Maak die langpad kort, slaan verveling hok

Kinders_motor_kar_reis.jpg

Foto: irishexaminer.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Jy kan nie wag om by daardie wonderlike plekkie wat jy vir die Desembervakansie bespreek het, aan te kom nie. Maar voordat jy kan ontspan en jou tone in die sand kan wikkel, is daar die eindelose ure in die kar. Saam met jou kinders. En hulle houdings, buie, bakleiery oor sitplekspasie … en die oneindige “is ons al daar’s?”!

Lang ure in die kar is onvermydelik deel van die meeste gesinsvakansies. Hier is ’n paar voorstelle as jy vanjaar se reis met ’n kar vol kinders onvergeetlik (vir die regte redes!) wil maak:

Moenie jaag nie: Nog ’n jaar het verbygevlieg en jy is uitgeput, maar die beste ding wat jy op pad na jou vakansiebestemming kan doen, is om jou tyd te vat. Kinders ervaar nie regtig tydsdruk wanneer dit by reis kom nie, en rondjaag gaan almal net verder laat stres.

Gebruik ’n régte kaart: Dis amper ondenkbaar om vandag nog ’n regte, egte padkaart te gebruik, maar dit kan baie pret wees! Laat jou kinders die roete op ’n kaart volg (hou maar jou GPS op bystand) en julle roete met ’n merkpen aandui.

Vat daai afdraai: As jy nie weet wat om te verwag nie, kan jou ontdekking jou nie teleurstel nie! Stop by die padstal, volg die bordjies tot by “Suid-Afrika se beste koeksisters” en eet by daardie vreemde klein plekkie in die middel van niks en nêrens.

Luister saam: Jou gehoor kan nêrens heen vlug nie, so gebruik die kans om jou kinders aan jou musieksmaak bloot te stel! Maar vir dié voorreg moet elkeen ’n beurt kry om DJ te speel.

Fokus: Laat jou kinders foto’s neem. Dit moedig hulle aan om hul omgewing waar te neem en op dié dinge te fokus wat hulle interesseer. Koop vir elkeen ’n weggooikamera vir die reis, of laat hulle beurte maak om ’n digitale kamera te gebruik. Jy sal verras wees oor hoe hulle die wêreld sien.

Speel saam: Ontsluit jou kinders se kreatiwiteit en laat hulle nuwe speletjies uitdink. Of julle nou moet tel hoeveel keer julle ’n sekere woord langs die pad raaklees, of variasies van kar-krieket beproef, die idee is dat almal saamspeel.

Bou bande: Sing. Vertel grappies. Vra mekaar vrae. Gebruik die tyd om werklik met jou kinders te gesels en na hulle te luister. Die kar is veral ideaal vir geselsies met ouer kinders omdat julle nie oogkontak hoef te maak nie. En dit is dikwels op daardie lang stuk pad, wanneer al die ander slaap, dat jy diep gesprekke met hulle kan deel.

Vat ’n blaaskans: Daar gaan tye wees wanneer almal net ’n bietjie rus en vrede wil hê. Onthou om ’n paar stelle oorfone en ’n toestel of twee, met flieks en speletjies gelaai, in te pak.

Die geheim vir ’n onvergeetlike reis is om kalm te bly en jou sin vir humor te behou. Dit is maklik om gefrustreerd te raak – met jou kinders, met ander motoriste, met die verkeer en met die toestand van ons paaie! Maar haal diep asem, waardeer dit wat om jou aangaan, en geniet die tyd saam met jou gesin. Herinneringe word hiervan gemaak.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.