Kweek só gesonde eetgewoontes by jou kind

(Foto: Pixabay)

As ouer is dit soms moeilik om jou kinders, veral jong kinders, se eetgewoontes te beheer omdat hul eetlus en smaak van jou eie verskil. Dit is wel noodsaaklik om te verseker dat jou kind gesonde eetgewoontes aanleer en ʼn gesonde verhouding met kos by hulle gekweek word.

Pieter Albertyn, ʼn lewensafrigter van Coaching for Enrichment, sê daar is ʼn paar basiese beginsels wat ouers in gedagte moet hou, maar dat deeglike beplanning en die bestuur van dié planne die kern hiervan is.

Albertyn beveel dié beginsels aan om gesonde eetgewoontes by jou kind te kweek:

Jy sélf moet gesond eet

“As ouer word jy en jou kinders buddies for life. As jy wil hê hulle moet gesond leef en eet, moet jy dit saam met hulle kan doen. Alles wat jy as ouer van die kind gaan verwag, is goed waaraan jy jouself moet onderwerp en meedoen,” sê Albertyn.

As jy elke aand ʼn sjokolade eet, gaan jou kind dit ook doen. Maar as jou kind jou sien gesond eet, gaan hulle dit waarskynlik ook makliker doen.

Maak tyd vir eet

Albertyn sê gesonde eetgewoontes sal nie gebeur sonder ʼn gesonde leefstyl nie. “Jy kan nie jou program so oorlaai en jaag van een plek na ’n ander dat jy nie tyd het om rustig te sit en ’n gesonde ete in goeie geselskap te waardeer nie.”

(Foto: Pixabay)

Dit is belangrik om nie altyd voor die televisie te eet nie, en eerder aan tafel te sit en te waardeer wat jy eet, verduidelik hy. As jy heeltyd gejaagd is, sal daar ook nie altyd tyd wees om gesonde kos voor te berei nie.

Fokus op “oorvloed van” eerder as ʼn “gebrek aan” kos

“Hierdie is ’n baie belangrike beginsel wat verstaan moet word as dit kom by kinders se eetgewoontes,” sê Albertyn.

“Ons as volwassenes dink altyd aan ’n dieet asof dit die wegneem van kosse uit jou eetprogram en koskas beteken. Maar dit behoort eintlik te gaan oor al die kosse waarin jou kind hul wél kan verlustig.”

Kinders het plaasvervangers nodig as hulle nie kan eet waarvan hulle hou nie. Albertyn stel voor jy vervang kossoorte met verwerkte suiker en koolhidrate met kossoorte soos vars vrugte, groente, neute en volgraanprodukte. Daar is baie peuselhappie-alternatiewe wat nie vol suiker gelaai is nie; jy moet net vind waarvan jou kind hou.

Maak kos jou medisyne

“ʼn Gesonde liggaam is die resultaat van gesonde eetgewoontes,” sê Albertyn.

Begin jou manier van dink oor kos verander, want kos is nie ’n aanvuller tot medikasie nie, dit ís medikasie. Ongelukkig dink baie ouers nie so nie – hulle gee eerder ’n hand vol pille en vitamines voordat hulle enigiets in hulle eetprogram aanpas. ʼn Gesonde eetprogram vol nutriënte en vitamines kan uitstekende gevolge vir jou kind inhou.

Foto: Pixabay.com

Oefeninge is nie die antwoord nie

Om ʼn burger, skyfies en gaskoeldrank af te werk met oefening, moet jy bykans ʼn halfmarathon na elke ete hardloop. So om toe te laat dat jy en jou kind ongesonde kos eet, en dan julself ooroefen, is nie die antwoord nie.

“Ooreet maak jou nie noodwendig vet nie. Die eet van die verkeerde kos maak jou vet. Dit het byvoorbeeld te doen met die verskillende formate waarin kalorieë ingeneem kan word en waarop dit in jou liggaam geabsorbeer word,” sê Albertyn.

Plan van aksie

  1. Bepaal eers hoe lyk jou (en jou kind) se omgewing, eetgewoontes, voorkeure, smake en program nou, voordat jy begin om iets te verander.
  2. Doen nou ʼn voorraadopname van wat is in jou koskaste is. Wat is die goed wat julle op die oomblik eet, watter peuselhappies eet julle tussenin en wat eet julle nie en hou julle nie van nie.
  3. Hierna moet dit wat julle nou eet, drink en gebruik evalueer word. Gee vir elke ding ’n punt uit 5 (0 = ongesond, 5 = gesond) in elk van die volgende kategorieë:

Goed wat die kos positief beïnvloed:

  • Voedingswaarde
  • Vars eerder as verwerk

Goed wat die kos negatief beïnvloed:

  • Geprosesseer
  • Kitskos
  • Preserveermiddels
  • Bevat verwerkte meel produkte (bv. brood, koekies, beskuitjies, versoete jogurt)
  • Bevat verwerkte suiker (bv. koeldrank, versoete drankies, versoeters, slaaisous, sous)
  1. Hierna moet jy bietjie kyk na die alternatiewe vir die lae waarde kos wat julle eet. “Kry natuurlike, gesonde alternatiewe soos proteïen en vette,” stel Albertyn voor.

Beplanning is nou noodsaaklik. As jy jou kinders kan voorsien van gesonde alternatiewe tydens etenstyd, vir ʼn kosblik en sommer vir peusel tussenin, kweek jy gesonde eetgewoontes.  Dit sal verhoed dat jy inderhaas by KFC of McDonald’s moet stop omdat jy nie iets in die huis het vir aandete nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alwyn burger ·

Happie-alternatiewe. Kan ons voedingstowwe gebruik as alternatief vir nutriënte? ( as grappie bedoel!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.