Maak ’n nederige kind groot

kinders_hardloop_park_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Nie elke sewejarige kind sal vir jou kan sê wat nederigheid beteken nie. Ons eerste stap wanneer ons aan ons kinders se karakter wil bou en nederigheid by hulle wil vestig, is daarom om dit vir hulle so konkreet moontlik te skets.

Voorbeelde van nederigheid wat jou jong kind sal verstaan sluit in:

  • om nooit te maak asof jy belangriker as iemand anders is nie.
  • om op die vloer te gaan sit as daar nie genoeg stoele vir almal is nie.
  • om nie vir almal te vertel dat jy ’n groot prys gewen het nie, al dink jy jy was die beste.
  • om te vra of iemand anders iets nodig het voordat jy sê wat jy nodig het.
  • om iemand anders eerste te laat kies.
  • om te luister wanneer iemand jou iets wil leer, al dink jy jy weet baie.
  • om bly te wees oor die goeie dinge wat met iemand gebeur al wou jy eintlik gehad het dit moes met jou gebeur het.
  • om te erken as jy ’n fout gemaak het en dan om vergifnis te vra.

Maak ’n nederige kind groot met praktiese voorbeelde en stories wat hulle kan verstaan

Met baie jong kinders werk stories die heel beste om ’n begrip te verduidelik. Gebruik gerus hierdie een oor nederigheid:

In ’n koning se groot koninkryk was daar ’n dorpie. In hierdie dorpie het dit baie goed gegaan met die mense omdat die koning so ’n goeie koning was. Almal het werk gehad en almal het kos gehad en almal het in mooi huise gewoon. Almal het elke dag die heel beste klere aangetrek, al het hulle dorpie net stofstrate gehad en al het hulle op donkiekarre gery. Almal in hierdie dorpie het belangrik geword. Op ’n dag het die koning besef die mense in daardie dorp is hoogmoedig. Niemand is meer nederig nie. Die mense het nie verstaan wat hy bedoel  het nie. Hulle het gevra: “Wat bedoel u met nederig? Nederig is laag en ons is nie laag nie. Ons is hoog. Ons is nie onbelangrik nie; ons is belangrik. Ons is nie arm nie, ons is ryk. En ons wil hê almal moet dit weet.”

Die koning maak toe ’n slim plan om vir hierdie mense te leer wat nederigheid is. In die nag het die koning stilletjies met ’n jas en ’n kappie in die dorpie se hoofstraat af gestap. In die middel van die hoofstraat het die koning ’n groot gat gegrawe, iets daarin gebêre, ’n klip daarop neergesit en toe huis toe gegaan.

Niemand in die dorpie het daardie nag gesien wat die koning gedoen het nie. Eers die volgende oggend het die mense agtergekom daar is groot fout. Hulle kon nie meer met hulle donkiekarre in die hoofstraat af ry nie. Daar was ’n reuseklip in hulle pad. Almal het so uit die hoogte na die klip gekyk en dan gesê: “Iemand sal seker iets hieraan moet doen!” Maar dan het hulle net verder gestap of gery.

Daar was egter een man in die dorp wat nog ’n bietjie nederigheid in hom gehad het. Hy het ’n plan gemaak. Hierdie man het ’n sloot begin grawe om die klip te kon wegrol. Hy het vol stof geword en almal het hom skeef aangekyk omdat hy op sy hande en knieë in die straat gestaan en werk het. Hulle het gedink dit was ’n groot skande. Toe die man klaar die sloot gegrawe en die klip weggerol het, raai wat kry hy in die gat waaroor die klip gerol was? ’n Sakkie. In die sakkie was nie geld soos die dorpenaars gedink het nie, maar ’n klomp papiertjies waarop geskryf staan:

“Aan jou wat nederig genoeg was om vir ander ’n klip uit die pad te rol, kom eet vanaand by my paleis.”

Onderaan hierdie boodskap was die koning se seël wat hy met sy seëlring afgedruk het. Daar was genoeg papiertjies in daardie sakkie sodat hierdie man sy lewe lank elke dag by die koning kon gaan eet.

Dit is wat nederigheid vir ons doen. Nederige mense ontvang genade van ander. Nederigheid kan vir jou kind ’n pad oopmaak, selfs tot aan die tafel van konings.

As jou kind nogtans dink hy of sy is die beste, die slimste of die sterkste, maak heel eerste seker dit is nie jy as ouer wat hierdie persepsie “voed” nie. Wys jou kind doelbewus op ander mense se gawes en prestasies. Kyk ook na die voorbeeld wat jy stel. As ons self sukkel om nederig te wees, behoort ons Jesus as ons voorbeeld te volg. Volg gerus ook hierdie wenke:

  • Woon konserte, sportbyeenkomste en kunswedstryde by waaraan jou kind nie deelneem nie. Dit sal hierdie boodskap oordra: Jy het wonderlike talente en gawes, maar ander mense het ook talente en gawes ontvang.
  • Wees versigtig dat jy nie jou kinders of ander mense verneder nie. Iemand met ’n gesonde en gebalanseerde siening van hulle waarde is minder geneig om hoogmoedig te raak as iemand wat seergemaak of afgekraak word en dit agter vals hoogmoed probeer wegsteek.
  • Verduidelik vir jou ouer kinders hierdie aanhaling: Nederigheid is nie om minder ván jouself te dink nie; dit is om minder áán jouself te dink. – CS Lewis

Uittreksel uit Kweek kinders met heel harte deur Hettie Brittz en verskaf deur Lux Verbi
Uitgegee deur Lux Verbi, 2018

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.