Leerders en ouers: Hanteer eksamenstres só

(Foto: Nathan Dumlao)

Eksamentyd gaan gewoonlik gepaard met baie angstigheid en stres, vir die leerder wat eksamen skryf, maar ook vir die ouers.

Terwyl stres partykeer as motivering kan dien om meer te fokus, is hoë vlakke van stres teeneffektief en kan dit iemand se geestelike gesondheid aantas.

“Stres rondom eksamentyd spruit nie net uit die werk wat geleer moet word en die skryf van vraestelle nie, maar ook uit onsekerhede oor die uitkomste en die moontlike nagevolge daarvan,” sê Megan Hosking, ʼn maatskaplike werker en klinikus by die Akeso- psigiatriese hospitaalgroep.

Hosking sê daar is elke jaar tragiese berigte oor leerders wat hul eie lewe neem in eksamentyd, wat moontlik veroorsaak word deur die vrees vir mislukking of teleurstellende resultate.

“Dit is hartverskeurend om te dink dat jong mense soveel druk voel dat hulle geen toekoms vir hulself kan insien nie,” sê sy.

“Ons boodskap aan almal wat voel asof stres, insluitend eksamenstres, besig is om die oorhand te kry, is dat jou welstand die belangrikste aspek is om op te fokus. As jy sukkel om die stres te hanteer, ís hulp beskikbaar.”

Hosking gee dié drie wenke om eksamenstres te hanteer:

  1. Begin vroeg voorberei

Volgens Hosking is voorbereiding van uiterste belang om eksamenstres te hanteer.

“Maak seker jy het genoeg tyd om vir die eksamen voor te berei deur wel vooruit te begin leer. Dit kan help omdat dit die druk van tyd uitskakel wat dikwels bydra tot stres tydens die eksamentyd.

“Daar is verskeie benaderings wanneer dit kom by leer vir ʼn eksamen, en dit neem tyd om uit te vind watter metode jou die beste pas. Wanneer jy uitgevind het wat die effektiefste studiemetode vir jou is, hou daarby en bestee die tyd wat benodig word om al die werk te doen,” sê sy.

  1. Maak tyd vir ontspanning

Argieffoto

Dit is net so belangrik om genoeg tyd vir ontspanning te skeduleer wanneer jy voorberei vir die eksamen.

“Om tyd te maak vir aktiwiteite wat jy geniet kan jou help om ʼn gesonde perspektief te behou. Beplan só dat jy tyd inruim vir nodige pouses. Dit sal help dat jy die beste kry uit die tyd wat voor die boeke deurgebring word.”

Hosking sê fisieke aktiwiteite – ʼn stappie buite, joga, gimnasium-oefeninge of ander soort oefening – is ʼn waardevolle en ongelooflik gesonde hulpbron om stres te verminder.

  1. Maak seker van detail

“Om deur ou vraestelle of oefenvraestelle te gaan kan jou help om gapings in jou kennis en verstaan van ʼn vak te verstaan, en dit kan help met die senuwees voor ʼn eksamen.

“Maak betyds voor die eksamen seker jy weet hoe laat jy skryf, waar jy skryf en dat jy gemaklik is met die prosedures en voorskrifte van die dag. Beplan só dat jy tyd het voor die eksamen begin om onnodige bekommernis uit te skakel. Maak ook seker jy weet watter items jy in die eksamenlokaal mag inneem en wat nie,” sê sy.

Eksamen_kind_skryf.jpg

Foto: smh.com.au

Wenke vir ouers en versorgers

Dit kan ontstellend wees vir ouers en versorgers om te sien dat hul kinders deur ʼn stresvolle tyd gaan tydens eksamens.

“Algemene tekens van stres en angstigheid sluit in prikkelbaarheid, probleme om te slaap, verandering in eetlus, klagtes oor hoofpyn, maagpyn en ander fisieke pyn. Leerders kan ook kla dat hulle moeilik konsentreer en jy kan dalk verandering in hul gedrag bespeur.”

Hosking sê dit is die moeite werd om ʼn gesprek met jou kind te hê oor hoe om die stres en angstigheid te hanteer wanneer hulle so voel. Dit sal ook jou kind laat voel dat jy hom/haar ondersteun.

“Ondersteun jou kind die hele jaar lank in sy/haar studie en moedig hom/haar aan om gereeld hersiening te doen en om op datum met sy/haar werk te bly. In die aanloop tot die eksamen kan jy ook help deur met jou kinders te praat oor hoe hulle voel en om hulle te herinner om pouses te vat.”

Hoewel dit belangrik is dat ouers hul kinders moet motiveer om hul beste te gee in ʼn eksamen, moet daar ook nie té veel klem daarop gelê word nie, want dit kan onnodige angs veroorsaak.

“Herinner jou kind dat eksamen slegs ʼn deel uitmaak van hul hele opvoeding en dat die resultate nie die enigste ding is wat saak maak nie – en veral dat hul welstand meer belangrik is.

Hosking sê stres word gewoonlik gekoppel aan ʼn geleentheid, soos ʼn eksamen, maar dat mense moet onthou dat stres nie dadelik ophou wanneer die geleentheid verby is nie.

“Indien stres aanhou of onhanteerbaar voel elke keer as jy ʼn toets, eksamen of taak moet doen, raai ek jou aan om professionele hulp te kry, soos die van ʼn psigiater, om jou by te staan en te leer hoe om dit te hanteer.”

Die Akeso-hospitaalgroep bied ʼn 24-uur hulplyn vir mense wat psigiatriese hulp nodig het. Kontak hulle by 0861 435 787.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.