Maak kodering verpligtend

Charlotte Fourie is ’n dosent in inligtingstegnologie by die Wolkskool. (Foto: Verskaf)

Deur Charlotte Fourie

Rekenaarwetenskap het ons wêreld oorgeneem – slegs op Apple se iStore, is daar meer as 2,2 miljoen apps beskikbaar om afgelaai te word. Daar word ook beraam dat 21% van millenniërs ongeveer 50 keer per dag een of ander app oopmaak.

Iewers is daar egter groot fout – ‘n paar maande gelede het ek uitasem en gefrustreerd voor ‘n klaskamer vol 15-jariges, wat ‘n eenvoudige program in Scratch nie kon voltooi nie, gestaan. Net daar het ek besef dat ons met ‘n generasie sit, rekenaars in die broeksak en selfs om die gewrig, waarvan nie een iewers formeel geleer het om met ‘n rekenaar te praat nie. Was dit nie vir my eie pa se gekarring in my graad 9-jaar nie, het ek nooit inligtingstegnologie as vak geneem nie en was ek Universiteit toe sonder enige blootstelling aan rekenaars en kodering. Vandag, 13 jaar later, is daar steeds van ons leerders wat skool verlaat sonder enige formele opleiding in rekenaars en kodering.

Vir lank het die veralgemening dat kodering slegs vir die Mark Zuckerbergs, Bill Gates’e en die slimste van slimstes bedoel is, hierdie nuttige vaardigheid as prioriteit in ons huise en skole vertraag. Tans is daar steeds net een vak in die kurrikulum wat kodering leer, naamlik, inligtingstegnologie en dit eers in graad 10 en vir ‘n baie klein groepie leerders in ons land. Ons sit nou op die randjie van ons stoele in afwagting vir die infasering van digitale tegnologie vir graad 8- en 9-leerders, maar dit beteken dat ‘n leerder dalk eers op 13-jarige ouderdom met kodering te doen gaan kry en ook net in sommige skole.

Visioenêre leiers in sekere skole het reeds die noodsaaklikheid van kodering en robotika as ‘n kritiese vaardigheid geïdentifiseer en nie vir die departement van onderwys gewag nie, maar sommer ekstra tyd in die skoolrooster ingeruim om alle leerders broodnodige blootstelling aan rekenaarkodering te gee.

Hadi Partovi, stigter van Code.org, noem die gebrek aan opgeleide onderwysers as die grootste struikelblok om rekenaarwetenskap in die klaskamers te kry, en sagteware-ontwikkelaars het min motivering om van die private sektor na die onderwys oor te skakel. Deesdae is daar egter soveel gratis hulpbronne op die internet beskikbaar, dat jy slegs ‘n gewillige en hardwerkende onnie benodig om kodering in jou skool te begin – ervaring behoort nie meer die bepalende faktor te wees nie, maar eerder passie.

Wat is kodering en hoekom is dit noodsaaklik in skole?

Kodering is basies ‘n taal om met rekenaars te kan praat, maar buiten vir sintaksis is daar ook probleemoplossing en die sogenaamde “rekenaardenkwyse” (computational thinking). Om soos ‘n rekenaar te kan dink, beteken kortliks dat jy groot take in kleiner dele kan verdeel, foute kan opspoor en oplos en ook alternatiewe oplossings kan ontwerp indien nodig. Hierdie denkwyse is noodsaaklik vir sukses in die digitale wêreld waarin ons leef, al word jy nie noodwendig ‘n programmeerder ná skool nie.

Cody Swann, uitvoerende hoof van die sagteware-ontwikkelingsonderneming Gunner Technology, is van mening dat die aanleer van kodering een van die beste maniere is om logika en volharding aan te leer, twee vaardighede wat, volgens hom, verlore gaan in die hedendaagse “gekonnekteerde” samelewing.

“Kodering is emosieloos. Die grondslag van kodering is reg en verkeerd. Daar is geen ruimte vir oortuigings nie,” verduidelik Swann. “Die basis van kodering is om vergelykings met vrye veranderlikes te manipuleer, wat nie toevallig die definisie van algebraïese logika is nie.”

Hy sê kodering vereis ook volharding, want maak nie saak hoe slim jy is of hoe goed jy ‘n oplossing beplan nie, dit sal amper nooit die eerste keer as jy dit probeer, werk nie.

“Kodering en geletterdheidsontwikkeling vul mekaar aan omdat hulle albei gebaseer is op ‘n struktuur van kommunikasie wat idees deel en ‘n ervaring bied,” sê opvoeder en EdTech-leier, Michael Cohen.

Kodering in die klaskamer is ook ‘n manier om die digitale kloof (digital divide) te oorbrug. Dit beteken meer as om tegnologiese toegang te verleen – dit is ‘n manier vir alle studente om tegnologie te gebruik vir kreatiewe betrokkenheid. Sonder om in die klaskamer te kan kodeer, sal baie studente in laer sosio-ekonomiese gemeenskappe die geleenthede wat dit bied, misloop.

Wonder jy steeds of hierdie veld aandag in jou skool moet geniet?

Van 7 tot 13 Desember 2020 is dit die Computer Science Education Week. Gaan lees gerus meer oor hierdie poging om rekenaarwetenskap in skole te bevorder.

  • Charlotte Fourie is ’n dosent in inligtingstegnologie by die Wolkskool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B-Man ·

Ek is baie spyt dat ek nooit rekenaarwetenskap op skool geneem het nie.

Jan ·

Jammer, maar ek kan nie met jou saamstem nie. Ek is ‘n senior programeerder by ‘n groot sagteware maatskappy. Ek kry daagliks met kode te doen wat deur mense geskryf is wat nooit moes in die beroep wees nie.

Hulle kan vir jou al die teorie aanhaal uit die boeke, maar die kode wat hulle produseer is net eenvoudig nie logies nie!

Eend Bessinger ·

Ek stem 200% saam. Toe ek op skool was, was dit ‘n ekstra vak, maar leerders moes betaal daarvoor. So ek het uitgemis. Tog het ek besef rekenaars is in my toekoms en het ‘n kort naskoolse kursus gevolg voordat ek by die Spoorweë begin werk het. Nou is dit deel van my lewe, maar daardie paar jaar op skool sou my beter voorberei het vir wat ek vandag doen: webwerwe ontwerp en internet-werk doen.

Alet ·

Ek stem nie saam met die skrywer nie. Om ‘n app te gebruik hoef jy nie kodering te kan doen nie. Dis nie almal wat in die IT veld wil spesialiseer nie so hoekom die vak op skool op kinders afdwing? Dan gaan dit soos LO wat op hulle afgedwing word en meeste kinders haat die vak met ‘n passie. As dit jou passie is go for it. Nie noodwendig ander mense se smaak nie.

Vrijburger ·

Op dieselfde tema. ‘n Kort kursus om te leer tik (spoed en ‘blind’ tik) is ook baie nuttig.

koos ·

As mens vir ‘n werksonderhoud gaan, word jy nie eens gevra of jy Excel, Word, Outlook ens. ens. kan bedryf nie, want wat soek jy andersins daar? Hulle reken dit gaan in die toekoms ook so wees i.t.v. kodering. Verder, ek is ‘n professionele geregistreerde ingenieur maar ek het ‘n dubbele vloek – wit vel en wit (gryserige) hare. Dus doen ek deesdae “los werkies” vir veel jonger swart mense in dieselfde mynmaatskappy wat my afgelê het. Finansieël is dit nog betalend maar ek vat dit teensinnig want dit is vernederend en onseker. Ek kan in Assembler (lae vlak taal) programmeer en ek het al ‘n paar mikro-prosesseerders as stokperdjie gedoen met my elektroniese agtergrond. Ek oorweeg dit tans sterk om my basiese sagteware vaardigheid verder uit te brei en te kyk of ek nie so iewers elders kan regkom nie/ iets self te doen nie.
Vir humor: (1) never trust a software engineer with a screw driver in his hand, (2) a good programmer looks both ways before crossing a one-way street.

Mallie ·

Ons moes betaal vir vakke, maar deesdae demand almak en kry alles verniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.