Leerprobleme: Wiskunde-angs

kinders_wiskunde.jpg

Foto: Imgarcade.com

Die woord wiskunde ontlok ʼn baie algemene reaksie van vrees by beide leerders en hul ouers. (En as jy nie in hierdie kategorie val nie, kan jy dit gerus as ʼn groot seën in jou lewe tel!).

Wiskunde-angs is ʼn baie algemene verskynsel. Deb Russell vergelyk wiskunde-angs met verhoogvrees (“stage fright”). Mense kry verhoogvrees oor aspekte soos vrees om hul woorde te vergeet of om geëttiketeer te word as “dom”. Russell sê wiskunde-angs, net soos verhoogvrees, roep vrees in ʼn mens op, soos om bang te wees dat hy nie genoeg tyd gaan hê om sy vraestel te voltooi nie, of dat hy alles wat hy gedink het hy weet, in een oogopslag gaan vergeet.

Waar kom Wiskunde-angs vandaan?

  • Wiskunde-angs se oorsprong lê dikwels in negatiewe ervaringe in wiskunde en is dikwels ook gesetel in ʼn oor-afhanklike vertroue op metodes, in plaas daarvan om te verstaan wat jy met hierdie metodes doen. Wanneer jy reëls en prosedures memoriseer sonder dat jy dit verstaan, is die kans goed dat paniek gaan oorneem en dat jy baie vinnig die wiskunde gaan vergeet.
  • Ouers se voorbeeld speel ʼn belangrike rol in wiskunde-angs. Onthou, jou kind doen wat jy doen en nie wat jy sê As jy as ouer ʼn negatiewe houding oor wiskunde het, gaan jou liggaamstaal (stemtoon en houding) dit wys, al probeer jy dit wegsteek.
  • ʼn Verdere sneller van wiskunde-angs is die klem wat die wêreld op die noodsaaklikheid om wiskunde te kan doen, plaas.

Dr Lorna Geer, ʼn voorligtingsielkundige in Centurion, wat navorsing oor wiskunde-angs doen, sê daar blyk ʼn verband te wees tussen die kind se geboorteproses en wiskunde-angs. ʼn Baba word vir nege maande binne-in sy ma se baarmoeder versorg. Dan is daar skielik ʼn geboorte – en die baba word deur die geboortekanaal geforseer. In die proses is daar baie druk op die naelstring wat ʼn tekort aan suurstof tot gevolg het. Hierdie tekort aan suurstof veroorsaak ernstige angs in die baba en hy kry die gevoel dat hy besig is om dood te gaan.

Dan word die baba van sy ma weggeneem en die boodskap wat die baba se onderbewussyn kry, skep weereens die illusie van doodgaan. Die baba hoor dan ook harde stemme rondom hom.

Wanneer ʼn mens dan later in sy lewe druk ervaar, beleef sy onderbewussyn dit as gevaar, omdat die onderbewussyn nie kan onderskei tussen werklike gevaar en ʼn herinnering aan ʼn gevaarlike situasie nie. Wanneer ʼn kind ʼn wiskundetoets of eksamen moet skryf en hy druk ervaar (en aan maats se harde stemme blootgestel word), ervaar die kind weereens druk. Nou kom die kind se geboortevrees weer na vore en die onderbewussyn fokus op oorlewing en die kind vergeet alles wat hy van wiskunde geleer het.

Wat kan jy as ouer doen om jou kind te help?

  • ʼn Goeie tutor, wat ʼn kenner op die vakgebied van wiskunde is, kan jou kind ondersteun deur op die vlak te begin waar jou kind begin agter raak het in sy wiskunde. ʼn Kind kan nie na ʼn volgende vlak beweeg as die vorige vlak nie vasgelê is nie.
  • Dit is ʼn mite dat wiskunde nie ʼn leervak is nie. ʼn Groot geheim van wiskundesukses lê daarin om ʼn deelnemer en nie ʼn toeskouer te wees nie.
  • Oefen, oefen, oefen. Wiskunde is soos om ʼn musiekinstrument te leer speel. Jy kan nie net gaan sit en jou instrument soos ʼn kenner begin speel nie. Ure se harde werk, lesse en oefening is nodig. Jou kind moet met ander woorde soveel moontlik praktiese werk doen.
  • Moedig jou kind aan om deel van ʼn groep maats te word wat ernstig is oor wiskunde en mekaar kan help en ondersteun.
  • Moenie te veel druk op jou kind plaas nie. Kry so vinnig moontlik hulp, sodat julle op die probleem kan fokus.

Waar kan ʼn ouer aanklop?

  • Dr Lorna Geer ondersteun hoërskoolleerders deur middel van hipnoterapie om geboortevrees in die onderbewussyn aan te behandel en verwyder.
  • Baie opvoedkundige sielkundiges spesialiseer daarin om kinders met wiskunde te help. Hulle kyk ook na die emosionele aspekte wat meestal hand-aan-hand met jou kind se wiskunde-angs loop.
  • Jou kind se skool kan jou moontlik help om ʼn geskikte tutor of onderwyser te kry wat jou kind met ekstra klasse kan ondersteun.
  • Verskeie skole het remediërende klasse waar hulle kinders ondersteun om wiskundeprobleme te bowe te kom.

Bronne:

http://math.about.com/od/reference/a/Errors.htm

http://math.about.com/od/reference/a/anxiety.htm

http://math.about.com/od/booksresourcesdvds/tp/Improve-Math.htm

http://www.rooirose.co.za/article.aspx?id=53564&h=Wiskunde,-die-wrede-werklikheid

Besoek gerus dr. Marisa van Niekerk se webtuiste hier.

Marisa van Niekerk

Meer oor die skrywer: Marisa van Niekerk

Dr. Marisa van Niekerk is 'n opvoedkundige sielkundige. Sy het haar doktorsgraad verwerf in trauma en spesialiseer in terapie, sowel as in spelterapie.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Anneke ·

Weet darem nie van daai geboorte proses nie was Einstein en ander slimmes dan nie gebore nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.