Lindie Strydom: ‘Dis oor wie sy ma is’

Lindie Strydom se seun, Paul, hardloop voluit in sy wedloop (Foto: Lindie Strydom)

Miskien het jy ook al iemand hoor sê: “dis oor wie sy pa is” of “oor wie haar ma is” dat sy dit of dat gekry of bereik het en dan bedoel hulle gewoonlik wanneer iets vir daardie persoon baie goed uitgewerk het – in hulle oë dalk onregverdig goed uitgewerk het: “Sy pa was mos ʼn Springbok, dis hoekom hy in die eerste rugbyspan speel.” “Haar ma is ʼn aktrise – dis hoekom sy die hoofrol sing.”

Ek weet nie altyd hoe werk hierdie dinge nie, dit kan seker wees. My ouers is nie een ʼn spreker of ʼn akteur nie en hier is ek. Beteken natuurlik ook nie my kinders is noodwendig akteurs of sprekers nie. Maar ons hak so vas by die moontlike onregverdige voordeel of voorsprong, dat ons dalk nie besef of aspris ignoreer – dat hierdie stelling: “dis as gevolg van wie sy pa is”, net so waar is van die kind wat nie uit die spreekwoordelike “regte gesin” of “bevoorregte gesin” kom nie!

Hoor gou die verskil:
– My pa was elke aand dronk, hy het my ma geslaan – dis hoekom ek so washout is.
– My pa was elke aand dronk, hy het my ma geslaan – dis hoekom ek so suksesvol is.

Vir die een persoon is sy ouerhuis en sy omstandighede, die mense wat oor sy pad gekom het en sy teleurstellings die verskoning vir wie en waar hy in die lewe is. Terwyl die ander een se ouerhuis en sy omstandighede, sy onderwysers en die boelies, die dinge waarin hy nie geslaag het nie of die goed wat hy nie kon regkry nie, juis die rede is hoekom hy uiteindelik die hoogste sport bereik het!

Ek dink niks in die lewe is ʼn 100% voordeel of ʼn 100% nadeel nie! Dinge wat net altyd reg loop kan mens eintlik lui of arrogant maak net soveel as wat dinge wat altyd verkeerd loop ons kan sterk maak. Die sleutel vir my is daardie woordjie “kan” en ons keuse van hoe ons reageer – tot versterking en verdieping van ons menswees of tot versterking van ons verdediging van ons reeds baie goed ingesemente verskonings?

Miskien het jy ook onlangs die video op Facebook gesien waar jy vir elke voorreg in jou lewe ʼn tree vorentoe kon gee voor die resies begin. Dis darem baie onregverdig, soos die lewe maar is, maar ek gaan my nie daaroor moeg maak nie! (Sien die video onderaan hierdie rubriek.)

Die Here weet waar ons elkeen weggespring het en aan die einde van ons lewe gaan ons antwoord aan Hom en Sy woorde in Luk.12:48 “Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

Mag ons met rede eerder as verskoning leef – juis oor wie ons Hemelse Pa is – en mag ons in dankbaarheid, voluit die wedloop van die lewe hardloop ongeag waar ons weggespring het!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.