Ma-kansies is nodig om ʼn beter ma te wees

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Ek het altyd gehoor van Ma-kansies (Mom-cations) maar kon dit nooit regtig verstaan nie. My twee spruite klou aan my soos neute en as ek nie daar is nie, weet niemand wat om te doen nie…

In my kop het ek dus geglo ek is onvervangbaar in my man en kinders se lewens. Dikwels voel meeste ma’s so, want om ʼn ma te wees, is basies ʼn voltydse werk. Daar is nie rêrig tyd om weg te kom nie.

Onder dié omstandighede word ek vir werk na Club Med se nuut opgeknapte La Point aux Canonniers in Mauritius genooi. Dit was ʼn groot besluit of ek kan gaan of nie. Manlief was nie seker hoe hy dit alleen gaan kan doen met sy voltydse werk nie en ek was nie seker hoe die twee neutjies gaan reageer as ek vir ʼn paar dae nie daar is nie.

Ons het egter besluit daar is net een manier hoe ons gaan uitvind: Ons moet dit net doen! Ek het gereël dat ek vir ʼn korter tyd gaan en dat Ouma vir Manlief kom help om die kinders op te pas. Ek het ook besluit ek gaan hierdie geleentheid wat in my skoot geval het, beskou as ʼn Ma-kansie.

Dit was vir my altyd ʼn raaisel hoekom soveel ma’s dikwels sê hulle kort Ma-kansies. Miskien was ek te vasgevang in my eie besige lewe om dit te sien. Maar dit was toe ek op die lughawe sit en wag vir my vlug na Mauritius, dat die realiteit en die begrip stadig begin insink het – ek was net daar. Alleen. Met ʼn boek in my hand wat ek al lankal wou lees en uiteindelik kon begin lees. Niemand het aanhoudend vir my iets gevra nie en ek hoef nie heeltyd vir drie mense op een slag te dink nie. Ek kon net weer ék wees.

By Club Med se pragtige La Point aux Canonniers aangekom, het ek die eerste aand geslaap totdat ek die volgende oggend self wakker geword het. Iets wat letterlik nooit meer gebeur in my lewe nie. Ek het ʼn lang ontbyt geniet terwyl ek uitkyk oor die pragtige strand en see. En net gewéés… vir die eerste keer in ʼn lang ruk.

Argieffoto (Foto: BibBornem/Pixabay)

In my kop het ek gedink hierdie paar dae gaan ek net mooi niks doen nie. Daar is egter so baie goed wat ingesluit is in die Club Med ervaring, dat jy nie enigiets wil misloop op hierdie gratis ervarings nie. (Sien my artikel op 29 Januarie)

Ek was nog nooit iemand vir vreeslike watersport met vakansies nie. Ek dink ook in die verlede sou ek dit ook nooit sonder Manlief aangepak het nie. Ek het egter ewe skielik vreesloos geword. Lus vir avontuur en iets nuuts probeer.

Slaap was ewe skielik die laaste ding in my gedagtes. Ek het leer waterski en boogskiet, ek het geSUP, gesnorkel, gymklasse bygewoon en geseil. Selfs onder die water op ʼn Sub-scooter gery wat ek in die verlede nie eens aan sou dink nie. Maar wat het daartoe gelei dat ek net elke ding wat op die spyskaart by Club Med was, wou probeer?

Die nuutgevonde vryheid wat ek vir ʼn paar dae gekry het, het my dapper gemaak om nuwe dinge te probeer. Dis asof ma-wees jou dapperder maak as wat jy was voor kinders. Of miskien besef jy dat die lewe te kort is om nie nuwe dinge te probeer nie, want jou tyd is deesdae nie jou eie nie en dus moet jy elke geleentheid aangryp met albei hande.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is mal oor ma-wees en sal my kinders vir niks verruil nie, maar die realiteit is dat dinge waarvoor jy tyd gehad het in die verlede, nou minimaal is. Eie-tyd is amper ʼn bedreigde spesie.

Daar is egter ʼn paar goed wat ek op die Ma-kansie ook besef het.

Argieffoto (Foto: jill111/Pixabay)

Ek dink dit wat ek die vinnigste moes afskud, was die skuldgevoelens. As ʼn ma voel jy deurgaans skuldig as jy iets doen wat nie tot bate vir die hele gesin is nie. Ek het besef dis nonsens! As die kinders eers eendag uit die huis uit is, moet jy nog steeds met jouself kan saamleef, en as jy nie na jouself begin kyk terwyl hulle nog onder jou dak is nie, gaan daar nie veel van jou oorbly as hulle die dag hul eie paadjies begin stap nie.

Die belangrikste besef was egter dat ek eie-tyd broodnodig het. Ek kan nie ʼn goeie ma wees as ek nooit tyd vir myself het nie. Alhoewel ek hierdie keer gelukkig was om my Ma-kansie by so ʼn luukse oord deur te bring, hoef dit nie elke keer so te wees nie. Ek kan net ʼn uur of twee weg van die huis af ook gaan ontspan. Dit gaan egter oor die wegkom, waar ek weer net myself kan wees en my eie siel voed. Anders kan ek nie drie ander mense se siele help voed nie… Ek moet eie-tyd skép.

Ek het besef almal is oukei sonder my. Niemand is dood nie en niemand het honger gely nie. Die kinders was verseker meer klouerig toe ek by die huis gekom het, maar almal het my meer waardeer. Dit het ook vir Manlief en Ouma tyd gegee om meer kwaliteit-tyd met die kinders te spandeer.

Alhoewel jy so daarna smag om weg te kom, vat dit nie baie lank dat elke liewe ding wat jy doen jou na jou gesin laat verlang nie. Jy wil al hierdie fantastiese ervarings met hulle deel. Jy besef hulle maak jou ook heel en julle het mekaar nodig. Dis amper ʼn tweesnydende swaard. Aan die een kant wil jy so graag weer jou eie ding doen, maar o jinne, die verlange is erg.

Dat dit egter my die wêreld se goed gedoen het, is verseker. Ek sal dit verseker weer wil doen. Ten minste een keer ʼn jaar. Want vir ʼn kort rukkie was ek weer my ou self en ek het die ou self nodig om die nuwe self te help die uitdagings van moederskap hanteer, en die beste ma te wees wat ek moontlik kan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Inge ·

Dit is ‘n baie oulike stuk, dit is presies hoe dit is. Ek het ook so vakansie nodig, net so twee dae, want ek gaan te veel verlang!

Marina ·

Hello Mari
Ons is besig om sulke wegbreek naweke vir ma’s te beplan, en gaan binnekort begin adverteer.
Stuur vir my jou epos adres, dan hou ons jou op hoogte!

Ekke-gekke ·

Wat ñ wonderlike woord is ma-kansie!! As enkelouer is dit nóg moeiliker om dit te doen, en met enkelkind. Siblinge kan mekaar nog entertainment gee, maar as jy die enigste ander een in d huis is, is dit wel moeiliker, en met meer skuldgevoelens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.