Kry insig oor afknouery

boelie-desperaat-hartseer-depressie

Foto: Anemone123/Pixabay.com

Deur Prof. Rita Niemann, hoof van akademie by Impaq (Voormalig bekend as Impak Onderwysdiens)

Afknouery is ’n voorbeeld van skoolgeweld wat meestal voortspruit uit aggressie en ’n swak selfbeeld. Afknouery kan gedefinieer word as ’n bewustelike, moedswillige en doelbewuste vyandige aktiwiteit. Aangesien dit op enige gegewe tyd kan plaasvind, is dit moeilik om vooraf te bepaal.

Louw en Louw (2007:230) beklemtoon die mens se behoefte om te behoort en sê dat sosiale ontwikkeling gekarakteriseer word deur toenemende betrokkenheid by ’n portuurgroep wat bydra tot die bevrediging van emosionele behoeftes. Ouers en onderwysers moet dus rekening hou met die verskeie fases in die bou van verhoudings gedurende adolessensie, en moet kinders lei in die bou van gesonde sosiale en interpersoonlike verhoudings.

Omdat afknouery nie gekontekstualiseer kan word deur groep, ouderdom of geslag nie, kan enige kind die slagoffer van ’n boelie wees. Kinders neig om die voorbeeld te volg wat deur hul ouers gestel word. As ouers dus dade van aggressie of geweld goedpraat, sal kinders dié dade navolg, wat daartoe kan lei dat ander bedreig en onveilig voel.

Volgens wet het elke leerder die reg tot opvoeding in ’n omgewing wat “skoon en veilig” is, en wat “bevorderlik vir onderrig” is (RSA, 2006). Ongelukkig het afknouery in ’n nasionale en internasionale kwessie ontaard. Meeste gevalle van afknouery hou verband met ’n magswanbalans om dominansie te verseker, die boelie se selfbeeld ’n hupstoot te gee, en aandag te kry (al is dit negatiewe aandag).

Barbara Coloroso (2005:49-51) het verskillende soorte boelies geïdentifiseer. Dié wat:

  • ’n kragtige persoonlikheid het, deur ander bewonder word en nie maklik as ’n boelie herken word nie;
  • skinderstories en verbale mishandeling gebruik om ander te manipuleer;
  • min emosie toon, maar vasbeslote is om aan te hou om ander af te knou;
  • hiperaktief is, sukkel met skoolwerk en swak sosiale vaardighede het.

Enige kind kan die slagoffer van ’n boelie word, afhangend van die boelie se innerlike onsekerheid. Boelies neig om onderdanige kinders af te knou, maar kan bloot ook ander teiken omdat hulle jonger, kleiner, maerder of vetter is, of selfs as gevolg van hul geslag. Boelies teiken ook dié wat eienskappe het waarna hulle self smag, soos om slim en toegewyd te wees.

Ouers en onderwysers wonder gereeld waarom afknouery nie aangemeld word nie. Die slagoffers voel egter dikwels skaam oor dit wat met hulle gebeur, of voel selfs dat daar iets met hulle fout is. Hulle is ook bang dat die afknouery sal vererger as hulle iets daaroor sê.

Enige gevalle van afknouery moet vinnig en doelbewus hanteer word – lees die opvolgartikel in dié verband.

Verwysings:

  • Coloroso, B. 2005: The Bully, the bullied Bullied and The Bystander. From Pre-school to Secondary School – How Parents and Teachers Can Help Break the Cycle of Violence. London: Piccadilly.
  • Louw, D., & Louw, A. 2007. Child and Adolescent Development. Bloemfontein: ABCPrinters.
  • Niemann, R., Marais, N., Swanepoel, Z. & Moosa, M. 2016. Problem Areas in Schools In: Jacobs, M. Teaching-Learning Dynamics. Johannesburg: Pearsons
  • Republic of South Africa (RSA). 2006. Regulations for Safety Measures at Public School. Government Gazette No. 26663. Pretoria: Government Printers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Albaster ·

Boelies het soveel menseregte net soos kriminele. Hulle is baie belangriker as die onskuldiges in die oe van die sogenaambe menseregtevegters. Menseregtevegters is net n skans vir die wat die samelewing wereldwyd wil afbreek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.