Lindie Strydom – ‘Nou’s dit die volgende punt’

(Foto: Lindie Strydom)

Ek sit langs die baan by ʼn tenniswedstryd van my oudste seun en meer as een keer hoor ek ʼn ma hier langs my die woorde gebruik: “Nou’s dit die volgende punt.”

As jy dit nog nie weet nie – laerskooltennis is amper so ernstig soos die Amerikaanse Ope-eindstryd. Jy wys niks en jy sê niks. Jou seun mag nie eers in die gillende hitte sy bottel water gaan haal as hy dit dalk per ongeluk in die koelte vergeet het nie en onder geen omstandighede mag jy van die kant af inmeng as jy duidelik kan sien die bal wat die opponent as “uit” roep was eintlik in nie.

Dit vat my so oomblik om die punt van hierdie ooglopende “nou’s dit die volgende punt”-stelling te besef. Dis kodetaal vir ʼn veel langer gesprek wat hierdie ma-en-seun al moes gehad het. ʼn Briljante gesprek wat ek al intussen met my eie kinders ook gehad het. As jy die bal of die hou gemis het of die punt het nie so goed gegaan as wat jy gehoop het nie, is daar niks wat jy nou meer daaraan kan doen nie – dis verby! “Nou’s dit die volgende punt!” Nou fokus jy op dit waaraan jy wel iets kan doen – hierdie punt.

Of dit die tennishou, doel of drie, oorskop of vangskoot is wat jy gemis het, die mondeling, toets of eksamen waarin jy gevou het, die projek wat nie gewerk het nie of die moeilike gesprek wat niks gehelp het nie – as dit verby is, is dit verby en as dit geflop het, het die geflop! Ek weet dis sleg en mens voel sleg. Amper asof jy beroof is en miskien is jy. Miskien het iemand die punt of werk of geleentheid by jou gesteel, maar nou kan jy nie toelaat dat hy verder by jou steel deur jou ongelukkigheid saam met jou te sleep na die volgende aantreeplek om te dien of wegspringplek om te hardloop nie. Dan moet die “diefstal” juis stop deur die nuwe punt of projek en die volgende toets of kans of geleentheid aan te pak en aan te gryp deur weer van vooraf te probeer sonder dat die uitslag van die vorige punt ʼn invloed het op hierdie punt.

Ons almal het al ʼn paar balle in die lewe gemis, maar “nou is dit hierdie punt”!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

awsome ·

Lindie, nog nie ‘n swak foto van jou gesien of enige iets wat jy doen kon bevraagteken nie. Jy SKYN! Dankie, ☺♥ ek het hierdie VOLGENDE punt nodig gehad-wat klaar is is klaar-Lot se vrou kon dit nie beter gestel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.