Lekker doendinge vir die (langer) vakansie

(Foto: Sandy Millar/Unsplash.)

Met die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand dat alle skole vanaf Woensdag 18 Maart tot ná Paasnaweek gesluit sal wees, beteken dat kinders vir meer as drie weke tuis sal wees. Uitstappies na die fliek, restaurante en ander vermaaklikheid in die publiek sal hierdie vakansie ook ‘n taboe wees. Ouers sal alternatiewe planne moet uitdink om die kroos hierdie vakansie by die huis besig te hou.

Maroela Media het ‘n paar wenke bymekaar gemaak om die kinders tuis besig te hou.

’n Program

Stel ’n informele program op wat elke dag gevolg kan word waarvan daar ten minste een van die volgende aktiwiteite elke dag gedoen word: fisieke aktiwiteit (wat ook los werkies in en om die huis kan insluit), kreatiewe- of musiekaktiwiteit, akademies of lees en vryspel.

  1. Hou by slaaptyd en opstaantyd roetines.
  2. Gebruik hierdie geleentheid om kinders vaardighede te leer wat hulle nooit onder normale omstandighede sou leer nie, byvoorbeeld, hoe om ’n wasmasjien en skottelgoedwasser te gebruik, hoe om die vloere te mop of meubels te politer, gras te sny, bossies uit te trek en die tuin netjies te maak.
  3. Laat die kinders beurte maak om ontbyt, middagete en aandete te maak en skottelgoed te was ná die tyd. Maak elke maaltyd spesiaal en laat hulle die tafel dek. Dit gee ook die geleentheid om ná ete saam te kuier en mekaar se geselskap te geniet.
  4. Indien jy aanlyn inkopies doen, laat die kinders by jou sit en wys hulle hoe dit gedoen word.
  5. Span ouer kinders in om ’n vertrek of kas reg te pak en van onnodige goed ontslae te raak of selfs verfwerk te doen wat al jare agterweë gelaat was.

Fisieke aktiwiteite:

  • Moedig die kinders aan om iets fisiek te doen al is dit fietsry, swem, skaats of touspring.
  • Gooi ’n bal of boontjiesak vir mekaar en maak dit prettig deur kompeterend te wees en die eerste persoon wat ’n bal of boontjiesak laat val, moet iets doen waarvan hulle glad nie hou nie.
  • Teken met bordkryt prentjies op die plaveisel (dit is ook ideaal om eenbeentjie te speel).
  • Indien jou erf groot genoeg is, bou ’n hindernisbaan sodat die kinders elke dag hul tyd van die vorige dag probeer verbeter.

Kreatiewe aktiwiteite

  • Herwinning van leë houers deur dit te versier of te verf of herwinning van ou klere.
  • Leer hulle houtwerk, brei, hekel, naaldwerk en pak ’n projek aan wat bruikbaar is, byvoorbeeld, ’n skinkbord, kombers, wasgoedsak of mussie vir die winter.
  • Musiek of dans – leer op Google ’n musiekinstrument speel of ‘n paar nuwe danspassies.
  • Plant saadjies in die tuin en versorg hulle elke dag. Ná drie weke van vakansie behoort daar al klein saailinge te wees.

Akademiese of lees aktiwiteit

  • Moedig die kinders aan om elke dag aan ’n boek te lees en natuurlik hul Bybel.
  • Laat die kinders skool-skool speel met mekaar. Elkeen kry ’n beurt om die “juffrou” te wees en hul “kinders” te leer en vraestelle op te stel. Hier sal ’n swartbord handig te pas kom.
  • Lees vir die kinders ’n interessante artikel op Maroela Media en vra dan vrae daaroor ná die tyd en bespreek dit saam.
  • Laat jou kind ’n briefie skryf en wys hulle hoe om ’n e-pos te stuur.
  • Bak saam koekies, beskuit of ander langlewe-snoepigheid wat sommer die koskaste kan opvul vir die volgende paar maande. Verdubbel die resepte ’n paar maal en laat die kinders self die somme maak om die resepte aan te pas vir ’n groter baksel.

Vrye tyd

  • Probeer om die kinders se TV- en skermtyd te beperk na ’n spesifieke tydperk elke dag. Laat hulle, byvoorbeeld, slegs een fliek per dag kyk en slegs een uur lank ’n rekenaarspeletjie speel. Deesdae is daar oulike aanlyn speletjies waar kinders virtueel met mekaar kan speel en só steeds “sosiaal” kan wees en kontak met hul vriende kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.