Maak bedagsame kinders groot

(Foto: Pixabay)

Elke ouer het al te doene gehad met ʼn woede-uitbarsting of ʼn tranedal omdat jou kind nie kan kry wat hy of sy wil hê nie. Hoe voed jy jou kinders op sodat hulle eendag bedagsame volwassenes kan wees?

Elke kind word gebore met twee noodsaaklike behoeftes, skryf Amy McCready in haar boek, The “me, me, me” epidemic. Elke kind wil voel hy behoort êrens en dat sy lewe betekenis het. Wanneer jou kinders in ʼn liefdevolle huis grootword, is hulle behoefte om êrens te behoort vervul. As hulle met take in die huis help, spreek dit die behoefte aan om betekenis te hê – hulle kan trots op hulself wees as hulle help om die huis skoon te hou.

As ouer beïnvloed jy jou kind se gedrag deur die norme wat jy vir hulle voorhou. Indien jy elke keer vir jou kind lekkergoed koop as julle die winkels besoek, word dit ʼn norm en is hulle ontsteld wanneer hulle dit nié ontvang nie. As jou kind nie elke dag sy bed hoef op te maak of help met take in die huis nie, skep dit die verwagting dat dit nie sy werk is nie.

Hieronder volg ʼn paar praktiese wenke. Hierdie wenke sal nie net jou kind leer om vriendelik te wees nie, maar dit spreek ook jou kind se behoefte aan om betekenisvol te wees.

  • Skep geleenthede waar jou kind kan oefen om behulpsaam te wees. Neem saam met jou hele gesin deel aan aksies waar mense in laer sosio-ekonomiese klasse gehelp word, bv. ʼn sopkombuis. So kan hulle die wêreld waarin hulle lewe in perspektief sien. As jy dit saam met jou kinders doen, is jy vir hulle ʼn voorbeeld.
  • Vertel vir jou kinders hoe belangrik dit is om vriendelik te wees. Leer hulle om vriendelikheid te betoon aan die man by die petrolstasie of die vrou agter die toonbank. Wanneer daar dalk vertragings is, vertel vir hulle dit is omdat hulle besig is, of dat hulle dalk vroeg opgestaan het.
  • Wanneer jy vir jou kind ʼn duur geskenk koop of op ʼn uitstappie neem, koppel dit aan ʼn spesiale geleentheid, en lê klem daarop dat dit die uitsondering is. Leer hulle om dankie te sê vir die geskenke wat hulle ontvang. Betrek jou kinders deur bv. koek te bak vir iemand om dankie te sê.
  • Gee vir jou kinders verantwoordelikheid in die huis, waarvoor hulle nie betaling ontvang nie. Motiveer hulle deur te sê: “As ons almal nou saam die huis opruim, is dit skoon teen middagete.” Deur saam take in die huis aan te pak, kan dit julle band versterk.
  • Leer jou kinders om hulle emosies te beheer wanneer hulle kwaad is. Wys vir jou kind uit wanneer hy kwaad is, sodat hy die emosie kan herken. Help jou kind om te verstaan uitbarstings gaan nie die probleem oplos nie.
  • As jy saam met jou kinders televisie kyk waar voorbeelde van geweld en onbedagsaamheid voorkom, gesels met jou kinders daaroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Leer hul ook om ander mense, ou mense soos tannie nr 26 te respekteer.

Sandra ·

Ek glo nie in preek vir jou kinders nie. Ouers moet reg leef en n voorbeeld stel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.