Lindie Strydom: Leengoed

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

As ek iets by iemand leen, is ek amper meer versigtig as wanneer ek dit met my eie geld gekoop het en dit nou besit! Ek voel dat die toestand waarin ek dit terugbesorg, sê nogal iets van my as mens en ek wil darem nou nie hê hierdie persoon – wat ek iewers weer in die oë sal moet kyk – moet sleg van my dink nie. Dit kos my niks, die minste wat ek kan doen, is om dit op te pas!

Daar skop egter soms ʼn stukkie entitlement in wanneer mense wel vir ʼn leen-ding betaal soos met huurhuise of huurmotors …  Ek los sommer die vuil chipspapiere in die kar!  Vir daai prys sluit dit seker ʼn valet in! (Maar nee, ek eet nooit in my eie kar nie!)

Ek dink hoe jy leengoed teruggee, sê altyd iets van jou – selfs al dink jy niemand sien dit nie … En ek dink hoe mense iets leen hang af van wie dit vir hulle leen – ʼn individu met ʼn naam en ʼn gesig waarin ek weer sal moet vasloop of ʼn gesiglose huurmaatskappy wat ek betaal het vir die blote gebruik van hulle besitting en dus geregtig voel om te gebruik soos ek wil!

Ek glo die woorde van Koos du Plessis se gebed: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.” Alles! My goeters, my geld en my geleenthede, maar ook my lewe en my mense.

Verder glo ek dit is God wat dit vir my leen en Hy ken my op die naam! Dit wat ek het, is voor betaal, maar nie deur my nie! Ek gaan eendag dit wat vir my geleen is, teruggee en die toestand waarin my lewe, my gesondheid en my verhoudings is, sal nogal baie van my as mens sê – inteendeel, hoe ek dit wat vir my geleen is, gebruik, reflekteer reeds iets van my binneste.

Dis met my kinders se verjaarsdae waar ek weer so bewus word van God wat lewe leen …  Soos ons aansit vir die kinders se gunsteling bederf-ete, sit ʼn ander mamma konstant langs die hospitaalbed waar haar kind dalk veg vir sy lewe!

Mag ek nooit vergeet: Wat ek het, is geleende goeters vir ʼn geleende tyd saam met my geleende mense. En wie ek is en wie ek word, is my dankie aan die Een wat met Sy beste betaal het vir my alles …

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leandra ·

Dit is sooooo mooi, sulke ware woorde en goeie wysheid. Dankie vir hierdie herinnering van die groot verantwoordelikheid wat aan ons toevertrou word en die gepaarde genade wat aan ons toegeken word.

Bruno Stef ·

Sulke waar woorde waarmee ek myself graag vereenselwig.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek leen nie en ek leen ook nie uit nie. Ek is ‘n geemens. Gee die ding aan die ander want as hy nie NOU geld het om te koop nie gaan hy nie volgende maand he nie. En as jy dit kan uitleen het jy dit ook nie nodig nie.

Lynette ·

Flink dink . Dit is baie waar Lindie . Ons moet ons daarmee ver eenselwig . God is so Getrou em ons moet ok wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.