Maak jou kind taalvaardig en skoolgereed

kind-en-ma-speel-met-abakus

Foto: Dreamstime.com

Hallo Susan

My seuntjie is nou amper twee jaar oud maar ek bekommer my reeds oor sy toekoms. Watter ouderdom is die beste om hom na ʼn kleuterskool te stuur? Hoe kies ek my kind se kleuterskool en uiteindelik sy skool? Ook, wat is die verskil tussen die kurrikulum wat tydens die grondslagfase in ʼn  private skool en ʼn staatskool aangebied word?

Claudia

Goeie dag Claudia

Ons het verlede week gesels oor die ontwikkeling van taal, konsentrasie en persepsie, en hierdie week gesels ons verder oor die ontwikkeling van geheue, logiese denke, wiskundige vaardighede, emosionele en sosiale vaardighede, sowel as die versterking van jou kind se groot en klein spiere. Ek vertrou dat die inligting vir jou sowel as ander mammas en pappas van voorskoolse kinders van waarde sal wees.

GEHEUE

Speel geheuespeletjies om jou kind se visuele en ouditiewe geheue te verbeter. Visuele geheue is die vermoë om iets te sien en te onthou. ʼn Kind met ʼn baie swak visuele geheue sal byvoorbeeld sukkel om van die bord af te skryf.

Ouditiewe geheue maak dat ons kan onthou wat ons gehoor het. ʼn Kind van twee behoort ʼn ouditiewe geheuespan van twee te hê — as jy twee syfers sê moet hy 75 persent van die tyd die syfers reg kan herhaal, ʼn kind van drie moet ʼn ouditiewe geheuespan van drie hê, en so aan.

ʼn Kind van sewe en ouer moet sewe syfers reg kan onthou. Jou kind het ʼn ouditiewe geheuespan van ses nodig om te kan leer lees.

LOGIESE DENKE

Jou kind moet logies kan dink, redeneer en afleidings kan maak. Dit sal hom help om met begrip te lees, want dan kan hy verbande raaksien tussen dit wat hy nou lees en reeds gelees of geleer het. Logiese denke is ook ʼn belangrike grondvaardigheid van wiskunde, en stel ʼn kind in staat om ontwykende antwoorde soos “ek weet nie” of “dit is te moeilik” te vermy omdat hy dieper kan delf om by die oplossing van ʼn probleem uit te kom.

  • Leer jou kind van oorsaak en gevolg.
  • Bied speelgoed wat die begrip van oorsaak en gevolg versterk.

Tel alles oral

ʼn Mens kan die vermoë om te tel as die eerste stap na wiskundige taalvaardigheid beskou. Leer jou kind so vroeg moontlik om behoorlik te tel. Begin by sy vingertjies, eers net van die een hand en later albei hande.

Vorder geleidelik na ʼn hoër getal deur ander voorwerpe te gebruik:

  • Tel die skoene in die kas.
  • Tel blomme in die tuin.
  • Tel die huise waar julle verbyry.

Soos met alles, is herhaling ononderhandelbaar.

Oefen spiere groot en klein

Die ontwikkeling van groot motoriese vaardighede verwys na die versterking en beheer van jou kind se groot spiergroepe in die arms, bene en bolyf. Groot motoriese aktiwiteite stel ons in staat om te loop, hardloop, spring en klim. Fyn motoriese vaardighede verwys na die mate van beheer oor die spiere wat klein en fyn bewegings van die hande, vingers en gewrigte reguleer.

Algemene spierkrag van die liggaam word tot ʼn groot mate bepaal deur die krag van die rugspiere. Jy moet jou kind reeds vroeg in sy lewe geleenthede gee om sy spiere, veral sy rugspiere, te oefen. Dit kan van ʼn maand of twee oud al begin.

Met ʼn baie eenvoudige prosedure kan jy die grondslag lê vir jou kind om later goeie koördinasie en sterk spiere te hê. Vanaf ongeveer ʼn maandmoet jou baba toegelaat word om rukkies op sy magie te lê. Jou baba sal sy kop probeer oplig en dit sal help om sterk rugspiere te ontwikkel. Deur die baba gereeld vir rukkies in hierdie posisie te laat sal hom ook aanmoedig om te probeer vorentoe beweeg, wat uiteindelik tot kruip sal lei.

Begin ook vroeg om jou baba se fyn motoriese vaardighede te ontwikkel deur sy kneukels te streel sodat hy sy handjie oopmaak. Plaas dan ʼn klein, veilige speelding in die handjie.

Die ontwikkeling van jou kind se fyn motoriese vaardighede is belangrik vir baie skoolaktiwiteite, sowel as die lewe in die algemeen. Dit bepaal jou kind se vermoë om self te eet, leesbaar te skryf, ʼn rekenaar te gebruik, deur ʼn boek te blaai en persoonlike take te voltooi soos om aan te trek en hom self te versorg.

Namate jou baba groei tot peuter en later kleuter kan die volgende aktiwiteite ingespan word om sy fyn motoriese vaardighede te ontwikkel:

  • Inkleur en teken
  • Met klei speel
  • Teken van eenvoudige vorms sodat jou kind dit kan naboots
  • Speletjies waar boontjiesakkies gegooi en gevang word
  • Die frommel van sagte papier met een hand tot ʼn klein balletjie
  • Met ʼn skêrtjie knip

Emosionele ontwikkeling en sosiale vaardighede

Maatjies maak, negatiewe emosies op ʼn gesonde manier wys, konflik taamlik vreedsaam hanteer, empatie toon teenoor ʼn maatjie wat seergekry het, beurt afwag, eenvoudige reëls volg en ander se geselskap geniet is eienskappe wat gesonde emosionele ontwikkeling en sosiale vaardighede beskryf.

Soos met alle vaardighede ontwikkel jong kinders hierdie vermoëns in stappies en mettertyd. Jy kan heelwat doen om hom met sy sosiaal-emosionele ontwikkeling te help.

Wees liefdevol en versorgend. Aanraking, soentjies, drukkies, heen en weer wieg, vir jou baba sing en met hom praat stuur die boodskap dat hy deur dik en dun geliefd en spesiaal is.

Wanneer jou kind sien dat jy daar is vir hom, maak nie saak of hy lag of huil, gelukkig of ongelukkig, siek of gesond is nie, beleef hy dat hy onvoorwaardelik geliefd is en dit gee hom emosionele sekuriteit.

Wees ʼn rolmodel waar dit by sosiaal aanvaarde gedrag kom. ʼn Jong kind leer geweldig baie uit sy ouers se optrede. Wanneer jou kind sien dat jy ruimhartig en hulpvaardig is, jou gevoelens deel en dank betuig teenoor ander, kry hy ʼn goeie basiese begrip van hoe ʼn mens met ander moet omgaan.

Prys jou kind wanneer hy goeie sosiale gedrag toon. Dit versterk goeie gedrag en laat jou kind goed voel oor homself. Wanneer jy jou kind goed oor homself laat voel, ontwikkel jy sy empatie en emosionele intelligensie.

Reageer op jou kind se behoeftes. Dink na oor wat dit is wat hy wil doen of hê en ondersteun hom daarin soos deur hom sy eie lepeltjie te gee wanneer hy begin wys dat hy homself wil voer.

Leer jou kind ken. ʼn Oop verhouding waarin julle “medewerkers” is sal jou kind geborge laat voel en hom emosioneel versterk.

Alles van die beste,

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit anoniem te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA honneursgraad in sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neelsie ·

Susan,
Dankie vir positiewe , opbouende rubrieke.
Dit word waardeer, selfs as grootouers.

Xa ·

Baie belangrike raad! Ek wonder nou soos ek deur kognitiewe ontwikkeling lees, is die gemiddelde ANC ondersteuner en politikus op sowat 5jarige ouderdom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.