Kweek ’n klein boekwurm

Ma-en-dogter-lees

Foto: Dreamstime.com

Danielle Barfoot

Biblioteekweek vind van 14 tot 21 Maart plaas en die fokus is vanjaar op lewenslange leer en die bemagtiging van jong lesers. Met die skoolvakansie om die draai, is dit nou die regte tyd om jou naaste biblioteek te besoek en jou kind aan die lees te kry!

Lees bied soveel wonderlike voordele – dit brei kinders se woordeskat uit, bou kennis, verbeter geheue en stimuleer die verbeelding. Dit leer kinders selfs belangrike lewenslesse en verdiep hul begrip omtrent hulself en ander mense.

Natuurlik vorm lees ook die grondslag vir akademiese prestasie. Dit is nie net uitstekend vir taalontwikkeling nie, maar help ook met perseptuele en sintuiglike ontwikkeling, probleemoplossingsvaardighede en getalbegrip. Dus sal ’n kind wat ’n storie kan volg, voorspel, verstaan en onthou, ongetwyfeld beter vaar op skool.

Moedig lees só aan

  • Kies die regte leesstof: Jou kind moet belangstel in dit wat hy lees. Dit beteken nie noodwendig boeke nie! Moedig jou kind aan om enigiets te lees waarvan hy hou – stories, prentjieboeke, tydskrifte, gedigte, grappies of selfs resepte. Fiksie of niefiksie, as die teks jou kind boei, is dit ’n wenner!
  • Maak dit ’n gewoonte: Daar is soveel maniere om lees deel van jul roetine te maak. Lees daagliks hardop aan mekaar voor, lees elke aand voor bedtyd ’n hoofstuk aan jou kind voor, of besoek weekliks jul naaste biblioteek.
  • Kombineer aktiwiteite met boeke: As julle op ’n uitstappie na die dieretuin gaan, lees voor die tyd ’n boek oor diere en gesels oor wat julle uit die boek geleer het.
  • Soek geleenthede: Die wêreld is vol geleenthede om te oefen om te lees. Moedig jou kind aan om alles te lees, van spyskaarte tot padtekens en advertensies.
  • Breek weg van die bekende: Hoewel moedertaal die maklikste weg bied om ’n liefde vir lees te kweek – dit is immers die taal wat jou kind elke dag praat en die woordeskat waarmee hy bekend is – is dit ewe belangrik dat hy boeke in ander tale ook lees.
  • Wees ’n geduldige luisteraar: Maak nie saak hoe stadig jou kind lees nie, wees geduldig. Korrigeer sy foute sagkens, klank woorde saam, en moenie sy sinne vir hom voltooi nie.
  • Bly positief: Moet nooit druk op jou kind plaas oor hoeveel bladsye hy moet lees of hoe vinnig hy ’n boek klaar moet lees nie. Moet ook nie jou neus vir jou kind se keuse van boeke optrek nie. Gee eerder positiewe terugvoer en erkenning aan jou kind oor sy belangstelling in lees en sy leesvermoë.
  • Kry hulp: Bly op die hoogte van jou kind se vordering en kry dadelik hulp indien jou kind leesprobleme ondervind. Hoe vinniger jou kind hulp kry, hoe groter is die kanse dat hy ’n goeie leser sal word.

Om ’n liefde vir lees – en lewenslange leer – te kweek, is dit belangrik dat jou kind blootgestel word aan ’n omgewing waar lees aangemoedig word, dat hy toegang het tot gepaste leesstof, en dat hy die kans gegun word om die wonderlike wêrelde waartoe lees ’n mens toegang gee, te ontdek. Jou naaste biblioteek bied dit, en soveel meer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.