Liewe Swanger-ek

Argieffoto (Foto: tasha, Pixabay)

Liewe Swanger-ek

Om swanger te wees, is nie maklik nie. Alle vroue ervaar nie swangerskap dieselfde nie en dus moet jy nie jouself vergelyk met ander nie. Hulle mag ander probleme hê waarvan jy nie eens weet nie.

Soos ʼn vriendin jou herinner het: “Wees sag met jouself in hierdie tyd. Jou liggaam is ʼn ‘huis’ vir iemand. ʼn Wonderwerkie is besig om te groei onder jou hart. Maar as gevolg hiervan, gaan jou liggaam heelmoontlik nie haar ‘normale’ self wees nie.”

Daar is egter ʼn groot kans dat jy die volgende simptome in die volgende nege maande sal ervaar en dis oukei. Alles gaan natuurlik verby – die motto van ʼn moeder. Gee dit net tyd.

Aan die begin mag jy soms so naar wees dat jy nie eens sal kan gaan inkopies doen vir aandete nie. Glo my, jy sal dit weer eendag geniet om tussen Woolworths of Pick n Pay se kosrakke rond te loop. Gelukkig gaan die gevoel, vir die gemiddelde vrou, verby tussen 13 en 15 weke. Ek haal my hoed af vir enige vrou wat langer met hierdie gevoel moet worstel …

Vir dieselfde tydperk gaan jy elke oggend uit die bed opstaan en reeds voel of jy ʼn marathon gehardloop het. By die werk gaan jou oë heel moontlik gereeld voel of dit enige oomblik wil toe val en jy sal dit sterk oorweeg om in die motor, of selfs die badkamer, ʼn uiltjie te gaan knip. Die marathon verander in ʼn ultramarathon teen die tyd wat jy by die huis kom, na werk … en jy sal gewoonlik al halfses in die bed wees.

In hierdie tyd is dit maklik om selfs in depressie te verval net omdat alles groot stres op jou liggaam en siel sit. Maar herinner jouself dat dit ook verby sal gaan en doen dinge wat vir jou lekker is. As jy voel die gat waarin jy wegsak raak te diep, moenie skaam wees om hulp te gaan soek nie. Hormone kan snaakse speletjies speel met jou gemoed.

Hierdie is die mees uitdagende tyd van die swangerskap maar dis ook die tyd wat mens die wonderlike tyding vir jouself moet hou, omdat dit ook die sensitiefste tyd van die fetus is. Vertel egter die nuus vir jou beste vriende en familie. Hulle sal jou deur enige iets, of dit nou goeie of slegte nuus is, kan ondersteun.

Ongelukkig is die sleg-voel, hormone en geheimhouding nie ʼn goeie kombinasie nie en kan jy dikwels dit op die persoon naaste aan jou, jou man, uithaal. Wees eerlik met hom oor wat jy ervaar. Hy sal verstaan en heel moontlik nie omgee om jou voete te vryf of bietjie sy kookvernuf in die kombuis te toets nie. Herinner jouself dat die tweede trimester gewoonlik die maklikste is. Party dae kan jy selfs vergeet jy is swanger.

Bly aan die oefen as jou liggaam dit toelaat. Dit is goed vir jou gemoedstoestand en hou jou liggaam gesond. Gaan doen die dinge waarvan jy en jou man hou om te doen terwyl julle nog kan (behalwe as jy reeds ʼn kleuter of twee by die huis het …)

Dit is die tyd wat mense gaan begin wonder of jy dalk net een te veel pizza geëet het maar gelukkig kan jy uiteindelik vir almal vertel: Ek is swanger!

Ongelukkig gaan die gewone swangerskap-dinge heel moontlik hulle opwagting begin maak: meestal behels dit iets soos rugpyn, beenpyn, dikwels sooibrand, konstipasie en opgeswelde voete en hande.
Dis egter ook die wonderlike tyd waar julle kan uitvind of dit ʼn boetie of sussie gaan wees. Dit lei natuurlik na die begin van die groot KOOP.

Soos ʼn mustang (wilde perd) wat altyd water sal drink as hy dit sien, net vir ingeval hy vir ʼn ruk daarsonder sal moet gaan, sal jy ook badkamer toe gaan elke keer as jy een sien, meestal is dit wel omdat dit voel as jy nie nou gaan nie sal dit dalk te laat wees. En ja, dit is moontlik dat dit elke 15 minute gaan wees. Hierdie tyd verkort na 10 minute intervalle sodra die derde trimester begin.

Die derde trimester is ʼn tyd van opgewondenheid omdat jy al nader kom aan die geboortedag van julle bondeltjie vreugde, maar dit kan gepaard gaan met meer intense pyne, meer ongemak, kleiner maaltye omdat daar nie meer baie plek is nie en soms selfs ongelukkig aambeie.

Jou man se slakkepas stap, kan in die laaste paar weke te vinnig raak vir jou, maar dis normaal. Dus is dit moontlik dat ʼn uitstappie dubbel of trippel die tyd kan neem wat dit gewoonlik sou.

Deurentyd gaan jou hormone jou maar op ʼn tuimeltrein-rit vat. Aanvaar dit en herinner jou man om baie geduldig met jou te wees in hierdie 40 weke.

Jy vergeet egter baie vinnig al hierdie dinge omdat daardie babatjie soveel vreugde saam met hom/haar bring. En wie weet, miskien doen jy dit alles sommer gou-gou weer …

Baie liefde (want ek weet hoe baie jy dit in die tyd nodig het)
Toekomstige swanger-ek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Nettie ·

DANKIE TOG!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Ek het besluit om myself dit te bespaar. Nee wat, laat ander vrouens maar naar wees, opgooi, opswel, gekonstipeer raak, vet raak, hoë bloeddruk kry …… en dan deur 36 uur se sweet en kraam gaan, om daarna vir ten minste die eerste 6 maande nie een ordentlike nag se slaap te kry nie.

Elize C ·

Nettie, dit klink of jy jouself probeer oortuig….. :-) Ek is ‘n “ou-vrou” van 57, maar as ek enigsins kon, sou ek steeds enige tyd ‘n baba dra vir iemand anders, selfs deur die normale geboorteproses gaan. (Ek het met een kind normale geboorte gehad, met die 2de een ‘n tang-verlossing, en met die 3de een ‘n epiduraal wat skeefgeloop het en uitgedraai het op ‘n keisersnit onder volle verdowing.) Dit was vir my wonderbaarlik om daardie klein lewetjie binne my te voel beweeg, selfs met hom/haar te ‘speel’, baba steek die voetjie in my ribbes, ek klap liggies daarop en die voetjie trek terug. Lê ek in die bad, swem baba net so lustig saam en maak my maag die vreemdste vorms! Dit was alles fantastiese ervarings, ek ruil dit vir niks, en sou dit weer en weer doen as ek kon. En ja, die oomblik as jy daardie bondeltjie in jou arms hou en die ogies kyk met soveel vertroue in joune, vergeet jy van enige ongemak wat daar ooit was. Maar ja, ek wil hulle nie nou meer grootmaak nie, ek sal hulle dra, daarna moet die regte ma en pa hulle vat vir die grootmaak proses! LOL

MJ ·

Al die goed wat jy noem Nettie.. is soos mis voor die son as daardie baba uit sy/haar mamma se magie kom. En ook vir elke dag daarna.. En mens raak vinnig gewoond daaraan om bitter min te slaap.

Opoffer ·

Nettie dit is die grootste vreugde wat ‘n mens kan ervaar. Ek was wel naar in die eerste termyn maar daarna was dit net ‘n plesier .. en nee ek het deur geen kraamtydperk gegaan nie, hulle het hom netjies uitgehaal met’n keiser, pragtige volmaakte kind vir wie my liefde nooit sal ophou nie. Die sny kan jy vandag glad nie eers meer sien nie. Ek het deurgaans na my gewig gekyk en is nou selfs maerder as voordat ek my liefste seun gehad het. NIKS kan daarmee vergelyk nie, en as ek dit weer moet oordoen, sal ek. Dit is die grootste voorreg in die lewe om ‘n ma te kan wees.

Wilmi ·

Liewe Nettie, die “slegte” dinge van swangerskap is in ‘n oogwink vergete en die lyfie wat jou lewe vervul en vervolmaak, maak alles die moeite werd en ook soveel meer. Dis al 11 maande en in die laaste elf maande het ek nog net een aand deurgeslaap. Maar as jy daai lyfie in die oggend uit die kot haal en hy glimlaggend sy arms om jou nek gooi, maak dit nie eers saak dat jy so moeg is nie. Om ‘n Ma te wees is ‘n wonderlike voorreg.

christa ·

waar is al die baie mooi kraamdrag heen. Alles moet deesdae span.

wondere ·

Swangerskap is een van ie werld se grootste vreugdes,, jammer jy voel so daaroor maar almal is geregtig tot hul eie gevoelens.
die vet word en all daai ander dingetjies is so die moeite werd. so what dat my liggaam nie dieselle lyk nie en ek meer as n jaar laas ordentlike nagrus gehad het – ill doit all over again.

Vreugde ·

Dis die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het..My dogtertjie word nou 3 jaar oud…Niks kan daai gevoel om n mamma te wees verander nie…ek sal dit met liefde weer oor doen…

Andre ·

Jy het ‘n groot hap uit jou lewe uit as jy nie kinders het nie. Dis ‘n liefde wat jy eenvoudig net nie kan beskryf nie.

Sê maar net ·

Ja, Andre. Ons het beslis die grootste hap uit ons lewe. Sou graag weer wou swanger wees. Ek was net vir 21weke swanger. 8 jaar gelede. 8jaar verder se probeer, als al probeer, geen sukses. Maar nou slaan ek maar my oë op en aanvaar en hou aan glo en vertrou. Want by ons Vader is niks onmoontlik nie. Jy…pappa of mamma wat kla oor jou stout kind…jy wat kla jy kry nie genoeg slaap nie, jy wat kla jou kind neem jou alleentyd weg. Jy wat nie jou kind vasgordel in die motor nie. Hulle is kosbaar, hul is ‘n seën. Pas hul mooi op

Yvonne ·

Ai Nettie, gelukkig het jou ma nie so gedink nie anders was jy nie nou hier nie. Tweedens kan ek my altyd verstom aan mense wat se dat hulle nie van kinders hou nie. Onthou eens op n tyd was jy self n kind. Ek het twee van my eie en sal enige tyd weer deur alles gaan.

Bokkie Langeveldt ·

Dit is die wonderlikste ervaring maar kan soms baie oorweldigend wees. En ja ek is op 40 jariige ouderdom tans sewe maande swanger. Ek werk op hierdie staduim nog voldag. Ek het ook al baie dae gedink ek moet in die badkamer gaan sit en slaap. Want in die aande is dit ofte warm vir my om te slaap of ek is te ongemaklik met die groot pensie. En ja ek sukkel om self net na vyf in die middae my oe oop te hou. Maar glo my as boetie binne my magiebegin skop enbeweeg is dit alles die moeite werd.

PamK ·

Uitstekend geskryf! Wens ek kon so iets gelees het toe ek 19 jaar gelede vir die eerste keer swanger was. Dan het ek my swangerskappe dalk meer geniet. Maar ek het in elk geval 2 lieflikke kinders en dis waar… mens vergeet die moeilike tye van jou swangerskap die oomblik wat jpu babatjie daar is! Dankie vir die deel, Mariaan!

Denise ·

Hel Nettie jy laat dit klink of ons vrouens geboorte gee aan baba olifantjies?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.