Luister: Só sê jonges oor loopbaankeuses

Foto: hecsbg.com

Foto: hecsbg.com

Om ʼn besluit te neem wat jou lewe radikaal gaan beïnvloed, is nooit maklik nie. Op 17 moet jy kies in watter rigting jou lewenspad gaan loop, iets wat menige jong mens onder geweldige druk plaas. Is ʼn 17-jarige gereed om só ʼn groot besluit te neem?

Liizl Miller, ʼn sielkundige van Sterrewag, Pretoria, sê dit hang van die kind se emosionele intelligensie af. “Party kinders is net vroeër gereed vir so ʼn groot besluit. Hulle weet van kleins af wat hulle eendag wil doen. Die punte werk saam en die ouers werk ook saam.”

Sy noem ook dat ondersteuning baie belangrik is. “Baie kinders het nie daai ondersteuning nie, of hulle is baie onseker oor wat hulle wil doen.” Miller wys ook daarop dat beroepe deesdae verskil met dié van vroeër jare weens die tegnologiese era. “Mens moet kyk na die neigings in die wêreld en na watter beroepe deur tegnologie oorgeneem gaan word.” Sy meen ook dat kinders soveel beter moet presteer om in ag geneem te word vir ʼn kursus wat keuring behels weens regstellende aksie in die land. “Daai druk is ongelooflik hoog op die kinders.”

Tyran Lottering (17) sê hy weet presies wat hy wil doen, maar die besluit was nie maklik nie. “Ek moes vinnig besluit oor my vakkeuses, en ek was nie heeltemal seker nie.” Tyran sê ook dat die meerderheid van sy vriende nie regtig weet wat hulle ná skool gaan doen nie. “Hulle kies maar die vakke wat die meeste deure gaan oopmaak.”

Karla Rademeyer (17) sê sy is ook nie heeltemal seker in watter rigting sy wil gaan nie. “Ek weet ek wil universiteit toe gaan.” Karla was reeds vir aanlegtoetse. Op grond van die uitslae is ʼn verskeidenheid opsies vir haar gegee, wat haar egter nie regtig met ʼn keuse gehelp het nie. Sy meen dat die onsekerheid redelik spanningsvol is. “Ek wil dadelik begin studeer, maar nie later opskop nie. Ek wil ʼn kursus begin en dit voltooi.” Karla het besluit om ʼn paar internskappe te doen, wat moontlik vir haar meer duidelikheid sal gee.

Wian Spies (16) sê hy wil regte gaan studeer, soos sy pa. Hy meen dat sy vriende ook redelik seker is oor hul toekomsplanne. “Ek dink dit gebeur maar soos jy ouer word en jouself beter leer ken. Op grond van jou vakke en die punte wat jy kry, kan jy later wel sien waarin jy goed is en wat jy wil doen.”

Kobus Snyman (18) sê hy weet wat hy wil doen, maar hy weet nie of hy dit sal kán doen nie.” Hulle laat net 20 mense per jaar in vir my keuse, en hulle kry baie aansoeke.” Kobus sê hy was redelik “gedruk” vir ’n besluit. “Ek was nogal bekommerd – die aansoeke moet einde Julie in wees.” Hy sê dat sy ouers ’n baie groot rol gespeel het. “Hulle het my nie in ’n rigting gedruk nie, maar wel ’n paar opsies gegee. As dit nie vir hulle was nie, het ek nie ’n besluit geneem nie.”

Van hierdie leerders het ook genoem dat hulle wel leiding by die skool kry, maar dat daar steeds ʼn behoefte bestaan vir meer inligting oor beroepskeuses.

As jou kind dalk onder hewige druk verkeer, besoek gerus Liizl Miller se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.