Lees is jou magtigste vaardigheid

 matriek_lees_boek.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Lize-Mari Labuschagne

Lees is noodsaaklik vir ´n kind om sukses te behaal. Dit was en sal altyd wees. Lees vorm die grondslag vir enige mens se toekoms, nie net vir by die werkplek nie, maar ook vir ´n persoon se alledaagse doen en late. Dit vorm die grondslag van jou kreatiwiteit en hoe jy met ander mense kommunikeer, en lees is selfs ´n vorm van vermaak.

Om te lees is ´n opeenvolgende proses. Elke nuwe vaardigheid bou op die bemeestering van voorheen aangeleerde vaardighede. Kinders leer byvoorbeeld van jongs af om woorde in hul mees basiese geluide af te breek in ´n proses wat bekendstaan as dekodering.

Volgens Susan du Plessis, Direkteur van Opvoedkundige Programme by Edublox se lees- en leerkliniek, is daar ernstige gevolge vir ´n kind wat sukkel om te lees. Dis onvermydelik: ´n swak leser is ´n sukkelende leerder.

Lees leer mens nie net taalvaardighede of help jou om te ontspan nie, maar dit leer jou ook hoe om te luister.

Hier is slegs ses van die talle redes hoekom lees ´n belangrike vaardigheid vir beide jou leesvermoë en ontwikkeling is:

  1. Fokus en konsentrasie

Lees help mens konsentreer en so ontwikkel jy die vermoë om te fokus. Deesdae word ons so oorweldig deur tegnologiese toestelle se lig, klank en beweging dat lees mens se brein eintlik ´n ruskans gee.

  1. Verbeelding

Dit help jou om die wêreld om jou te verstaan en verbeter jou skryf- en redenasievermoë. Dit verbeter ook jou vermoë om die groter prentjie te kan sien.

  1. Lees verbeter jou vermoë om te kan kommunikeer en jouself uit te druk

Lees help jou om kennis op te doen en stel jou in staat om dit met ander mense te deel. Nie-lesers is makliker om te beheer en te manipuleer. Hulle kan gewoonlik nie vir hulself dink nie en maak staat op dit wat aan hulle gesê word oor hoe om hulle emosies uit te druk.

  1. Dit is gesonde vermaak

Lees help jou om nuwe belangstellings te verken. Boekklubs bring mense bymekaar en dit is ´n gesonde tydverdryf vir jonk en oud.

  1. Lees brei mens se woordeskat uit

Dit help mense om meer woorde te leer en ´n woordeskat te bou om so hulle taalvaardighede te verbeter. Lees help kinders ook om agter te kom hoe stories geskryf word, en dit beteken dat hoe meer hulle lees, hoe beter skryf hulle self. Baie vakke, veral op hoërskoolvlak, vereis dat kinders opstelle kan skryf. Dus kan lees help om hulle skryfwerk tot ´n ander vlak te neem.

  1. Lesers is slimmer en kan ook beter spel

Lees is goedkoop opvoeding en oefening vir jou brein. Hoe meer jy lees, hoe beter lees jy. Entoesiastiese lesers het ook gewoonlik ´n uitstekende algemene kennis. Lees is noodsaaklik op skool om te leer en te presteer. Lees en spel gaan ook hand aan hand omdat die een die ander een ontwikkel. Daar word nie net punte afgetrek vir spelfoute op skool nie, maar dit is ook onprofessioneel in die besigheidswêreld.

Ons hoop hierdie is genoeg rede om jou te motiveer om vanaand eerder ´n boek oop te maak as om die televisie aan te skakel.

Die artikel het oorspronklik verskyn op Solidariteit-Jeug se webblad

Bronne:
http://www.pbs.org/parents/education/learning-disabilities/types/reading/the-importance-of-reading/

12 Reasons Why Reading is So Important for Kids and Adults


https://www.edubloxsa.co.za/ses-redes-waarom-lees-belangrik-is/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Jippie!!! Nou kan ek vir my man se ek is alweer reg hoekom n mens moet lees(haha). Ek is verslaaf aan lees ek lees elke dag, ek is lid van LAPA so daar is altyd boek in my handsak of in my hand, ek moet elke dag lees. En soms Google ek die plekke wat in my boeke is of ek kry nagmeeries van die misdaad boeke wat ek lees. Nie almal verstaan dit nie maar dis ok!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.