Kosblikkieprojek enigste ete vir dié kleuters

kosblikkie

Foto: Verskaf

Die waarde van Helpende Hand se Kosblikkieprojek is weer bewys nadat ʼn studie gedoen is op kinders wat oor die Kerstyd  minder kos gekry het as gedurende ʼn skooldag by die Kosblikkie-voedingsprogram. Hierdie kleuters het nie net nie gegroei nie, maar het inderwaarheid drasties gewig verloor. Die Kosblikkieprojek is daarop gemik om gesonde voeding aan behoeftige kleuters te verskaf gedurende skooltyd. Die projek verskaf daagliks kos vir meer as 4 500 kleuters.

Helpende Hand het in Desember 2015 die mates geneem van kleuters wat deel is van die Kosblikkieprojek. Dieselfde kleuters se mates is weer in Januarie geneem om te sien hoeveel die kinders gegroei het, met die doel om te bepaal of hulle gedurende dié tydperk voldoende voeding ontvang het. Die kleuterskole was tydens Desember gesluit en kleuters het dus nie kos gekry nie.

“In van die ergste gevalle het ʼn driejarige seuntjie 5% van sy liggaamsmassa verloor oor die Desembervakansie,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand. “ʼn Verlies van 5% in liggaamsmassa is baie vir ʼn kind van 3. Gelukkig het ons dit opgemerk gedurende die ondersoek en het hy op die voedingsprogram teen einde Maart weer 4,6% van die massa teruggekry.”

Volgens die studie het die meeste kleuters liggaamsmassa verloor. Slegs 7% van die kleuters het normale groei getoon. Bykans 93% van kleuters het abnormale gewigsverlies getoon. ʼn Gemiddelde verlies van 2% of 300 g is na die vakansie by die kleuters opgemerk. Danksy deeglike voeding deur die Kosblikkieprojek het hul gemiddelde massa weer met 4,3% gestyg.

Volgens Adel Rens, ʼn dieetkundige, help optimale voeding kinders nie net om fisies te groei nie, maar ook om kognitief te ontwikkel. “Sonder optimale voeding kan kinders ʼn lewenslange agterstand ervaar, veral wat akademiese prestasie betref. Die kleuters se ouderdom is hul belangrikste tyd vir optimale ontwikkeling – fisies, emosioneel, sosiaal en veral kognitief. Die waarde van ʼn program, soos Helpende Hand, wat voeding verskaf aan kinders in hierdie belangrike vormingsjare, kan dus nie oorbeklemtoon word nie,” sê Rens.

“Omdat kinders by die huis is, eet hulle gewoonlik ʼn bietjie meer en tel dan gewig op omdat hulle minder aktief is. Ongelukkig is dit nie die geval by al die land se kleuterskole nie en sommige kinders ly honger weens armoede. Dit is juis waarom die Kosblikkieprojek van kardinale belang is vir ons land se kinders. Ons weet uit vorige studies dat ons ete vir 3 uit 10 kleuters ook die enigste ete is wat hulle vir die dag kry.”

Om seker te maak dat wanvoeding en ondervoeding reeds vroeg uitgeken word, sal Helpende Hand voortaan vir elke kleuterskool wat deel van die Kosblikkieprojek is, ʼn MUAC-maatband en groeikaart verskaf om vroegtydig op te merk wanneer kinders ondervoed is. Die MUAC-maatband word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) versprei en dui die ideale gewig en lengte vir seuns en dogters tussen die ouderdomme 2 en  5 jaar aan.

Aangesien kinders konstant groei en hul liggame bene, tande en spiere ontwikkel, asook bloed vervaardig, benodig hulle meer voedingstofryke voedsel. ʼn Kind wat gesond en goed gevoed is, het genoeg energie om te reageer op en te leer uit stimuli in sy of haar omgewing.

Die publiek word aangemoedig om die projek te ondersteun. SMS die woord “bord” na 38969 om R10 te skenk en ʼn bydrae te maak tot ʼn gesonde bord kos vir ʼn kleuter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Ina

Jy kan gerus die woord “bord” na 38969 SMS om R10 te skenk en ʼn bydrae te maak tot ʼn gesonde bord kos vir ʼn kleuter. Jy kan ook vir Margolé Riekert, die projekorganiseerder van dié projek kontak by 012 644 4390. Jy kan ook hul blad besoek by :http://helpendehand.co.za/kosblikkie/“.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Ina ·

Baie dankie Landi vir die inligting. Mag daar sommer baie helpende hande uitgesteek word na ons kinders.

neelsie ·

Suid Afrika , waarom moet kinders honger ly?
Kom tot julle sinne en laat staan die stryery en kom julle verantwoordelikheid na.
Al die luukshede…..deel van dit ook met minderbevoorregtes.

Marli ·

Waarom is die sms nommer op die webblad anders as die een in die berig?

Landi Slatter ·

Dagsê Marli

Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die nommer in ons berig is die regte nommer om te gebruik. Ons het met Helpende Hand kontak gemaak en hulle het bevestig die nommer op hul webwerf is nog aktief, maar hulle verkies dat die publiek eerder 38969 gebruik. Baie dankie vir jou bydra!

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Vir die Kinders ·

Baie goeie inisiatief van Helpende Hand was dat jy ipv a moedersdag geskenk, geld kon skenk aan die projek en dan print jy ‘n brief uit en gee vir jou moeder wat sê dat jy namens haar geld geskenk het vir die kosblikkie projek ipv om daardie geld op ‘n geskenk te spandeer. Ek het die briefie gelamineer en dit saam met ‘n eetdingetjie vir albei die moeders in my lewe gegee. Hulle het dit baie waardeer. Is daar weer so inisiatief hierdie jaar?

Leona ·

Vir die kinders! Jou voorstel het my werklik so aangegryp! Wat ‘n wonderlike voorstel. Dankie vir almal se omgee.

vierkleur ·

Ek is seker as dit nie so moeilik is om n blanke kind aan te neem nie, baie van hierdie kinders goeie huise kan kry.

Belinda ·

Die nommer wil nie werk uit die buiteland nie, al sms ek van ‘n SA nommer wat op roaming is. Help asseblief, is daar dalk ‘n prefix wat ek moet gebruik? Ons dra graag by. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.