Ma se hartroerende brief ná vierjarige aan kanker sterf

Nolan en Ruth (Foto: Facebook)

“Twee maande. Twee maande sedert ek jou in my arms vasgehou het, gehoor het hoe lief jy vir my is, sedert ek jou lippies gesoen het. Twee maande sedert ek jou kon styf vasdruk. Twee maande van absolute hel.”

Só het Ruth Scully, ʼn ma van Leonardtown in Maryland, VSA, haar smart op Facebook verwoord twee maande nadat haar vierjarige seuntjie in Februarie aan kanker oorlede is.

Scully se seun, Nolan, is in November 2015 met rhabdomyo-sarkoom gediagnoseer. Dié soort kanker groei in sagte skeletweefsel asook sagte weefsel soos spiere en vet en is besonder aggressief. Pasiënte ervaar dikwels erge hoofpyne en moegheid. Sodra die kanker versprei het, staan die pasiënt volgens kenners ʼn 25% kans op oorlewing.

Hoewel Nolan talle chemo-behandelings ontvang het en uiteindelik net sieker geword het, is hy 15 maande ná die diagnose dood.

In dié Facebook-inskrywing wat meer as ʼn miljoen keer ge-“like” is en meer as ʼn half miljoen keer gedeel is, skryf Scully oor die laaste oomblikke saam met haar seun.

Sy skryf dat dokters klein Nolan nie meer lank gegee het om te leef nie en dat die gesin derhalwe die meeste van hul tyd tuis deurgebring het. “Die aand voor sy dood het ons die hele dag na YouTube-video’s gekyk en speletjies gespeel. Hy het verduidelik hoe hy sy begrafnis wou hê en wie die kis moes dra. Hy wou onthou word as ʼn polisieman – die beroep wat hy eendag wou beoefen.

“Dit was omstreeks 21:00 op 4 Februarie. Ons het pas klaar gesels toe ek wou opstaan om vinnig te gaan stort. Ek mag hom nie vir ʼn oomblik alleen gelos het nie en moes hom altyd aanraak, maar hy het gesê dis oukei as sy oom Chris by hom gaan sit. Hy het geglimlag en ek het die badkamerdeur toegemaak.”

Scully sê volgens Chris [haar broer] het Nolan sy oë toegemaak en in ʼn diep slaap verval die oomblik toe sy die badkamerdeur agter haarself toegetrek het.

Nolan en Ruth (Foto: Facebook)

“Toe ek uit die badkamer kom, het my gesin my met trane in hul oë aangekyk. Hy was toe besig om te sterf. Later sou ons uitvind sy regterlong het ingegee en veroorsaak dat sy asemhaling uiters moeisaam geword het. Ek het in die bed saam met hom gaan klim, hom aangeraak en toe gebeur ʼn wonderwerk: Hy het sy oë oopgemaak, geglimlag en gesê: ‘Ek is lief vir jou, mamma’. Hy is daarna dood terwyl ek vir hom ‘You Are my Sunshine’ gesing het.

“My seun het soos ʼn held gesterf. Sy storie het mense reg oor die wêreld aangeraak en aangemoedig om mekaar lief te hê. Hy was ʼn vegter tot die laaste oomblik. Hy het sy familie en elkeen van sy vriende liefgehad. Soms kyk ek na wat hy in vier jaar op aarde bereik het, en ek kan nie help om te dink aan hoeveel meer hy sou kon vermag het as hy langer vir ons geleen was nie. Vandag is ek steeds bang om te stort omdat my kosbaarste besitting daardie dag in die stort van my weggevat is, maar eendag is ons weer by mekaar.”

Die gesin het intussen ʼn veldtog op die skarefinansierings-webwerf GoFundMe begin om geld in te samel vir gesinne wat geraak word deur kinders met seldsame soorte kanker.

Bron: Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dellaq ·

So so jammer oor jul verlies. Kan my nie indink die smart en pyn van ‘n kind se afsterwe nie. Sterkte vir jul pad vorentoe.

Nella ·

Mamma mag elke traantjie van verlange en seer jou hart vul met al die goeie herinneringe saam. Dit kan nie maklik wees nie.

Andrea ·

Baie jamer om te hoor van jou seuntjie . Dus hartseer maar eendag sal jy hom weer sien ,hy is op n veilige plekkie by liewe Jesus , dink aan julle met die tyd dit gaan nooit weg nie maar hy sal altyd in jou hartjie wees . Xx

Jeanette ·

O, hoe rol die trane nou ek voel daai mamma se pyn eintlik want dis soooo hartseer ek dink aan haar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.