Lindie Strydom – ʼn Brief vir my kinders in die eksamentyd

Argieffoto (Foto: Pixabay)

My liewe kind

Die punt van leer is soveel meer as die punt op jou rapport.

Dis om jou wonderwerk-brein optimaal te ontwikkel sodat jy uiteindelik ʼn optimale bydrae tot die wêreld en sy mense kan maak! En tog assosieer soveel van jou maats eksamentyd met angs, bekommernis en vrees… Jy probeer met alle mag en krag die inligting in jou kop instoot, maar dis asof jou eie brein jou briek. Vrees verlam terwyl vertroue ons vorentoe trek na die toekoms waarvoor ons versigtig aanmekaar geweef en op die naam geroep is en elkeen van die vakke wat voorlê, is eintlik deel van ʼn ontdekkingsreis en avontuur!

Ons tale is byvoorbeeld die beginpunt van kommunikasie en die bou van verhouding, die uitruil van idees wanneer ons redeneer en debatteer en ʼn uitlewing en uitdrukking van wie ek is. Maar Sosiale Wetenskappe laat my verstaan hoe ek as unieke mens en my klein wêreldjie inpas in ʼn veel groter wêreld met ʼn ryk geskiedenis van lank voor my geboorte. Van foute in die verlede waaruit ek kan leer vir die toekoms, maar ook fondasies wat gelê is en die geleentheid om daarop voort te bou saam met mense wat van my verskil. Verskille wat Lewensoriëntering my leer om te respekteer saam met die skep van ʼn omgewing waarin ek nie alleen Persoonlike en Sosiale Welstand geniet nie, maar ook ander ʼn ruimte gun om te kan floreer!

Natuurwetenskappe leer my om God se noukeurige skeppingswerk van nader te bekyk en die als-behalwe-toevallige detail te waardeer terwyl kuns en musiek deel is van hoe ek kleur en geur na ʼn soms smaaklose vaal wêreld bring! Wiskunde oefen probleemoplossing sodat ek kan leer hoe om boekekennis en vaardighede toe te pas in onbekende uitdagings wat die lewe se vraestel mag oplewer terwyl Tegnologie ongelooflike waarde kan toevoeg as ons dit ten goede aanwend en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe my leer hoe om skeppend, innoverend en entrepreneuries by te dra tot die ekonomie in ʼn land waarvoor ek eienaarskap aanvaar!

Mag die eksamen vir jou ʼn wonderlike ervaring wees wat julle met ʼn positiewe ingesteldheid aanpak en mag jy lekker leer en lekker skryf met die wete jy wen soveel meer in die proses as net goeie punte op jou rapport!

Liefde
Mamma

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.