Lees vandag hardop vir jou kinders

Kind_boeke_Ouerskap.jpg

Argieffoto (Foto: neurodevelopmentcenter.com_

Vandag, op 1 Februarie, is Wêreld-hardopleesdag (World Read Aloud Day of WRAD) en Suid-Afrikaners word aangemoedig om hardop en in hul huistaal vir hul kinders te lees.

Die nieregeringsorganisasie Nal’iBali wil hierdie geletterdheidsinisiatief ondersteun en ʼn liefde vir lees en stories vertel onder Suid-Afrikaners kweek omdat hulle glo dit belangrike boustene vir suksesvolle leer is.

“WRAD wil die aandag vestig op die belangrikheid van hardop lees vir kinders in hul huistaal. Jaarliks neem duisende Suid-Afrikaners deel aan die feesviering en hulle doen dit vir hul kinders, hul taal en hul toekoms,” het Nal’iBali in ʼn verklaring gesê.

Vanjaar wil Nal’iBali ook ouers wat reeds hardop vir hul kinders lees, aanmoedig om uit te reik na ander kinders en ander ouers aan te moedig om dieselfde te doen.

Die WRAD stel jaarliks ʼn splinternuwe storie bymekaar wat dan in al 11 amptelike tale van Suid-Afrika vertaal word. Dit word dan vandag hardop vir kinders uitgelees.

Vanjaar se storie is “Wie is jy?” wat geskryf is deur Ann Walton, ʼn welbekende Suid-Afrikaanse skrywer en kinderboekillustreerder.

“Die storie kan op ons webwerf afgelaai word om vir jou kinders te lees. Ons wil Suid-Afrikaners aanmoedig om aan te sluit sodat hulle vandag hardop vir hul kinders kan lees,” het Jade Jacobsohn, Nali’bali se besturende hoof, gesê.

“Deur ’n storie hardop te lees wys jy nie net vir kinders die waarde van boeke nie, maar begin ook ’n gesprek, bou bande tussen die leser en die gehoor, en motiveer die kinders om te lees en boeke te geniet,” het Jacobsohn gesê.

Vir meer inligting oor dié projek of om die storie af te laai, besoek hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.