar gesit het tot die dood ons skei – en selfs daarna.

Maar, dis tog so maklik om deesdae te skei of om in ‘n “geriefshuwelik” saam te leef wanneer die liefde selfsugtig word en die huwelik te veel moeite, en ons in ons eie slegte gewoontes en patrone verval terwyl ons op die ander party se swakhede fokus.

‘n Baie bekende prediker sê nou die dag: “Jy diens tog nie ‘n kar wanneer hy eers gebreek het nie – jy diens hom sodat hy nie breek nie. Dus, waarom belê ons nie in ons huwelike vóór daar moeilikheid is nie? ‘n Mens is so geneig om eers hulp te kry as die moeilikheid daar is en soms is dit alreeds te laat.”

Die Bybel gee ons duidelike riglyne vir die huweliksdiensplan in 1 Korintiërs 13:4-7: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Soms vergeet ons as getroudes hierdie spesifieke woorde oor vriendelikheid, jaloesie, opgeblasenheid, verbitterdheid, verdraagsaamheid en soveel meer. En dalk is dit tyd om dit net weer in ons gedagtes vas te maak en na te dink oor hoe ons dit teenoor ons huweliksmaats kan uitleef.

Colette Schultz. Foto: Verskaf.

Uit eie ondervinding het ek weer die afgelope tyd ‘n paar lesse geleer:

  1. Dit is belangrik om eers selfondersoek in te stel en te kyk waar jy kan verander om ‘n beter huweliksmaat te wees, alvorens jy vinger wys na jou maat se foute en tekortkominge.
  2. Die lewe gebeur: familiekrisisse soos siekte en dood, gesteelde karre, ’n geldtekort, werksdruk, die grootmaak van kinders, ensovoorts, plaas altyd druk op ‘n huwelik. Moet egter nooit jou maat laat voel asof jy hom\haar wegstoot of uitsluit in tye van frustrasie en hartseer nie.
  3. Kommunikasie! Praat, gesels en deel: Dit is so belangrik om vir ons huweliksmaats presies te sê hoe ons oor iets voel, want net soms is daar ‘n klein insident wat ons ontstel en dan begin ons broei op die verkeerde afgeleide gedagtes. Later word die spreekwoordelike molshoop ‘n massiewe berg wat kan ontplof as dit te lank gelos word en die regte atmosfeer skep vir ‘n tamaai uitbarsting. Dus, praat so gou as moontlik met jou maat as iets jou pla – luister wat hy of sy bedoel het en los die misverstand dadelik op.
  4. As jy “ja” sê vir iets, dan sê jy “nee” vir iets anders. Met ander woorde, as jou vriende jou vra om ‘n bier ná werk te gaan drink en jy weet dit gaan nie net by een bier bly nie, sê jy “ja” vir jou vriende en “nee” vir jou wederhelf en kinders wat dalk opgewonde by die huis sit en wag om ‘n beloofde fliek te gaan kyk of sommer net gesellig saam te wees.
  5. Julle is één in liggaam, siel en gees. Dus, droom saam, spandeer tyd saam en wees weer één.
  6. Die huwelik is ‘n konstante reis met uitdagings en harde werk en nie net ‘n eindbestemming nie.

Kom ons “diens” ons huwelike hierdie jaar gereeld en maak dit ‘n Valentynsjaar!

Geniet die res van hierdie ongelooflike reis.

  • Colette Schultz skryf graag as die onderwerp haar hart raak. Sy is kreatief en hou van verskeie stokperdjies, waarvan skryf een van hulle is. Hierdie artikel het oorspronklik op die Solidariteit Blog verskyn en is met die vergunning van die Schultz geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.