Leerprobleme: Disleksie

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Wat is disleksie?

Disleksie is ’n leergestremdheid wat neurologies van aard is en volgens Sandra Stark beteken disleksie in leketaal: Die bedrading van ’n disleksielyer se brein verskil van die deursneemens se bedrading.

Disleksie is die mees algemene maar terselfdertyd onbekendste leergestremdheid. Disleksie beïnvloed meer leerders as wat fetale alkoholsindroom doen en een uit elke tien mense in Suid-Afrika is disleksies.

Volgens Susan Du Plessis kan die volgende voorbeelde tekens van disleksie wees:

  • Omkerings van die letters b en d – jou kind skryf tor in plaas van rot of een in plaas van nee.
  • Weglatings – jou kind laat dikwels klanke uit woorde weg. Hy of sy skryf byvoorbeeld seel in plaas van steel of bak in plaas van balk.
  • Klank – jou kind klank ’n woord reg, maar spreek dit dan verkeerd uit, byvoorbeeld s-a-t en sê dan sout of h-e-k en sê dan hoek.
  • Jou kind lees woord vir woord (met ander woorde nie vloeiend nie).
  • Jou kind verloor dikwels die plek waar hy of sy lees.
  • Skriftelike werk is baie stadig en swak.

Waardeur word disleksie veroorsaak?

Probleme met konsentrasie, persepsuele vaardighede en logiese denke is bekend as die mees algemene oorsake van disleksie. Du Plessis beskryf disleksie nie as ’n leergestremdheid nie, maar as ’n onvermoë om spelling en lees te bemeester. Mense met disleksie kan baie vinnig dink, maar hulle sien prentjies in hulle koppe en verstaan dus nie klanksimbole nie. Disleksie is gewoonlik oorerflik en word geneties oorgedra in families.

Hoe kan ’n kind met disleksie gehelp word?

Dit is belangrik om te weet dat disleksie nie “genees” kan word nie, maar dat dit wel behandel kan word en dat jou kind steeds sy of haar volle potensiaal kan bereik. In Suid-Afrika kan die diagnose van disleksie slegs deur kundiges wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe geregistreer is, gemaak word. Hierdie geregistreerde kundiges sluit onder andere opvoedkundige sielkundiges en oogkundiges in. Dit is belangrik dat kinders met disleksie gehelp moet word, anders kan hulle gedragsprobleme, soos aggressie, ontwikkel.

Volgens Ronald Davis is van die volgende kwessies dikwels algemene kenmerke van disleksie:

  • Is skerpsinnig en intelligent, maar kan nie lees, skryf of spel nie.
  • Word bestempel as lui en agterlosig.
  • Is dikwels nie “ver genoeg” agter of “swak genoeg” om binne skoolverband ondersteun te word nie.
  • Verstandsvermoë is baie goed, maar akademiese prestasie weerspieël dit nie. Goed met mondelinge werk, maar nie goed met skriftelike werk nie.
  • Het ’n swak selfbeeld en probeer kompenseer daarvoor deur middel van geniale strategieë; raak maklik gefrustreerd en emosioneel wanneer hy of sy by die skool moet lees.
  • Is dikwels begaafd wat aspekte betref soos kuns, musiek, sport, storievertelling, sake of ingenieurswese.
  • Dagdroom dikwels; verdwaal maklik; het nie goeie begrip van tyd nie.
  • Probleme om te fokus. Kan dagdroom of hiperaktief voorkom.
  • Beste manier van leer is prakties van aard soos demonstrasies, waarneming en visuele apparaat.

Kategorieë van disleksie

Sandra Stark dui die volgende hoofgroepe van disleksie aan en dui ook daarop dat verdere kategorieë van disleksie ontstaan wanneer hierdie kategorieë in kombinasie voorkom:

Motoriese disleksie: Byvoorbeeld die verwarring van b en d of die syfers 6 en 9.

Fonetiese (ouditiewe) disleksie: Dis wanneer iemand nie ’n klank met ’n simbool kan vereenselwig nie. Dié kind sukkel byvoorbeeld om die posisie van ’n letter te bepaal, want dis vir hom of haar moeilik om die volgorde van klanke te hoor. Hy of sy klank byvoorbeeld die word kat as k-a-t, maar hoor die woord as koud.

Visuele disleksie: Die kind sien ’n woord, maar kan dit nie dadelik verwerk nie. Hy verstaan nie die simbole van woorde nie omdat hy in prentjies dink.

Alhoewel jy as ouer of jou kind se onderwyser nie die diagnose van disleksie kan maak nie, kan bogenoemde kennis van disleksie jou help om vroegtydig by die regte kundige aan te klop en hulp vir jou kind te kry.

Besoek gerus dr. Marisa van Niekerk se webtuiste hier.

Bronverwysings:

http://disleksie.co.za/af/disleksie-om-prentjies-te-dink/

https://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/ouerskap/wat-is-disleksie/

http://www.dyslexia.com/library/afrikaans/algemene.htm

http://www.dyslexia.com/library/afrikaans/algemene.htm

Marisa van Niekerk

Meer oor die skrywer: Marisa van Niekerk

Dr. Marisa van Niekerk is 'n opvoedkundige sielkundige. Sy het haar doktorsgraad verwerf in trauma en spesialiseer in terapie, sowel as in spelterapie.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae