Kweek ʼn groei-ingesteldheid by jou kind

dogtertjie-lees-leer

Foto: Kaenie/Pixabay.com

Ons leef in ʼn mededingende wêreld waar sommige ouers hul vyfjariges al leer lees of vir wiskunde-ontwikkelingsklasse stuur – alles in ʼn poging om te verhoed dat die kind later iewers in hul skoolloopbaan sukkel.

Een van Suid-Afrika se voorste onderwyskenners sê dit is belangrik om ʼn situasie waar ʼn kind met ʼn skoolvak sukkel te verhoed, en dit kan omgekeer word voordat dit buite beheer raak en ʼn blywende negatiewe impak op die kind het. Dit is ongelukkig ook so dat kinders se selfbeeld en selfvertroue ʼn knou kan kry indien hulle akademies sukkel.

Tog is daar ʼn manier waarop ouers hul kinders kan help, en dit is dalk makliker en vinniger as om nog geld op ʼn duur ekstraklas te spandeer, sê Traci Slater, die strategiese akademiese ontwikkelingsadviseur by ADvTech, een van Afrika se grootse privaatonderwysverskaffers.

“Kinders wat dink hul intelligensie en vermoë is vasgestel, is geneig om akademies swakker te presteer as die kinders wat glo hulle kan enigiets met volharding bereik,” sê Slater.

“Leerders wat verstaan dat hul intelligensie en vaardigheidsvlak kan verbeter deur volgehoue toewyding en eksperimentering in ’n vak, leer makliker uit hul foute, gee nie so maklik tou op nie en soek meer uitdagings om hul vaardighede nog verder te verbeter.”

Die konsep van ʼn groei-ingesteldheid is deur Carol Dweck, ʼn sielkundige van die Stanford Universiteit, nagevors en is gebaseer op die neurowetenskap wat bewys dat ʼn leerder se leervermoë met toewyding kan verbeter. Haar navorsing het ook getoon dat persoonlike eienskappe en vermoëns beslis nie vasgestel is nie en dat dit kan verander as jy die manier waarop jy jou kind benader, verander.

Dweck se navorsing het verder ook bewys dat ʼn kind se selfbeeld en wat hy of sy van hul eie vermoëns dink, ʼn beduidende impak het op hoe die kind leer. Volgens haar is daar ʼn sterk verband tussen ʼn leerder se motivering om ʼn nuwe vaardigheid aan te leer en wat hulle dink die vlak van hul eie intelligensie is.

“Dit is makliker om ʼn groei-ingesteldheid by jou kind te kweek as wat jy dink, en dit kan maklik aangeleer word deur die manier waarop jy met jou kind praat,” sê Salter.

As Annatjie probleme met haar taalvaardighede het, is dat maar net omdat sy nog nie goed is daarmee nie. As Stefan sukkel met algebra in wiskunde, is dit maar net omdat hy dit nog nie verstaan nie. Beklemtoon vir die kind dat as hy of sy die nodige moeite met die vak maak, hulle uiteindelik en definitief die nodige vaardighede kan bemeester.

Dweck sê kinders moet weet dit is nie sleg óf verkeerd om ʼn fout te maak of te sukkel met ʼn vak nie. “Dit is belangrik om ʼn kind te leer dat hulle risiko’s moet neem en dat – as hulle fouteer – die mislukking aanleiding kan gee tot nuwe kreatiwiteit of ʼn uitvindsel,” verduidelik Salter

“Dweck het ook aanbeveel dat ouers en onderwysers in plaas daarvan om te sê ‘jy kan dit doen omdat jy slim is’, eerder kinders se pogings moet aanprys, wat dan sal lei tot verbeterings soos hul fokus, vasberadenheid en werkgewoontes.”

Salter het drie stappe geïdentifiseer wat ouers kan neem om ʼn groei-ingesteldheid by hul kinders te kweek:

Praat met jou kind oor wat hy of sy geleer het:

Hier is ʼn paar vrae wat jy elke dag met jou kind kan bespreek om ʼn gesprek te begin oor wat hulle vandag geleer het. Lekker plekke vir hierdie gesprekke is in die motor op pad huis toe of om die etenstafel.

  • Wat het jy vandag geleer? In plaas van: Hoe was jou dag?
  • Watter foute het jy vandag gemaak en het jy iets daaruit geleer?
  • Wat het jy vandag probeer doen wat dalk moeilik was vir jou?

Dit is belangrik dat ʼn ouer of voog ook moet vertel wat húlle geleer het, want so leer kinderd dat volwassenes ook elke dag nuwe dinge leer én uit hul foute en mislukkings leer.

Gee net terugvoer op die proses:

Gee erkenning en aanprysing vir jou kinders se pogings om te volhard, hul vermoë om alternatiewe strategieë te bedink, nuwe geleenthede te ontdek, die opstel van deurlopende doelwitte en hoe hulle beplan om dit te bereik, asook dat hulle verskeie kreatiewe alternatiewe vir ʼn uitdaging oorweeg het.

Wees maar eerder versigtig om persoonlike eienskappe te veel aan te prys. Dis nou die feit dat jou kind slim, mooi of kunssinnig is. Kinders gaan ongelukkig nie altyd die slimste of die mooiste wees, of die een wat die mooiste prentjie teken nie. Sodra dit gebeur, kan hulle ʼn verlies in selfvertroue ervaar en aan hul vermoëns begin twyfel om iets wat aanvanklik moeilik is, self te kan bemeester.

Moedig kinders aan om ʼn kans te waag en uit hul foute te leer:

As ʼn kind misluk, leer hulle dikwels belangrike lewenslesse. Die belangrikste daarvan is dat hulle taai is en oor oneindige hoeveelhede deursettingsvermoë en selfmotivering beskik.

Ouers se eerste instink is egter om hul kinders te wil beskerm teen enige iets wat hulle ontstel of hartseer laat voel, en dit is natuurlik in sekere gevalle met goeie reg. Maar dikwels ontneem ons hulle die kans om iets van hulleself te leer.

“Nou is die tyd om jou kind die kans te gee om te waag en selfs te misluk – onder jóú wakende oog. Ons moet ons kinders die kans gun om te fouteer terwyl hulle jonk is, sodat hulle groei-denkraamwerk se spiere kan oefen. As ons dit nie nou doen nie, gaan ons kinders volwassenes word wat sukkel met uithouvermoë in moeilike omstandighede en nie glo in hul eie vermoëns of dat harde werk sukses kan meebring nie,” sê Salter.

“As die uitdagings besonders groot en moeilik voel, is dit belangrik dat ons ons kinders moet herinner dat hulle nou juis besig is om hul verstandelike spiere te oefen, sodat dit sterker kan word. Vertel hulle van die talle bekende mense soos Albert Einstein, Walt Disney, Steve Jobs, Michael Jordan en Oprah Winfrey wat aanvanklik misluk het, maar nie net daar die handdoek ingegooi het en weggestap het van hul drome of ʼn moeilike taak nie.

“Herinner jou kind deurentyd daaran dat elke uitdaging of probleem hulle die geleentheid bied om sterker en beter te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae