Lopende skrif, is dit nog nodig?

lopende-skrif

Foto: Verskaf.

Deur Hilda Erasmus ‘n grondslagfasespesialis

Ons leef in ’n tyd van rekenaars en tegnologie. Hoekom is dit nog nodig dat ons kinders in lopende skrif leer skryf? Dit is so outyds. Is dit nie tyd om hierdie ou gewoontes eenkant toe te skuif nie?

Onderwysers en ouers is jaar in en jaar uit gefrustreerd as hul lopende skrif vir kinders moet aanleer, maar as dit steeds in die kurrikulum is, moet daar tog waarde aan wees.

Hier volg vyf redes soos aangevoer deur ’n studie wat deur Graham en Santangelo1 gedoen is oor hoekom lopende skrif belangrik is:

  1. Dit is goed vir jou brein

Waar drukskrif slegs een deel van die brein aktiveer sal lopende skrif verskillende dele van jou brein aktiveer. Dit stimuleer fyn motoriese vaardighede wat help om letters saam te voeg. So, in plaas daarvan om letters as enkele klanke te sien, begin dit groeperings in die brein vorm wat woorde as ’n geheel sien en herken.

  1. Jy sal eendag jou eie handtekening moet maak

Dit klink nou regtig nie soos ’n waardige rede nie, maar lopende skrif gee vir elke persoon ’n unieke styl. ’n Handtekening wat in jou eie unieke lopende skrif gemaak word, is baie moeiliker om na te maak as ’n handtekening wat in drukskrif geskryf word. Om jou eie handtekening in lopende skrif te maak is soos ’n klein unieke kunswerkie wat jy oor en oor kan gebruik sonder dat enige iemand ’n perfekte kopie daarvan kan maak.

  1. Jy sal ou dokumente kan lees

Daar is baie ou dokumente en manuskripte of selfs ou familiebriewe wat in lopende skrif geskryf is. As ons nie meer leer hoe om in lopende skrif te skryf nie, sal daardie dokumente hiërogliewe word wat niemand sal kan lees nie.

  1. Dit help leerders met ʼn leerprobleem

Leerders met leerprobleme (veral disleksie) ervaar dikwels baie probleme met die aanleer van syfers en klanke, veral die b- en d-klanke. In lopende skrif word hierdie letters egter op so ’n manier gevorm dat dit visueel anders lyk. Die leerder kan die lopende skrif letter met die gewone drukskrif letter vergelyk en sodoende kan baie van die probleme van omruilings opgelos word.

  1. Dit is ’n kunsvorm

Om mooi te kan skryf is ’n kunsvorm. Dit is iets wat meeste leerders maklik kan bemeester as hulle genoeg konsentreer. Vir daardie leerder wat dalk nie ’n toppresteerder in ander vakke is nie, is dit moontlik om wel goed in lopende skrif te vaar. Dit kan vir dié leerder ’n positiewe dryfveer wees om harder te werk in ander vakke ook.

Lopende skrif is beslis nog nie aan die uitsterf nie, en dit sal goed wees as ons die waarde daarvan besef sodat die aanleer daarvan vir ons sin maak. Dit is ’n vaardigheid wat handig kan wees in die toekoms.

Bron:

  1. Teaching Cursive Writing – Departement van onderwys New York

Hilda Erasmus is ’n spesialis in die grandslagfase (Gr. R tot Gr. 3) by Impaq. Impaq vorm deel van die FutureLearn-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresa ·

Dankie tog vir die puik stuk inligting – hoop baie mense lees dit! Lopende skrif is pragtig, juis omdat dit anders is as alle gedrukte vorme.
Bly jy het die punte so uitgelig waarom dit tot voordeel is om steeds behoue te bly.

Mel ·

Ek het net in die week aan lopende skrif gedink – dankie vir die artikel! My dogtertjie is 4 en ek het gehoop dat hulle steeds lopende skrif toepas in skole teen die tyd wat sy daar kom. Baie interessant en insiggewend.

DewaldS ·

Vir my het lopende skrif nog nooit sin gemaak nie. Toe ek Universiteit toe is, het my handskrif spontaan terug-gegaan na los letters (en natuurlik simbole en syfers). Vandag maak ek net my handtekening in lopende skrif en ek wonder of ek ooit lopende skrif sal kan skryf. Maar ek het geen probleem om lopende skrif te lees nie.

Veritas ·

Dewald dit maak twee van ons. Ek sukkel nog steeds om my eie lopende skrif te lees. Dit is, in vandag se dae, net ‘n onnodige ekstra las op leerlinge se skouers. Die outjies kan in plaas daarvan, van jonks af rekenaargeletterd gemaak word.

Gollie ·

pasop vir minister van onderwys sy maak dit nog verpligtend om dit stop te sit soos sy geskiedenis verpligtend gemaak het

Hendrik UAE ·

Ek kon in my lewe tot vandag nog nie mooi skryf nie.Ondanks hoevele pakslae,houe op my hand en my moeder se gedult met die uitskryf werk en oefen werk KAN EK NOG NIE MOOI SKRYF NIE.Inteendeel skryf ek mooier los skrif omdat ek dan stadiger skryf.Maar BOETA as ek haastig notas maak en neem is ek bly ek kan lopend skryf,al is dit dan net ek wat dit kan lees.

jean ·

To each his own….my liefste pa het die pragtigste lopende skrif gebruik met die vulpenne vol ink….ongelukkig is ek dankbaar vir ‘n rekenaar en die tikmasjien in die ou dae….my n’e, m’e en u’s lyk almal dieselfde en ek sukkel met drukskrif.

Wit Willem ·

My Oupa het mooi geskryf. My Pa ook en ek doen dit ook. Ek skryf nog gereeld besigheidsdokumente (kort, bygesê) net vir die lekker. Kry gereeld komplimente oor die skrif.
Gollie het ‘n punt beet met minister van onderwys.
Sodra iets werk of “lekker ” is vir ‘n sekere deel van die bevolking moet dit waai want dis mos boos.

Abe ·

Kan n mens jouself as “geletterd” beskou as jy nie lopende skrif (kursief) kan skryf nie?

Ben ·

Dit oefen ook die fyn motoriese spiere in die hand en fingers. Baie voordeelig vir ons wat deesdae met klein elektroniese toestelle moet werk en ander tegniese beroepe ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.