Leer jou kinders van geld

spaarvarkie-spaar

Leer jou kinders sommer vroeg speel-speel van spaar. Foto: Skitterphoto/Pixabay.com

Wie van ons was op die GU (gelduniversiteit)? Ek weet nie van jou nie, maar ek was nie. Waar leer ons dus van geld? Die meeste mense leer op die harde manier, soos wat hulle deur die lewe gaan. Ek het nie spesifieke statistieke nie, maar ek is bereid om geld te verwed dat geldsake vir die meeste mense ʼn bron van angs is!

Hierdie noodsaaklike beginsels kan jou help om jou kind al van jongs af te leer hoe om met geld te werk.

Leer eers self

Vind soveel uit van finansies en finansiële beplanning as wat jy kan. Toegepaste kennis is kragtig. Daar is talle goeie boeke beskikbaar oor die onderwerp en baie inligting op die internet.

Wees ʼn goeie voorbeeld

Kinders kyk na wat jy doen en wat jou gesindheid teenoor geld is. Hulle doen dit die hele tyd!

Leer hulle van ʼn baie jong ouderdom af

Kinders leer vinnig en sal al basiese geldlesse op kleuterstadium begin verstaan.

Leer hulle om emosies uit geldbesluite uit te hou

Emosies is waarskynlik die grootste vyand van verstandige finansiële besluite.

Verduidelik wat die verskil tussen ʼn behoefte en ʼn luukse is.

Maatskappye is baie goed met hul bemarking tot op die punt waar hulle ons kinders laat glo dat ʼn hulle ʼn spesifieke item eenvoudig móét hê.

Bring pret in

Geld hoef nie met vrees of angs geassosieer te word nie. As kinders dit geniet om oor geld te leer sal die lesse meer blywend wees.

Ouderdom 3 tot 6

Gee aan hulle ʼn bedrag sakgeld en vra uit oor wat hulle daarmee gedoen het. Leer hulle die basiese beginsels van beplanning en om nie alles op een slag uit te gee nie.

Leer hulle om te spaar

Moedig hulle aan om geld te spaar vir iets wat hulle graag wil hê.

Ouderdom 7 tot 12

Leer hulle meer van beginsels soos wat ʼn begroting is, hoe ʼn bank werk en ander aspekte van geld. Verduidelik wat geld is.

Hef rente op geld wat jou kinders by jou leen

Verduidelik vir hulle wat rente is en hoe dit werk en ook die basiese beginsels van skuld.

Ouderdom 13 tot 18

Gedurende hierdie fase kan jy heelwat kennis oordra:

    • Wat langtermyn- en korttermynversekering is.
    • Hoe ʼn bankrekening werk. Open ʼn rekening vir hulle en gaan maandeliks saam met hulle deur die state.
    • Verduidelik vir hulle wat ʼn belegging is en laat hulle toe om in ʼn gepaste produk te begin belê.
    • Leer hulle meer van skuld en verduidelik wat goeie en slegte skuld is.
    • Verduidelik wat ʼn mediese fonds is.
    • Bespreek basiese ekonomiese beginsels soos die wisselkoers, inflasie, groei ensovoorts.

Beloon hulle vir take verrig

Jy hoef hulle nie te betaal vir alle huistake nie. Maar deur hulle te betaal vir ʼn spesifieke taak leer jy hulle van die verband tussen werk en inkomste.

  • Kry hier meer inligting oor die onderwerp in Wouter Snyman se gratis e-boekie Finansiële onafhanklikheid en die ‘Salomo-beginsel’.
  • Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van attooh!. Kontak attooh! gerus met enige navrae oor jou persoonlike finansiële beplanning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiepie ·

Eerste tree is seker om eers te leer tel. 1, 2, 3, 4, 5, 3 ,4……? ;-)

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Kiepie

Baie dankie dat jy die fout uitgewys het, dit is nou reggestel.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Asjas ·

Dankie vir die goeie raad, ek hoop alle ouers het dit gelees want die nuwe generasie gaan baie geldwys moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.