Maak leer pret met paaseiers

paaseiers

Foto: Annca/pixabay.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Plastiekpaaseiers bied ’n prettige manier om ’n hele klomp vaardighede te ontwikkel. Jy kan dié eiers gebruik om jou kind op ’n prettige en kreatiewe manier te help leer wanneer hy die lekkernye wat binne-in weggesteek is, opgeëet het.

Taalvaardighede

  • Leer die alfabet: Skryf ’n letter op een helfte van ’n plastiekeier, en plak ’n prentjie/plakker van ’n woord wat met daardie letter begin op die ander helfte. Meng al die helftes saam en laat jou kind dan elke prentjie by die ooreenstemmende letter pas.
  • Pas hoof- en kleinletters bymekaar: Skryf hoofletters op een helfte en kleinletters op die ander. Maak dit deurmekaar en laat jou kind dan die regte letters bymekaar pas.

Wiskundige vaardighede

  • Tel die sterre: Teken sterre op een helfte van ’n eier en skryf die getal wat die sterre verteenwoordig op die ander helfte. Meng dit en laat jou kind die sterre by die korrekte getal pas.
  • Plus en minus: Skryf ’n som op een helfte van ’n plastiekeier, en die antwoord op die ander helfte. Meng dit en laat jou kind dan die regte antwoord vir elke som bepaal.

Groot motoriese vaardighede

  • Skep ’n Paaseierjag met ’n verskil: Steek plastiekeiers in die huis of tuin weg, maar in plaas daarvan om dit met lekkernye te vul, steek instruksies vir fisiese aktiwiteite daarin weg, byvoorbeeld hop op een been, doen tien sterspronge, bons ’n bal met jou linkerhand, ensovoorts.
  • Eiergooi: Laat jou kind naby ’n mandjie of boks staan en laat hom probeer om die eiers daarin te gooi. Elke keer as hy dit regkry, moet hy ’n tree verder weg staan en weer probeer.

Fyn motoriese vaardighede

  • Pas kleure bymekaar: Pas twee helftes van verskillende kleure bymekaar om ’n eier te vorm. Vra jou kind om die eiers uitmekaar te haal en dan die regte kleure saam te pas. Die oop- en toemaak van die eiers bied goeie oefening vir die ontwikkeling van handspiere.
  • Sensoriese spel: Skep ’n sensoriese houer met sand, water, ensovoorts. Laat jou kind die plastiekeiers gebruik om te skep en giet – dit help met fyn motoriese ontwikkeling.

Kuns en wetenskap

  • Verf met eiers: Doop eierhalwes in verf en laat jou kind ’n sirkel-kunswerk skep.
  • Maak geraas: Vul plastiekeiers met rys, pasta, springmielies, ensovoorts om prettige ratels te skep. Dit help kinders om klank te verken.
  • Eksperimenteer: Plaas magnete binne-in plastiekeiers en laat jou kind daarmee speel. Jy kan ook ’n verskeidenheid items (byvoorbeeld vere, Lego-blokkies, klein klippies) binne-in die eiers plaas en dit dan in ’n emmer water laat val om te kyk watter dryf en watter sink.
  • Raai wat? Steek verskillende items (byvoorbeeld vere, Lego-blokkies, klein klippies) binne-in die eiers weg. Laat jou kind toe om ’n eier te kies, op te tel en te skud. Laat hom raai wat daarin weggesteek is.

Kinders leer die beste wanneer iets lekker is en hulle aktief daarby betrokke is. Stel jou kind aan prettige speletjies en nuwe aktiwiteite bloot sodat hy speel-speel belangrike vaardighede kan ontwikkel.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.